Meer as 50% van SA leerders is al afgeknou

V.l.n.r. is Diana van Heerden van Grow@Eduplus, Leandie Bräsler van AfriForum en Monja Joubert van Grow@Eduplus. Foto: Verskaf.

Boelies en afknouery voer tans ʼn skrikbewind in die meeste plaaslike skole en, volgens die jongste statistiek, was of is meer as 50% van alle kinders ʼn slagoffer van dié soort afknougedrag.

Só sê Diana van Heerden van Grow@Eduplus, wat ʼn teenboelieprogram met ʼn interaktiewe opvoedkundige poppekas aanbied. Die program help om leerders bewus te maak van alle vorme van boeliegedrag en hoe om dit op te los.

Die organisasie het saam met die brugerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan ʼn teenboelieweek by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort, Gauteng gedurende Januarie aangebied.

Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling, meen elke leerder, onderwyser en ouer wat die week se teenboeliepraatjies bygewoon het, toegerus is met kennis om afknouery hok te slaan.

Op die eerste dag van die Roodies se teenboelieweek het die leerder geleer dat ʼn mens soms jouself kan boelie en daar is verduidelik hoe om dit te oorkom.

“Boeliebewusmaking in skole is belangrik omdat afknouery en selfhaat al van kleins af begin. Die invloed daarvan word soms tot met volwassenheid saamgedra.

“Kinders moet verstaan dat elkeen anders lyk en uniek is. Ek wil hulle graag leer om lief te wees vir hul eie liggame en hoe om dit goed te versorg. Dit waarmee jy jou liggaam voed, gaan jou energievlakke beïnvloed, asook hoe jy oor jouself en ander voel,” meen Natasha Smit, ʼn geregistreerde dieetkundige, wat met die skool se leerders gesels het.

Prof. Elmarie Kritzinger van Unisa het met die leerders oor kuberafknouery gesels en die impak van ʼn digitale voetspoor verduidelik.

“Tegnologie en die internet is vandag ’n onlosmaaklike deel van ons samelewing. Selfs vir ons kinders is die kuberruim nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid. Daarom moet kubergebruikers weet hoe om hulself en hul persoonlike inligting teen kuberboelies te beskerm,” het Kritzinger gesê.

“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis.

“Ons fokus op vyf spesifieke waardes, naamlik verantwoordelikheid, omgee vir ander, eerlikheid, integriteit en respek. Dit is ook vir ons belangrik dat ons leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet ken en verstaan. Ons wil dus kwartaalliks sprekers reël om in samewerking met AfriForum bewustheid oor afknouery by ons leerders en onderwysers te skep,” het Deon Rousseau, hoof van die Laerskool Roodekrans, gesê

“Laerskool Roodekrans se teenboelieweek was voorwaar ’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met sy leerders doen,” het Bräsler bygevoeg.

  • Lesers en skoolgemeenskappe wat meer wil uitvind oor die teenboelieveldtog, of by leierskapontwikkeling wil betrokke raak, kan gerus ʼn e-pos aan Leandie stuur by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gys ·

Ek was in die tagtigs op skool. Ek kan die boelie gevalle op my een hand tel (ek was nie die uitdeler of ontvanger nie), en dan gaan daar nog n paar vingers oorbly. Dalk omdat alle kinders destyds geweet het die straf vir sulke gedrag was n pakslae wat bitterlik seer was. So almal het hulself mooi in toom gehou. Boelie gedrag is uit en uit die gevolg van lyfstraf wat afgeskaf is. Al hierdie teenveldtogte gaan nie n noemenswaardige verskil maak nie. Pakslae is al wat werk. You have to be cruel to be kind.

