Maak só as jou kind verstik

Rian en Doret Botha saam met Reuben (Foto: Verskaf)

ʼn Noodsituasie kan enige tyd opduik – veral onvoorspelbare gevalle soos om te verstik. Hoewel jy nie kan keer dat iemand verstik nie, kan jy ʼn ander mens se lewe red deur die regte stappe in só ʼn situasie te volg.

Dr. Hennie Smit van die Netcare-hospitaal in Krugersdorp in Gauteng sê dit gebeur dikwels dat ouers of versorgers paniekerig raak en vries omdat hulle nie weet wat om te doen wanneer ʼn ander persoon verstik nie.

Smit sê dit is juis belangrik om in só situasie rasioneel te bly en te weet wat om te doen omdat dit ʼn mens se lewe kan red – soos in die geval van die tweejarige Reuben Botha wat onlangs na die Netcare-hospitaal gehaas is nadat ʼn voorwerp in sy lugpyp vasgesteek het. Trageale intubasie – ʼn proses waartydens ʼn buigsame plastiekpyp in die tragea geplaas word om die lugweg oop te hou – kon dié jong seun se lewe red.

“Gelukkig vir Reuben kon ons die voorwerp uit sy lugpyp verwyder nadat ons trageale intubasie op hom toegepas het. Hy is ná twee dae ontslaan en daar was geen komplikasies as gevolg van die verstikking nie,” sê hy.

Smit sê ander mense is nie altyd so gelukkig soos Reuben nie – slagoffers kom dikwels nie betyds by die hospitaal aan nie. Dit is juis daarom belangrik om te weet wat jy tuis kan doen voordat jy by ʼn hospitaal opdaag.

“ʼn Mens hoor gereeld dat iemand nie geweet het wat om in só situasie te doen nie en uiteindelik nie daarin geslaag het om ʼn lewe red of selfs om skade te voorkom nie. Dit is baie belangrik om jouself te vergewis van watter optrede jy moet volg wanneer jy in ʼn noodsituasie is waar elke oomblik tel,” sê hy.

David Stanton, hoof van Netcare911 se kliniese afdeling, sê die belangrikste in ʼn verstikkingsnoodgeval is om kalm te bly en vinnig op te tree.

“Vinnige reaksie is die belangrikste in enige verstikkingsnoodgeval. Om die blokkasie wat die verstikking veroorsaak vinnig uit die persoon se lugweg te verwyder, verminder die risiko van verdere komplikasies. Dis belangrik om te onthou om nié ʼn vreemde voorwerp, enigiets anders as kos, uit die lugweg te probeer verwyder nie omdat dit verder af in die lugpyp kan beweeg,” sê Stanton.

“Só ʼn situasie hang ook af van die persoon se ouderdom. Dit is byvoorbeeld moeiliker vir kinders om oor te dra dat hulle verstik het. Tekens van verstikking in jong kinders is onder meer dat hulle nie kan huil, hoes of praat nie. In sommige gevalle kan ʼn mens selfs helderrooi of blou word. In só situasie is die belangrik om rasioneel te dink.”

Die belangrikste om te onthou

Stanton sê dit is van kardinale belang om nooddienste te ontbied terwyl jy voortgaan om die persoon by te staan. “As die nodige stappe wat jy toepas nie werk om die lugweg weer oop te kry nie, kan die persoon sy bewussyn verloor of erge skade opdoen as gevolg van die suurstofverlies. Hoe vroeër nooddienste na die toneel ontbied word, hoe beter is die kanse van ʼn positiewe uitkoms,” sê hy.

Maak só as ʼn baba verstik

  • Lê die baba op sy magie neer met sy kop meer afdraand as die res van sy liggaam.
  • Gee dan vyf houe op die baba se rug met die doel om die voorwerp in die kind se lugweg los te laat kom.
  • As die voorwerp steeds nie uit is nie, draai die baba dan op sy rug. Plaas dan twee vingers op die baba se bors en vryf vyf keer baie hard na bo (na die kind se keel). Onthou, die doel is om die voorwerp los te laat kom, so jy moet baie drukking op die bors plaas wanneer dit doen.
  • Herhaal albei stappe en onthou om te kyk of jy die voorwerp uit die baba se keel kan trek.

Maak só as ʼn kind verstik

  • Moedig die kind aan om te hoes. Kinders is geneig om in só ʼn noodgeval paniekerig te raak en nie te hoes nie.
  • Probeer ook die sogenaamde Heimlich-maneuver: Staan of kniel agter die kind. Vou jou arms om hulle en maak ʼn vuis met een hand. Plaas jou vuis teen die kind se maag net bokant die naeltjie. Plaas jou ander hand oor jou vuis en plaas jou liggaam styf teen die kind se lyf. Druk dan vyf keer hard met jou vuis teen die kind se maag – dít is ʼn poging om die wind by die kind se lugpyp te laat probeer ontsnap wat ook die voorwerp in die lugpyp sal verwyder. Kyk deurentyd of jy die voorwerp in die kind se keel kan sien. As jy dit kan sien, trek dit uit.

Botha se geval is een van vele merkwaardige stories van die Netcare -hospitaal in Krugersdorp. Vir meer inligting, besoek dié hospitaal se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Luister ·

Moenie dink ek is mal nie, maar ek het al gewonder: As ‘n voorwerp, of kos, regtig erg in iemand se keel vassit, en daar is geen mediese hulp naby nie; of mens miskien ‘n gaatjie in die persoon se lugpyp moet maak. (Met ‘n mes). Dit kqn dalk ‘n lewe red.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.