Meisies ook die slimmer geslag, toon navorsing

Foto: Pixabay

Nuwe navorsing van die Universiteit Stellenbosch het nou vasgestel dat meisies beter vaar op skool én op universiteit as hul manlike eweknieë.

Dr. Nic Spaull en dr. Hendrik van Broekhuizen, lede van die navorsingsgroep ReSEP by die Universiteit Stellenbosch (US), sê dié navorsing bewys meisies leer baie vinniger as seuns – en dít geld boonop vir die meeste middel- en hoë-inkomstelande.

Spaull en Van Broekhuizen se studie, getiteld The ‘Martha Effect’: The compounding female advantage in South African higher education, is onlangs in die akademiese werkstuk Stellenbosch Working Paper Series gepubliseer. Dié reeks word deur die departement Ekonomie en die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die US uitgegee.

Die navorsers het gekyk na groot nasionaal verteenwoordigende opnames wat in 2011 en 2015 gedoen is. Dié opnames toon dat meisies in gr. 4 ʼn volle jaar voor hul manseweknieë is wanneer dit by lees kom. In gr. 5 is hulle sowat 40% van ʼn jaar van leer voor seuns in wiskunde. Seuns vaar egter beter as meisies in wiskunde en wetenskap in matriek.

Die navorsers het verder probeer vasstel of meisies se prestasies op skool ook op universiteit herhaal word. Hiervoor het hulle data van die Hoëronderwysbestuursinligtingstelsel gebruik om alle matrikulante van 2008 (altesaam 112 402) wat universiteit toe gegaan het, te identifiseer en vir ʼn tydperk van ses jaar (2009-2014) te volg. Die navorsers kon ook gedetailleerde inligting oor alle studente se uitslae wat deur die departement van basiese onderwys en die departement van hoër onderwys en opleiding ingesamel is, gebruik.

“Ons het afdoende bewyse gevind van ʼn groot vrouevoorsprong, in terme van prestasie, wat steeds by elke hindernis van die hoëronderwysproses groei,” sê die navorsers. “Om spesifiek te wees, relatief tot hul manseweknieë het ons gevind dat 27% meer vroue vir universiteit gekwalifiseer het, 34% meer vir universiteit inskryf, 56% meer enige voorgraadse kwalifikasie voltooi en 66% meer ʼn baccalaureusgraad verwerf. Dit is ondanks die feit dat omtrent gelyke getalle seuns en meisies hul skoolloopbaan begin.”

Die navorsers sê nog ʼn interessante bevinding is die groot afname vanaf matriek tot by die verwerwing van ʼn graad.

“Vir elke 100 meisies in matriek is daar net 85 seuns in matriek. En vir elke 100 meisies in matriek sal slegs agt binne ses jaar ʼn voorgraadse kursus voltooi, met selfs laer getalle vir mans – slegs vyf. Ons het bevind dat hierdie groot vrouevoorsprong gehandhaaf word nadat prestasie op skoolvlak in ag geneem is. Dit is die geval vir alle subgroepe van ras, ouderdom, sosio-ekonomiese status, provinsie van herkoms en die instelling waar studente gestudeer het.”

Die navorsers sê dié statistieke is nie omdat vroue bloot “makliker” studierigtings as mans kies nie. “Ons het na 19 studierigtings gekyk en bevind dat vroue aansienlik meer geneig is om ʼn graad in 12 van die 19 vakgebiede te verwerf, dikwels met beduidende resultate, en aansienlik minder geneig om ʼn graad in vyf van die 19 velde te behaal.

“Dit is egter meestal toe te skryf aan die feit dat hulle nie toegang tot die tradisioneel ‘manlike’ programme het nie, en nie weens laer voltooiingsyfers sodra hulle die program begin volg nie. Slegs in ingenieurswese en rekenaarwetenskap vaar vrouestudente swakker as hul manseweknieë wanneer hulle vir die kursus aanvaar is.”

Die navorsers sê een van hul mees interessante bevindings was dat vroue altyd en oral 20% minder geneig as hul manseweknieë is om hul kursus te staak, selfs nadat aspekte soos studierigting, ras, ouderdom, sosio-ekonomiese status, plek of instelling in ag geneem is – waaronder vakgebiede soos ingenieurswese en rekenaarwetenskap. Dís ook nie net ʼn Suid-Afrikaanse tendens nie, sê hulle.

“Die opkoms van ʼn vrouevoorsprong op skool en universiteit is ʼn wêreldwye tendens onder middel- en hoë-inkomstelande. In die 33 lande wat deel vorm van die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling  ̶  hoofsaaklik ʼn klub van ryk lande  ̶  word 58% van alle baccalaureusgrade aan vroue toegeken. In Suid-Afrika is dit 61%.”

Die navorsers sê hulle weet nog nie hoekom dit die geval is nie, maar die beste internasionale bewyse dui daarop dat meisies beter presteer wanneer dit kom by dinge soos selfbeheersing, selfmotivering, betroubaarheid, gesellig wees, persepsies van selfwaarde, lokus van beheer, tydsvoorkeur, en die vermoë om langer vir ʼn beter beloning te wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Vraagteken ·

Is dit nie dalk ‘n eerder net ‘n geval dat ‘n seun nie juis omgee oor sulke goed op ‘n jong ouderdom nie (bedoellende, vanaf 5 tot 12 jaar oud) en as gevolg daarvan, ontwikkel die brein nie so maklik wanneer dit kom by literatuur nie?

