‘Mamma, ek is verveeld!’

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die somervakansie is hier! Dit is tyd vir samesyn, tafels wat kreun onder die kosbakke en ʼn huis vol mense. Voor die vakansie begin, het ʼn mens gewoonlik ʼn prentjie in jou kop van hoe oulik jou kinders hulself gaan besig hou tydens die vakansie.

Maar, o wee. Dis nie lank nie, of die hare waai en al jou idilliese vakansiedrome is daarmee heen.

Moenie hierdie vakansie die kinders voor die televisie neerplak wanneer hulle verveeld raak nie – span die verveling in deur hulle te help om hul kreatiwiteit te herontdek. As kinders planne moet maak om hulself besig te hou, wyk die brein af van ou, bekende paadjies en ontdek nuwe roetes. Dikwels kom hulle op iets unieks af wat hulle nog nooit probeer het nie. Dit is die wonder van verveling.

Die verslawing van tegnologie

Foto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die eerste, belangrike stap is egter om kinders se skermtyd te beperk. Dit sluit televisie, elektroniese speletjies, fone, tablette en rekenaars in. Kom met jou kinders ooreen dat hulle ʼn spesifieke tyd per dag – sê maar ʼn uur – aan tegnologie mag bestee. Jy kan daarvan boek hou, of jy kan hulle die verantwoordelikheid gee om self boek te hou (met die ooreenkoms dat hul skermtyd vir die volgende dag verminder word indien hulle die vertroue wat jy in hulle stel, misbruik). Rondom hierdie ooreengekome tyd mag hulle geen tegnologie gebruik nie; hulle mag nie eens vra daarvoor nie. (ʼn Uitsondering is wanneer die gesin byvoorbeeld saam na ʼn fliek kyk.) Ongelukkig is tegnologie verslawend. Dit beteken indien tegnologie vir kinders ʼn opsie is, is dit die verstek-opsie waarheen hulle gedagtes vlug wanneer hulle verveeld is. Indien hulle egter nie tegnologie as ʼn opsie het nie, en weet hulle moenie eens vra nie omdat die reël daaroor streng neergelê is, sal jy sien dat hulle binne ʼn dag of twee (waartydens jy maar moet vasbyt, want hulle gaan kla!) begin om te dink aan ander, kreatiewe maniere om besig te bly.

Die wonder van verveling

Met tegnologie uit die pad kan jy nou begin om jou kind te stimuleer om hom- of haarself wonderbaarlik besig te hou. Hulle mag heel moontlik ʼn hupstoot in die regte rigting nodig hê, so help hulle deur hul oë opnuut oop te maak en hulle aandag vestig op al die gewone items in die huis, en op elke meubelstuk wat die potensiaal het om ʼn ander gedaante of lewe aan te neem.

Sodra ʼn mens met nuwe oë na iets kyk, lyk dit heeltemal anders:

  • ʼn Kartondoos word ʼn karretjie, huisie of ʼn doel vir balle ingooi.
  • Droë pasta word krale.
  • Die rusbank word ʼn skip.
  • Die linnekas word ʼn tronk.
  • Die boekrak word ʼn pophuis.
  • Lekkergoedpapiertjies word geld.
  • Blare en sade word “kos”.
  • Die sproeier word ʼn dinosourus.
  • Die wolke word hasies, monsters en engele.
  • Die klimraam word ʼn maantuig.
  • ʼn Swart plastieksak word ʼn ruimteman se oorpak.
  • Tinfoelie word edelgesteentes.
  • Kruideniersware word produkte in hul eie winkel.

Die idee is om nie alles vir jou kinders te doen en die hele dag te spandeer om self alles te maak nie. Só gaan die ontdekkingsreis nooit hulle sʼn word nie. Maak hulle bloot net bewus van dít wat om hulle is en dat hulle met nuwe oë na alles om hulle moet begin kyk.

Dit is nie nodig om jou na die naaste speelgoedwinkel te haas om “besigbly-goed” te koop nie. Kreatiwiteit word ontgin sodra ʼn mens gedwing is om te dink – geen geld kan dit koop nie.

Kinders gaan nie eendag al die televisieprogramme onthou waarna hulle gekyk het, of die speletjies wat hulle op die tablet gespeel het nie. Herinneringe word gevorm wanneer jy iets fisiek doen en self maak. Maak hierdie Desembervakansie een wat die kinders vir altyd sal onthou, vir al die regte redes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.