Mag ons met sagter oë na onderwysers kyk

Liezel van Soelen gee ’n blik op onderwysers se ‘nuwe normaal’ by die skool. (Foto: Verskaf.)

Deur Liezel van Soelen, ʼn onderwyser aan ʼn laerskool in Kimberley, Noord-Kaap.

Dit is vandag die eerste dag vir die gr. 3’s om terug te kom skool toe ná die afsonderingsperiode. Ek en ʼn ander juffrou is op speelgronddiens om seker te maak dat hulle hul maskers ophou en nie nader as 2 meter aan mekaar kom nie. Daar is strepe geplak op die speelterrein waar hulle aantree en stuk-stuk kom die klein lyfies om die hoek van die saal aangestap – ek sien heel eerste die maskers raak.

Die meeste het maskers met die skool se naam op. Dan is daar maskers met blokkies, prentjies en groot, verspotte glimlagte wat glad nie by die bang ogies pas wat bo dié masker uitsteek nie. Elkeen gaan staan op ’n streep al is dit nog meer as ’n halfuur voor die skoolklok moet lui. “Haal af jou tas liefie. Jy hoef nie die hele tyd so met hom op jou rug te staan en wag vir die klok om te lui nie,” sê ek in my juffrou-stem onder my masker en my bril wasem toe. Versigtig word tasse en kossakkies neergesit op die strepe. “Social distancing!” skree een vir sy maatjie wat volgens hom nie 2 m van hom af is nie en hy hou ʼn handjie uit wat “stop” wys. Dit lyk of hy bonatuurlike krag het wat uit sy hand skiet om te keer dat die maatjie kan nader kom. Soos die president, groet die seuns mekaar met die elmboog of ’n voet-touch.

Ek lag, maar my hart huil. Hierdie “nuwe normaal” is so absoluut NIE normaal nie. Daar kom ’n maer lyfie met ’n bolla en ʼn tuisgemaakte linne-masker aangestap. Stadig, kyk, weer kyk en stop-stop. Sy gaan sit ver van almal, alleen en eenkant op ’n sementbankie. Sy kyk na die maats wat op die strepe staan. “Hallo!” roep ek hard onder my masker sodat sy my kan hoor. ’n Handjie waai vir my. Geen stemmetjie kom onder die masker uit nie. Verskrikte bruin bokkieogies steek bo die masker uit.

Só kom hulle aan. Een seuntjie het baie selfvertroue en organiseer almal soos ’n verkeersbeampte. Nog enetjie se bril is net so toe gewasem soos myne en ek dink: “Ek voel jou pyn my kind.”

Is hulle opgewonde om skool toe te kom? Ja beslis. Is daar ’n stuk bang saam? Ja beslis, maar ek twyfel baie sterk of hulle dit ooit sal erken teenoor my of mamma by die huis.

Ek ken ná 27 jaar se skoolhou die tekens van ’n gespanne kinderlyfie. Die klok lui en die bolla-lyfie kom na my toe: “Juffrou ek is bang. Ek weet nie op watter streep om te staan nie.” ALLES in my wil net op my knieë voor haar gaan, haar vasdruk en sê: “Moenie bang wees nie my engel, alles sal oukei wees,” maar ek mag nie aan haar raak nie.

Een dogtertjie ruk haar handreiniger uit en vryf haar hande verwoed teen mekaar. Nog twee maatjies volg dadelik haar voorbeeld. Ek kan nie help om te wonder hoeveel van hulle het ’n ekstra masker in hulle tas nie. My gedagte word bevestig deur ’n seun wat by die asdrom staan.

Dit is die spietkop. “Whats wrong love?” vra ek en my bril wasem weer toe. “It’s my mask. It fell into the dustbin,” antwoord hy. “How is that possible?” hoor ek myself vra. Hy is net ’n dowwe figuurtjie deur my toegewasemde bril. “I accidently threw it into the dustbin with my tissue.” I rest my case, dink ek.

Mamma, ek verstaan dat dit vir jou baie moeilik was om jou kind vir amper vier maande by die huis te hê. Ek verstaan dat jy behoorlik keelvol is vir sukkel omdat hy nie vir jou wil luister as jy probeer verduidelik nie. Ek hoor die stemmetjie wat sê “Dis nie hoe my juffrou ons geleer het nie!” Ek beleef die vloermoere en trane wat volg en jou geduld-damwal wat breek. Ek voel jammer vir jou, regtig. Maar my hart breek meer vir jou kind wat na sy juffrou, maatjies en skool verlang. Ek dink die kinders kry die swaarste.

Ek lees die bitsige aanmerkings wat mense op sosiale media skryf oor onderwysers en skole. Ek voel hoe die woede opstoot vanuit my binneste tot in my keel terwyl ek lees. Jou woorde maak my woedend, maar meer as die woede maak jou woorde my seer!

As onderwysers dan so sleg is, neem ek aan jy het jouself “gehomeschool” van gr. 1 tot matriek sonder enige onderwyser wat ’n vingerafdruk op jou lewe gelos het? Jy het met ander woorde jouself leer lees en skryf, rugby en netbal speel en jy het jouself gedurende vakansies op sporttoere geneem?

Jy het vir jouself rapporte geskryf waarop oulike plakkers geplak is om dit mooi te maak en vir jouself boodskappe geskryf soos “Ek is so trots op jou! Dankie vir jou harde werk! Jy is ‘n wenner en ek glo in jou! Moet nooit ophou droom nie! Jy is ‘n groot, blink ster en ek is baie lief vir jou!”

Liezel van Soelen sê skoolgee is beslis nie net nog ‘n werk nie, veral nie nou met die Covid-19-pandemie nie. (Foto: Verskaf.)

