Mediese studie is nie perde koop nie

dokter

Argieffoto.

Menige leser ken ’n gr. 11- of 12-leerder met ’n gemiddeld van 88% – in sommige gevalle selfs hoër – wat sukkel om keuring vir medies te kry. Sommige studente doen jaar ná jaar aansoek terwyl hulle in ’n ander rigting studeer en gee dan op die ou einde moed op.

Derduisende voornemende mediese studente doen jaarlikse by agt mediese fakulteite in Suid-Afrika aansoek om toelating tot Medicinae Baccalaureus, Baccalaureus Chirurgiae – beter bekend as ’n graad in geneeskunde en chirurgie of die MBChB-graad.

IOL het in 2014 berig dat daar die vorige jaar meer as 36 000 aansoeke deur die verskillende fakulteite ontvang is. Daar word egter steeds slegs ongeveer 1 770 eerstejaarstudente jaarliks landwyd tot die MBChB-graad toegelaat. Die Universiteit van Pretoria, byvoorbeeld, verwag in 2016 in die omgewing van 5 500 aansoeke waarvan minder as die helfte aan die akademiese vereistes sal voldoen. Uit hierdie groep word slegs 300 eerstejaarstudente jaarliks tot die kursus toegelaat. Die Universiteit van Kaapstad (UK) laat 220 toe, die Universiteit van die Vrystaat (UV) 150, die Universiteit van Stellenbosch (US) 235 en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) 230. Die ander mediese fakulteite is by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe en die Walter Sisulu Universiteit.

Nóg minder sal op die ou einde as mediese dokters toegelaat word. Verder is dit geen geheim nie dat menige jong afgestudeerde dokter die land verlaat om beter weivelde oorsee te soek. Suid-Afrika sit dus met ’n oorweldigende tekort aan gekwalifiseerde mediese praktisyns. Hierdie probleem kan slegs opgelos word indien die regering of moontlik privaat instansies nog mediese opleidingsinstansies in die lewe roep.

Die hemelhoë akademiese vereistes, sterk kompetisie, klein aantal toelatings en rassekwotas is egter nie die enigste hindernisse wat oorkom moet word nie. MBChB is ’n duur kursus en studiegeld vir die eerste jaar wissel van R41 000 (UV) tot R65 000 (UK). Dit sluit nie verblyf, sakgeld en ander noodsaaklike uitgawes in nie – slégs universiteitsfooie.

Waarop moet voornemende mediese studente let?

Annette Taljaard, psigometris en projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, benadruk dat ouers en leerders reeds in gr. 9 moet begin let op die regte vakkeuses, akademiese uitslae en ander faktore wat kan help by keuring en die neem van die regte besluite rondom ’n loopbaankeuse. Dit help nie om eers in gr. 11 wakker te skrik nie – dit kan moontlik te laat wees.

Hieronder verskyn ’n lys met algemene riglyne vir studente wat die MBChB-graad oorweeg. Dit verskil egter van universiteit tot universiteit en soms selfs van jaar tot jaar. Leerders moet steeds doodseker maak van die feite deur die verskillende universiteite se brosjures vir die toepaslike akademiese jaar (’n lys van skakels word later verskaf) met sorg deur te lees.

  1. Dit is baie belangrik om reeds in gr. 9 die regte vakke vir gr. 10 te kies. Die meeste mediese fakulteite vereis wiskunde, fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe (biologie). Dan is Afrikaans en Engels in sommige gevalle ook ’n sterk aanbeveling of selfs vereiste. Die artikel “9-vakkeuses het verreikende gevolge” verduidelik die belang van vakkeuses.
  2. Hoër akademiese prestasie beteken ’n groter kans om vir die rigting van jou keuse gekeur te word. By mediese studierigtings is die mededinging geweldig sterk.
  3. Dit is uiters belangrik om seker te maak dat die regte beroepsrigting – in hierdie geval medies – gekies word. Vir die meeste jong volwassenes is die speelruimte vir foute uiters beperk aangesien studiegeld baie hoog en beurse so skaars soos hoendertande is.
  4. Leerders moet seker maak dat hul finale gr. 11- sowel as matriekpunte aan die minimum toelatingspuntetelling (TPT) voldoen. By UP is dit 35 terwyl dit by UV 36 en by UK 450 uit 600 (31,5) is. Die bogenoemde artikel verduidelik ook presies wat die TPT is en hoe dit bereken word.
  5. Behalwe vir die TPT moet prestasie in elk van die verpligte vakke ook aan die minimum vereistes voldoen. By UV, byvoorbeeld, moet ’n minimum van 60% vir wiskunde, fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe (biologie) elk bereik word. Al word lewensoriëntering nie by die TPT in aanmerking geneem nie, moet dit ook met ’n minimum van 60% geslaag word.
  6. Ander universiteite, byvoorbeeld US en Wits, skryf nie ’n minimum TPT voor nie, maar het ander streng vereistes. Maak seker van wat hierdie toelatingsvereistes behels en of jy daaraan voldoen. Dit is veral belangrik indien daar by meer as een universiteit aansoek gedoen word – wat dikwels die geval is.
  7. Dit is verpligtend om die Nasionale Normtoets (beter bekend as NBT) af te lê. Die NBT word beskryf as ’n assesseringsinstrument waarvolgens voornemende eerstejaarstudente se vermoëns om taal- en syfervaardighede op tersiêre vlak toe te pas, getoets word. Neem kennis van die voorgeskrewe datums waarop hierdie toets afgelê word.
  8. Mediese fakulteite neem ook buitemuurse prestasie en betrokkenheid by skoolaktiwiteite in gr. 12 in ag. UP verwys na ’n “toegevoegdewaarde-vraelys” en US na ’n “nie-akademiese merietevorm”. Klik hier om na US se 2015-vorm te kyk. Dit sluit leierskap, kulturele en sportaktiwiteite, gemeenskapsdiens en nauurse werk in die spesifieke veld in.
  9. Voornemende studente word in hul gr. 12-jaar slegs voorlopig na aanleiding van hul akademiese uitslae in gr. 11 gekeur. Finale keuring vind eers plaas nadat die kandidaat se matriekuitslae ontvang is. UP skryf in hul voorgraadse fakulteitsbrosjure: “Kandidate, neem asseblief kennis dat jou TPT nie met meer as twee punte mag daal in die uitslae van jou finale skooleksamen nie ten einde jou voorlopige toelating te behou.”
  10. Dit is baie belangrik om ’n “plan B” in gedagte te hou.
  11. Rassekwotas geld steeds by die meeste universiteite, hoewel sommige, byvoorbeeld Wits, besig is om dit uit te faseer. In Februarie sal ’n artikel op Maroela Media verskyn wat hierdie onderwerp ondersoek.