Die rede vir die wiskunde en Wetenskap vermoë is omdat dit eintlik verstaan vakke is in plaas van leer vakke. Seuns verkies ‘verstaan’ bo ‘leer’.

@Eish, vrouens lewe gemiddeld langer as wat mans lewe.

Eish ·

Jip, die langer lewe is soos die berig ook duidelik uitwys, beter beplanning, tyd bestuur, beter verhoudings ens. Ons manne kap die stress. Hul onthou ook langer as ons, dis waar die spreekwoord ou koeie uit die sloot grawe vandaan kom.

Rupert Ashford ·

Goed en wel, maar wat se dit? Leerplanne word wereldwyd aangepas om meer “meisievriendelik” te wees, in die naam van gelykheid en verteenwoordigendheid word gediskrimineer ens. Slegs in die harde, verstaanvakke is die speelveld nog soortvan gelyk. Verder is dit algemene kennis dat seuns stadiger volwassenheid bereik as meisies. Het hierdie geleerdes enige aanbevelings gemaak uit hierdie resultate? Sal dit graag wil lees.

Veritas ·

Dit is mos nou gladnie nuus nie. Natuurlik is vrouens slimmer as mans. Die feit dat, meeste van hulle, ‘n man as lewensmaat kies, is mos bewys daarvan.

Jan ·

Toe ek geswot het was daar baie meer dames wat BA Tale of Kuns Geskiedenis geswot het as B. Sc. of B. Ing. – verskillende rigtings verg baie verskillende vaardighede . Noem liefs die 12 rigtings is waar dames beter vaar, en die 7 rigtings waar mans beter vaar, dan kan mens ‘n beter idee van die ding kry.

Truidie ·

Jan, ek is `n dosent in Chemie by Kovsies, en ek kan jou verseker die inligting oor ons departement stem ooreen met wat hier bo genoem word.

Thomas ·

Hierdie uitslag gaan oor prestasie, nie intellektuele vermoee”ns nie. Ek verstaan die studie het nie IKs vergelyk nie?

Enige persoon wat hard werk kan goed presteer, s/hy hoef nie briljant te wees nie.

Soos die studie bewys is mans tops in die moeilikste vakgebiede. Se^ dit dalk iets omtrent manlike intelligensie? Die verskoning vir meisies se swak prestasie in hierdie (7?) “tradisionele mans” vakgebiede “omdat hulle nie toegang het daartoe nie”, is ooglopend ‘n verdigsel. In hierdie tyd diskrimenering teenoor dames? Wat is hierdie vakgebiede?

Intelligensie is heel waarskynlik nie die rede vir vrouens se oe”nskynlyke beter prestasie nie.

Mans is meer geneig om hulle oor die wereldse probleme en die lewe se groter prentjie te besorg en waag meer, sal meer dinge gelyktydig aanpak, sal eerder praktiese as teoretiese beroepe beoefen waarvoor geen universiteitsopleiding nodig is nie.

Die statistiek gee bv ook geen aanduiding van hoeveel seuns/mans uitval agv misdaad ens nie. Niks te maak met intelligensie nie.

Kosie Kramer ·

Met twee broers en drie susters, kon ek die professore se bevinding 20 jaar gelede al bevestig. Mans is meer geneig om rond te speel, terwyl vroue gefokus op die taak is. Ook, is ons mans gewoonlik geneig om met ons brein, wat onder die naeltjie sit, te dink. Die mans wat uitstaan, is diegene wat hierdie oerdrange kon/kan onderdruk. Wanneer ek bank toe gaan om geldsake te bespreek, verkies ek `n Afrikaanssprekende vrou bo ieMANd anders.

Valerie ·

Haha. Die navorsing was glad nie eers nodig nie; ons vrouens weet dis waar.

bollie ·

Seuns het beter dinge om te doen as om by die huis te sit en te lees en te leer.

Jack Claxton ·

Eens op ‘n tyd het ek na ‘n dokumenter op TV gekyk wat onder andere gegaan het oor ‘n bobbejaan wyfie met ‘n rare tweeling – een manlik en een vroulik.

Een van die tonele het gegaan oor hoe sy haar kinders probeer leer om miere uit ‘n miershoop te vang. Breek dit oop met ‘n klip, steek ‘n stok daarin, en eet die miere van die stok. Die baba wyfie was baie geïnteresseerd en het haar ma noukeurig dopgehou. Die baba mannetjie het nie ‘n saak gehad met wat sy ma hom probeer wys nie – hy’t net handevol miere gegryp en in sy mond geprop. Ek’s seker hy’t gedink: “Ja, okay, ek sal dit vir myself uitwerk wanneer dit vir my nodig is.”

Mans lees nooit die instruksies nie. Want hulle hoef nie. Die probleem met die berig is dat dit die gewilligheid om instruksies te lees verwar met intelligensie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.