Matrieks: Die #TienGebooie vir Vrydag se Fisika-vraestel

Argieffoto (Foto: USA-Reiseblogger, Pixabay)

Matrieks skryf Vrydag die eerste Fisiese Wetenskap-vraestel en ons almal weet hoe moeilik hierdie vak kan wees! Wetenskap-onderwysers het hul #TienGebooie met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gedeel oor hoe leerlinge moet voorberei en waarvoor hulle tydens die eksamen moet uitkyk:

  1. Jy moet definisies baie goed leer, maar koppel dit aan ‘n formule sovêr moontlik. Die definisie wat gevra word, is gewoonlik dieselfde formule wat jy nodig het om die volgende vraag op te los.
  2. Jy moet baie vraestelle uitwerk teen Donderdag. Maak seker oor enige wanopvattings wat jy het rondom die vrae.
  3. Moenie die aand voor die tyd leer nie. Pak jou tas, maak seker jou sakrekenaar werk en gaan slaap vroeg die aand voor die vraestel.
  4. Moenie met jou maats praat oor die vraestel die oggend voor julle skryf nie. Gaan sit eerder rustig, haal diep asem en pak als wat jy nodig het netjies op jou lessenaar uit.
  5. Jy moet die hele vraag aandagtig deurlees voordat jy begin antwoord sodat jy nie probeer om ‘n waarde te gebruik wat dalk eers later in die vraag bereken moet word nie.
  6. Jy moet kernwoorde in ‘n vraag baie duidelik merk wanneer jy die vraag deurlees soos byvoorbeeld: KONSTANTE SPOED beteken Newton se Eerste Wet is van toepassing. WRYWINGLOOS beteken die behoud van meganiese energie is van toepassing.
  7. Moenie probeer om die formules uit jou kop te onthou nie, werk met die gegewe formuleblad. Wanneer jy eksamen skryf is jy geneig om agterlosige foute te maak as gevolg van spanning. Dan skryf jy die formule soos jy dink dit moet wees en eintlik is dit anders. Die konstantes op die formuleblad kan jou ook help om die eenhede te onthou.
  8. Jy moet mooi konsentreer by kragtediagramme. Dit is een van die areas waar leerders die meeste vreemde foute maak.
  9. Moenie vergeet om jou formule en substitusie aan te dui nie, want jy kry punte daarvoor.
  10. Jy moet na die tyd weer deur jou meganika werk en seker maak jy het rigting by AL die VEKTORE onthou. Dit beteken daar moet dalk ‘n negatiewe teken ingevoeg word of rigting moet by die antwoord bygeskryf word.

Baie sterkte met die vraestel! As jy klaar geleer het, kyk gerus ’n episode van The Big Bang Theory, net om jou in die regte bui te kry!

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.