Maklike maniere om ‘groen’ kinders te kweek

tuin_tuingereedskap.jpg

Foto: floragrubb.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Dit hoef nie duur of ingewikkeld te wees om jou kind meer oor herwinning, waterbewaring en respek vir die natuur te leer nie. Dit is eintlik verbasend maklik om kinders van die Aarde te vertel, en te verduidelik wat ons kan doen om dit te bewaar. Hier is ’n paar voorstelle:

Raak morsig

Die meeste kinders hou daarvan om vuil te word en jy gaan nie sukkel om hulle te oortuig om jou te help om ’n boom of ’n pot vol blomme of groente te plant nie. Gesels met hulle oor hoe plante groei, en verduidelik die voordele daarvan om jou eie groente te kweek. Dié eenvoudige aktiwiteit leer hulle van die lewensiklus van die vrugte en groente wat hulle eet en waarom dit belangrik is om plante te versorg.

Wenk: Skaf ’n voëlbad en ’n paar voëlvoerders vir jou tuin aan.

Maak kuns

Jy benodig nie duur materiale om ’n meesterstuk te skep nie. Inteendeel, die hergebruik van items wat in en om die huis gevind word, is pret én omgewingsvriendelik! Baie van die rommel wat ons asblikke vul, kan vir kuns en vlyt gebruik word. Gebruik byvoorbeeld ’n eierboksie as palet vir verf of om krale te sorteer, kouse kan in kouspoppe verander, en leë houers kan as blompotte ingespan word.

Wenk: Laat jou kind aan alternatiewe gebruike vir afvalmateriale dink.

Gee dit weg

Vra jou kind om deur sy speelgoed, boeke en klere te kyk vir items wat hy nie meer wil hê nie, en gebruik dan die geleentheid om vir hom twee waardevolle lesse te leer – om te herwin en om te gee. Om ongewenste items aan ’n kind wat minder bevoorreg is te skenk, maak nie net die ontvanger bly nie, maar verleng ook die gebruikslewe van items wat steeds bruikbaar is.

Wenk: Die feestyd bied ’n wonderlike geleentheid om die waarde van mededeelsaamheid te vestig.

Pak ’n kosblik

Pak jou kind se (onverwerkte) kos in ’n herbruikbare houer en trek dubbel voordeel daaruit! Deur nie voorafverpakte kosse te koop nie, gebruik jy minder plastiek- en kartonverpakking én jou kind eet terselfdertyd ’n gesonder en meer voedsame ete.

Wenk: Sit ’n paar tamaties uit die tuin wat jou kind help plant het, in sy kosblik.

Stel ’n voorbeeld

Voeg die daad by die woord met ’n paar eenvoudige veranderinge om vir jou kind te wys dat jy toegewy is aan ’n groener leefwyse. Probeer:

  • Papierlose rekeninge
  • Kompos maak van kombuisafval
  • Herwinning van papieritems
  • Hergebruik van inkopiesakke
  • Oorskakel na herlaaibare batterye
  • Ligte afskakel as jy ’n vertrek verlaat
  • Reënwater opvang om jou plante nat te lei

Die vestiging en versterking van eenvoudige groen praktyke by die huis sal nie net help om die omgewing te bewaar nie, maar ook jou kind aanmoedig om ’n ekologies verantwoordelike volwassene te word.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.