Maak vir jou kleinding ʼn tafelhuisie vir reëndae

Foto: Verskaf

Soms kan dit nogal ʼn kopkrapper wees om vir kinders iets sinvols te gee wat hulle nie reeds het nie en waarmee hulle nie verveeld gaan wees ná die eerste week nie.

Winkelspeelgoed word baie vinnig eenkant toe geskuif, veral wanneer die speelding nie ʼn verbeeldingselement bevat nie. Kinders wil graag weet dat hulle in ʼn mate in beheer is wanneer hulle speel. Daarom is ʼn huisie – of dit nou ʼn pophuis, ʼn boomhuis, ʼn tentjie of ʼn kombershuis is – altyd ʼn treffer. Die oomblik wanneer ʼn kind in sy eie huisie is, lê hulle hul eie reëls neer, besluit hulle self waar moet watter vertrekke kom en mag hulle self besluit hoe alles gerangskik word. Huis-huis speel is vir enige kind ʼn wonderwêreld van verbeelding en kreatiwiteit.

Dit is nie net dogtertjies wat graag in ʼn huisie speel nie. Seuntjies kan net so lekker ʼn ruimte in ʼn speelhuisie skep en hulself daar uitleef. Met seuntjies is dit gewoonlik ruimtes soos ʼn plaas, skip of ruimtetuig wat die verbeelding aangryp.

Die tafelhuisies op die foto’s is almal gemaak deur vier susters, van links voor Ericka Louw, Wilna Louw en Elsa Smith, en agter Nicola Kemp. (Foto: Verskaf)

Ongelukkig het baie van ons deesdae nie plek vir ʼn pophuis in die tuin waar boeta of sussie in ʼn verbeeldingswêreld kan ontsnap nie. Maar die goeie nuus is dat die meeste van ons darem nog tafels het, wat maklik as ʼn huisie aangewend kan word.

Indien jy self knap is met ʼn naaldwerkmasjien, kan jy in ʼn japtrap self ʼn tafelhuisie aan mekaar stik. Gebruik sommer ou effekleur lakens of gordyne. Die belangrikste is dat jy die grootte van jou tafel meet, en die “dak” of bokant van die tafelhuisie presies die regte grootte maak, sodat dit netjies oor jou tafel pas. Die kante word dan vasgewerk volgens die hoogte van jou tafel, en verder kan jy knip, plak en mooimaak na goeddunke. Die kinders kan sommer help, al kom dit krom en skeef uit! Gebruik vilt of ander materiaal wat nie rafel nie, en knip versierings uit wat jy sommer met materiaalgom op die huisie kan vasplak.

Die voordeel van hierdie tafelhuisie is dat dit nie, soos wanneer die kinders komberse en handdoeke inspan, slordig lyk en uitmekaar val wanneer hulle in- en uitklim nie, en dit kan ook maklik gebêre word.

As jy egter net ʼn naald en gare in jou besit het vir noodsituasies, kan jy bestellings vir oulike tafelhuisies soos dié op die foto’s plaas by [email protected]. Jy gee slegs die grootte van jou tafel en die tema van jou keuse sodat jou kleinding se tafelhuisie verfraai kan word volgens hul eie unieke persoonlikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.