Mag(tag)-stryd

magstryd

Hettie Brittz bespiegel tong in die kies soos Freud van ouds oor waar iets dalk in die kinderjare skeefgeloop het wanneer volwassenes nie verby die kleutermantra “dis myne!” kan vorder nie. Foto: Parentclub.ganzworld.com

Iemand sê onlangs dit lyk vir haar asof daar oral magstryde heers, en sy noem sommer so ’n paar terreine – onder meer Noordwes Universiteit en die parlement. Ek het nie heeltemal verstaan nie, tot ek onlangs die koerant deurblaai en letterlik van die voorbladsake oor ons president en Nkandla (praat van ’n magstryd, of dalk ’n magspel?) tot by die twee boksers in die sportblaaie wat om die ligswaargewigtitel gaan meeding net van stryd lees. Vuiste swaai, letterlik en figuurlik.

Tong in die kies wil ek nou soos Freud van ouds bespiegel oor waar iets dalk in die kinderjare skeefgeloop het wanneer volwassenes, soos diegene hierbo genoem, nie verby die kleutermantra “dis myne!” kan vorder nie. Daarmee praat ek nou nie politiek of boks nie. Ek praat maar net eintlik ouerskap. Van die res weet ek te min.

Slim mense soos Erik Eriksson vertel ons dat kinders in hul babadae van geboorte tot 18 maande vertroue ontwikkel op grond van die ouers se versorgende teenwoordigheid en koestering, of natuurlik wanhoop wanneer hierdie noodsaaklike bewyse van liefde en sorg afwesig is. Hierdie fase lê die fondament vir die tweede proses – die ontwikkeling van outonomiteit (selfstandigheid). Dit beteken darem nou nie dat peuters en kleuters tussen 18 maande en drie jaar ooit outonoom of onafhanklik kan (oor)leef nie. Dit beteken bloot dat hulle ontdek hulle begin ’n “sal self!” en “los, myne!” ontwikkel. Hulle ontgin aktief die grense tussen hul eie wil en ander s’n.

Wanneer jong kleuters iets self probeer regkry en daarin slaag, ontwikkel outonomiteit en ’n selfbeeld gegrond op “ek kan self!”. Wanneer hulle iets nie regkry nie, ontwikkel skaamte en twyfel. Dit lei nogal tot moeilike kleuteruitbarstings.

Hier begin ons raakpunte sien. Oftewel, ek gewaar dit. En ek wonder of die “self probeer, maar nie slaag nie” vir sommige ’n selfbeeldslag toegedien het wat nou woedend oorkook?

Kan dit wees dat sommige magsbehepte volwassenes in hierdie twee fases van hul kindertyd leemtes beleef het? Het verwaarlosing tot wanhoop en ’n wantroue in die lewe gelei wat hierdie individue baie hard op oorlewing laat veg – harder as iemand wat van babadae af beleef het dat hulle wel ’n plekkie in die son het? Of, sou die ouers van hierdie mense dalk een van die twee klassieke foute tydens die outonomiefase gemaak het, naamlik enersyds te veel beheer in ʼn peuter se handjies (waarvoor die kleinding glad nie gereed is nie), of andersyds sulke streng onderdrukking van elke poging om self iets te vermag dat die kleuter soveel skaamte en twyfel beleef dat hy hom die res van sy lewe oral bekwaam moet probeer bewys?

Soms lyk dit regtig vir my so. Daar is gesprekke wat herinner aan sandputonderonsies. Ja, spierbultery. “My pa is sterker as jou pa.”

Wat sou die res van die samelewing kon doen om diegene wat as’t ware hier vashaak te help aanbeweeg en volwasse word? As Eriksson die waarheid beet het, moet die volgende fase ingelei word. Dis die fase waartydens inisiatief teenoor minderwaardigheid ontwikkel. Ons land gee die unieke geleentheid hiervoor deurdat daar soveel tameletjies is wat opgelos moet word dat daar meer as genoeg ruimte vir inisiatief is. Wie regtig vir ’n oomblik verby eiebelang kan kyk en oplossings in plaas van omkoopplanne bedink, kan dalk iets wonderliks regkry en vir altyd sy minderwaardigheid laat vaar. Maar Eriksson beweer ook dat kleuters nie na ’n volgende fase kan beweeg sonder om die voriges te voltooi nie …

Kan ’n baba wat mishandel of verwaarloos is ooit daardie kinderlike vertroue en salige sekuriteit aan sy ouer se bors herwin? Daardie vertroue wat hom hoop gee – hoop wat uiteindelik maak dat hy in sy eie en ander se toekoms kan glo en die magstryd kan ontgroei? Ek hoop so. Ek bid so. Ek vrees as dit nie kan nie, gaan ons eers ’n geslag van mense van karakter sien wanneer ’n hele geslag kinders gekoester en gelief grootgemaak is.

Die magstryd-kultuur is dus dalk ons eie maaksel. Dit is dalk die simptoom van ons versuim om eers die middernagbottel en wiegende moederarms te gee, en dan die baie duidelike boodskap: “Nie alles is joune nie. Jy kan nie dadelik kry wat jy begeer nie. As jy my met jou vuisies takel, kry jy niks nie.”

Ek praat nie nou politiek of boks nie. Ek praat net ouerskap.

Hettie Brittz

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Leendert van Oostrum ·

Hie…..hie…..hie…..

‘n Onwikkelingspsigologiese politieke ontleding – skerp!

Nou wonder ek wat die Freudiaanse verklaring sal wees van die feit dat Maroela Media se rekenaarsensuur so politiek korrek is dat mens nie eens die woord “verskaf” -fer volgens die normale ortografie mag skryf nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.