Anoniem ·

Ek sou nie se dat ‘n kind en veral kleuters baat sal vind by ‘n pakslae of ‘n geskreeu en gekners van tande nie. ‘n Boelie is iemand met onderdrukte emosies, en reageer uit vrees of frustrasie. Dis beter om eerder emosioneel te ‘connect’ met so ‘n maaitjie en hul in jou vertroue te kan neem sodat hul kan leer om emosies en gevoelens verbaal te kan deurgee en nie fisies deur ander maaitjies af te knou nie, so bere daardie paplepel maar vir eers, en mute gerus jou stem wanneer jy jou kind dissiplineer, soms is ouers die grootste oorsaak van die produk wat hul kinders word op die ou einde van die dag, behalwe as dit nou kom by groepsdruk, verkeerde maats ens, daar verskil en nogals. Hang af van situasie tot situasie maar dan praat ek nie eens van groot, volwasse mense op sosiale media nie, DIE IS DIE GROOTSTE SONDEBOKKE VAN BOELIE, SO SKUIF GERUS DAARDIE PEILING OP NA 90%

Christelle ·

Ons het 2018 terug getrek SA toe van Dubai af na ‘n private skool en laat ek vir jou sê, dit was die grootste fout wat ek nog gemaak het om haar in die skool te sit. My dogter is deur hel verlede jaar. Sy is so mooi kind met so sagte hart. Die meisies was so clicky my dogter het vir 3 weke alleen gesit want niemand wou haar accept nie. Ek was by die onderhoof en niks het daarvan gekom nie. En nou is daardie klompie almal prefekte gemaak. Die ander dag toevallig gesels ek en ‘n ander ma wat haar kinders ook uit die skool gehaal het en sy sê toe vir my haar kids het ook dieselfde deurgegaan en daar is nog gevalle. Ek het haar die jaar in ‘n ander skool gesit en sy floreer. Die beste besluit wat ek kon maak! Maar tegnologie maak dit nogsteeds moontlik vir teistering van hulle kant af. Maak dat ‘n mens se bloed kook. ?

Jurgens ·

Neem boeliegedrag toe, of is deesdae se bloedtjies net baie meer sensitief as n paar dekades gelede?

Ronel ·

My kleinseun is baie maer en het bakoortjies. Hy word elke dag gespot en geboelie by die skool. Leer ons hom om terug te baklei, word hy dissipliner verhoor en hy trek aan die kortste end. Ons het al gevra hoekom die boelie nie ook aangekla word nie, maar daar word net elke keer skouers opgetrek! Nou vra ek jou, hoe hou ‘n enkelouer se hart?

JohanL ·

Ronel, leer hom terug te “baklei” met woorde. Fisiese baklei gaan die skool gerieflikheidshalwe hom dissiplineer. Maar leer hom om “sagte plekke” in die ware boelies se mondering raak te sien en hulle te spot. Fyn kuns, maar kan geleer word. Hy meot dan net reg wees vir ‘n fisiese reaksie van hulle af, maar ja – dan moet die skool weer teen hulle optree.

Andre ·

Ek was my hele skool loopbaan geboelie, ek was die “mooi outjie met die ryk ouers” Gelukkig het ek vining besef boelies is amper altyd iemand wat uit `n gebreke of arm huis van kom waar hulle self geboelie word. Hulle rig hulle frustrasie op iemand kleiner, maar die hou nie baie lank in die grootmens wereld nie en meeste van hulle maak bitter min van hulle lewens.

Regtig ·

Regtig? “Die mooi outjie met ryk ouers” . Gaan dink weer altyd maklik om te se die arm kinders of iemand blameer wat uit n gebroke huis kom. Hoeveel keer gebeur dit waar dit n kind is wat alles kry wat hy vra of net kyk na iets dan kry hy dit. Dit is nie altyd n arm kind nie. Soms is daar meer liefde van arm ouers as ryk ouers want geld koop mos alles – geluk en liefde ook. Dink weer

bollie ·

Foeitog. Hier ‘s ‘n wenk vir al die klein, tengerige swakkelinge. Maak vriende met die grootste, meanste ou in die skool (al moet jy hom ook op ‘n manier omkoop). Boelie-probleem opgelos.

Marie-Lee Carstens ·

Maroela Media is die epos andres reg want dal my emails na die adres van Leandi kom terug.
Dankie
Marie-Lee

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.