Kan ek vir jou iets vertel? Ek werk nog steeds in hierdie tyd en gee my alles om te sorg dat jou kind steeds werk het sodat hy of sy nie agter raak nie. Ek moet planne maak om al die werk gedoen te kry in ’n belaglike kort tyd wat die onderwysdepartement vereis. Dit voel of ek nou ’n nommer 9-voet in ’n nommer 3-skoen moet maak pas!

Ek soek gepaste en lekker werkkaarte sodat jou kind nie verveeld en moedeloos sal word nie. Ek gebruik my eie data om werk te soek, te tik, te skandeer en in PDF-formaat te sit om dit so maklik as moontlik vir jou te maak om jou kind by die huis te help. My eie gesin moet maar net eenvoudig verstaan dat ek besig is en nie nou tyd het vir hulle nie.

Ek tik memo’s en stuur dit uit na ons klas se WhatsApp-groepie. Kry ek ’n dankie? Miskien. Eintlik nooit nie, maar dis oukei. Ek weet jy gaan sê dis my werk en ek word mos betaal om dit te doen.

Wat hoor ek wel? Ouers wat ontevrede is omdat die werk wat ons uitstuur te veel data vat. Ouers wat sê hulle wil video’s van die werk hê. Ouers wat ons skool met ander skole vergelyk.

Tog fokus ek eerder op jou kind se gesiggie in my leë klaskamer. Dit gee my moed om my trane af te vee en harder te probeer.

Al wat ek vra is dat julle met sagter oë na ons onderwysers sal kyk. Dat julle sal besef ons is ook maar net mens. Ons het ook vrese en geliefdes by die huis aan wie ons die virus kan oordra. Dat ons ook bang is ons kry die virus en word baie siek. Ek dink dis maklik om te sê Covid-19 word opgeblaas en oordryf, tot jyself of een van jou hartsmense dit kry.

Ek het nie vir vier jaar studeer om vir ‘n klas vol dooie banke skool te gee nie. Ek het nie duisende rande oor 27 jaar uit my eie sak spandeer om my klas te verf, mooi te maak, ’n mat en boeke te koop en plakkate op te sit vir dooie banke nie. Ek verlang met alles in my na my klaskiddies se gesiggies, gelag en geraas en my hart pyn as ek in my leë klas staan en die stilte op my skree. Die meeste van alles mis ek hulle drukkies en glimlagte…

Ek weet die Here het my geroep om ʼn juffrou te wees. Ek is lief vir kinders. Skoolhou is nie vir my net ʼn werk nie. Dit is my passie. En weet jy, meneer of mevrou, korona het ook dít van my kom steel. Hou asseblief op om te maak of die skole se oop- en toemaak my skuld is. Kom loop in my skoene. Kom loop wérklik in my skoene – net vir een dag, dan praat ons weer.

Ek hoop jy kyk ná hierdie brief met sagter oë na my as onderwyser. As jy stilstaan en baie mooi kyk, sal jy my oë bo my masker sien uitsteek – ook vol bang en seer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Ek stem saam. Hier is dit bewoord van ‘n vriendin-onderwyseres van my Ek is net ‘n juffrou. ‘n Doodgewone Juffrou. Die gewone juffrou wat elke oomblik van lockdown omgewens het, sodat ek weer in my klas kan staan en die kinders voor my kan sien. Ek is die juffrou wat kinders Maandag ontvang het met ‘n brawe glimlag, maar ‘n broek wat bewe, want ekself is onseker en bang. Maar ek staan regop, open en probeer die kinders gerusstel tussen al die “nuwe normaal” deur. Ons begin werk (al voel dit asof hierdie doodgewone juffrou skielik baie ander grade moes… Lees meer »

Snowball

Dankie vir elke onderwyser wat hulle werk en roeping met soveel liefde en oortuiging beoefen. Ons wat weet, kyk nie net met sagte oë nie, maar met sagte harte na julle!

Lydia

Daar is 1000de ongelooflike, wonderlike, onverbangbare onderwysers/onderwyseresse daar buite en 1000de skole wat werklik uit hul pad gegaan het om ouers en kinders te help deur hierdie tyd, maar ek moet ongelukkig se dat ons skool ons erg teleurgestel het. Ons is verskeie ouers wat met eenvoudige, voorstelle gekom het, wat ander skole doen, om die kinders en ouers te help, maar elke keer was alles net afgeskiet. Dankie vir die onderwysers/onderwyseresse en skole wat die kinders en ouers in hierdie tyd bygestaan en gehelp het.

Lorayne

Ek lees hiedie berig met trane wat oor my wange rol . . . en ek sê dankie God, dat ek hierdie dinge kan raaksien, dankie dat ek die blydskap in my kind se stem kan hoor wanneer hy van sy Juffouens en Menere praat. Ek is ‘n bevoorregte Ouma wat my Kleinseun versorg. ALLES wat hom behels, is vir my belangrik, maar die belangrikste is almal wat ‘n positiewe verskil in sy lewe maak! Met Hart, Siel en Gees, sê ek dankie aan al ons pragtige Onnies! Ons is lief vir julle

Adriana

Ek het baie simpatie met onderwysers en ek verstaan waardeer julle ook gaan, dit is nie maklik nie, niks is meer dieselfde, dis nie normaal nie.Ek werk by ñ kleuterskool en vir my is dit ongelooflik moeilik om nie aan my kinderstjies te raak, hulle ñ drukkie te gee en te troos en hul op te tel nie. Ek bid elke aand dat hierdie verby gaan en ons weer terug na normaal gaan en ek my kinders weer kan druk, want dis wat ñ kindjie nodig het liefde.