Hieronder verskyn skakels na die mediese fakulteite van die verskillende universiteite:

Universiteit van die Witwatersrand

Universiteit van Pretoria

Universiteit van Stellenbosch

Universiteit van die Vrystaat

Universiteit van Kaapstad

Universiteit van KwaZulu-Natal

Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe

Walter Sisulu Universiteit

 

Liezel Lüneburg

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: In diepte, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Kamma-Dokter ·

My gemiddelde persentasie in Matriek (met Afrikaans Eerste Taal HG; Engels Eerste Taal HG; Wiskunde HG; Skeinat HG; Rekeningkunde HG; Biologie HG; Bybelkunde HG; Rekenaarstudie SG) was 96%. My enigste loopbaankeuse nog altyd was om ‘n Mediese Dokter te word. Heelaas, volgens die US was my 96% te swak vir keuring in vergelyking met sekere “ras-kwota)-studente se 70% gemiddeld. Nou, 8 jaar later, is ek ‘n uiters suksesvolle Rekenmeester van ‘n groep internasionale maatskappye. So raak die land al armer aan goeie mediese dokters. Ontstellend dat sommige studente wat hul vakke met 50% slaag, dieselfde dokters is wat ons moet behandel… Met 50% kennis kan hul ons lewens in hul hande neem?

Christo Visagie ·

My dogter het ook nie keuring gekry nie, twee jaar probeer, toe gaan swot sy Bsc Fisiologie op Pukke om in te kom, sy kry in 5 van haar 6 vakke onderskeidings maar helaas was dit nog steeds nie goed genoeg om in te kom by Tukkies nie. Toe gaan swot sy maar vir veearts wat heelwat moeiliker as vir mediese dokter en is sy uiteindelik na 7 jaar ‘n veearts.

m ·

Ek weet ook van iemand wat sielkunde gaan swot het en toe nie verder gekeur is nie want ‘n sekere persentasie MOET swartes wees wat gekeur word.

Jan maak n Plan ·

Hierdie sogenaamde keuring om ‘n dokter te mag word is ‘n klug. Medies eerste jaar en BSc eerstejaar is blykbaar dieselfde. Laat al die studente dan inskryf, ongeag jou velkleur en maak almal se standaard dieselfde. Kies dan na die eerste jaar jou dokters sonder dat velkleur ingebring word en dan sal die probleem homself regsien. Baie meer dokters sal dan kwalifiseer op die ou einde sonder dat die universiteite se geld en tyd gemors word. Solidariteit se universiteit kan ook maar begin om mediese studente te begin oplei. Dit kan net baie meer help.

Antoon ·

In sekere lande, soos die VSA, doen studente eers ‘n B.Sc en daarna work hul gekeur vir ‘n “Mediese Internskap”. Daar was ‘n studium wat universiteite so ‘n stelsel hier oorweeg het – eers ‘n 3 jarige B.Sc (Medies) en dan ‘n 4 jarige MBChB. Dis dalk ‘n stelsel wat ons hier kan oorweeg.

hans ·

Gaan n persoon n beter dokter wees as hy eerstespan rugby gespeel het of die rommel in die strate opgetel het.

Jacoba ·

Ja ,dis ñ vet klug! Die kwotastelsel ontmoedig talle puik studente. 6 Januarie 2016 berig Beeld van die puik prestasies van ons land se matrikulante….Ek lees van minstens 4 leerders wat 8/9 onderskeidings het,leiers was, in kultuur en sport puik presteer het ,maar helaas geen mediese keuring!
My niggie het self 7 onderskeidings,was hoofmeisie, springbok perderuiter, SA-atleet,SA-netbalspeler,Provinsiale redenaars-wenner ens, ens…. MAAR geen keuring vir medies.
Die kinders werk hulle oor ñ mik,maar dis nie goed genoeg nie!
Ons regering jaag ons eie kinders weg!

Christo ·

Die oplossing vir die problem inR S A is doodeenvoudig .Stuur jou kind na N Z of Aus. Die problem hier word net al meer en sal nie opgelos word nie. As jy twyfel kyk net vrydagaand na Voetspore op tv en sien waarheen ons oppad is Afrika is Afrika en sy mense is tevrede om onder te bly le dus trek hulle net die almal af

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.