Matriekeksamen: Leertyd, slaaptyd

Argieffoto (Foto: Wokandapix/Pixabay)

Deur: Marisa Engelbrecht

Wanneer dit tyd word om voor die boeke in te skuif, is daar altyd iets belangriker om te doen. Jou kamer is skielik sommer baie vuil en moet eers gou reggepak word, of jou kas kort ʼn vinnige regruk. Dalk is daar net ʼn baie interessante gesprek wat eerste prioriteit moet geniet, want hoe anders gaan jy op jou studies gefokus kry as hierdie goed in jou kop maal?

Hoewel ʼn skoon omgewing en gefokusde verstand jou kanse vir langer studietyd sal verhoog, gaan bogenoemde aktiwiteite ook jou tyd vir slaap inkort omdat jy waarskynlik vroeër sal moet opstaan of later sal moet wakker bly om al die werk in jou kop te kry! Die brein is ʼn baie komplekse orgaan, maar verskeie neurologiese navorsingsentrums en universiteite het al met studies op mense sowel as diere bevind dat slaap ʼn kritieke rol by studeer speel.

Met te min slaap sukkel jou brein om inligting in te neem, te verwerk en te stoor. Die neuro-wetenskaplike dr Frances Jensen skryf in The Teenage Brain hoe meer jy leer, hoe meer slaap het jy nodig. Slaaptyd is nie slegs vir die liggaam om te ontspan en sy kragte op te bou nie, maar dit gee ook die brein die geleentheid om die dag se werk en studies te verwerk, te stoor en te prioritiseer. Slaap versterk jou leervaardighede, asook jou geheue. Hoe jonger jy is, hoe meer slaap het jy nodig. By tieners word die slaaphormoon melatonien later in die aand deur die brein afgeskei as by volwassenes, maar dit beteken ook dat die inligting langer in die brein gestoor kan word. Dus is jy in werklikheid nie slimmer as jou ouers nie, jou brein stoor net die inligting langer.

Om ʼn vinnige deurnagsessie in te pas, het dus eintlik die teenoorgestelde effek want hoewel jy langer studeer, word die inligting nie so vinnig ingeneem en so deeglik gestoor nie en dit het dikwels tot gevolg dat jy dan die volgende dag in die eksamen deurmekaar raak met die feite of van die punte vergeet.

Beteken dit dus dat jy die heeldag kan slaap en net ʼn kort rukkie hoef te studeer? Nee, ongelukkig nie. Tydens slaap breek die brein inligting op in stoorbare brokkies, maar hoe gaan hy die inligting kry as jy nie eers gestudeer het nie? Diep slaap is die kritieke verwerkingstyd van inligting in die brein.

Die gevolge van ‘n deurlopende tekort aan slaap sluit in:

  • Depressie
  • Vatbaarheid vir siektes
  • Hoë bloeddruk
  • Ongeduldigheid
  • Swak eetpatrone
  • Swak leervermoë
  • Lae selfbeeld

Hoe kan jy jou slaappatrone verbeter vir studies?

  • Probeer om nie in jou slaapkamer te studeer nie
  • Hou jou slaapspasie georganiseerd en aan die kant
  • Vermy tablette, selfone en TV voor slaaptyd
  • Probeer teen ʼn spesifieke tyd in die bed wees
  • Kry ʼn voor-jy-bed-toe-gaan-roetine wat vir jou werk (sonder die selfoon)
  • Vermy vloeistof voor slaaptyd, veral kafeïen en energiedrankies
  • Maak seker jy is gemaklik

Daar is eintlik net twee goue reëls om te onthou: Leer lank genoeg voor die tyd, en die tweede is slaap genoeg daarna. Op hierdie manier sal Klaas Vakie jou nie in die eksamenlokaal vang nie en dan sal jy, letterlik, jou kop bymekaarhou.

Bronne:
Why healthy sleep is vital for school success
Benefits of sleep
The importance of sleep to study

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.