My gr. 1 sukkel met wiskunde, hoe nou?

kinders

Foto: Pixabay.com

Niemand twyfel meer dat daar ʼn krisis is met Suid-Afrikaanse leerders se swak prestasie in wiskunde nie. Daar is egter baie wat ouers van vroeg af kan doen om seker te maak dat hulle kinders die mas opkom. Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die volgende wenke vir ouers met kinders in die lae laerskoolgrade.

Volgens ʼn studie wat in 2008 gedoen is, is bepaal dat gr. 3-leerders ’n gemiddeld van 36% vir geletterdheid en 35% vir gesyferdheid behaal. Dit is dus duidelik dat probleme met wiskunde reeds op ʼn vroeë ouderdom manifesteer.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsenturm, is ouers soms huiwerig om hul kinders te help omdat hulle nie selfvertroue in hulle eie wiskundevaardighede het nie. “Die belangrikste is om dit pret te maak vir jou kind. Wanneer kinders wiskunde buite die klaskamer met pret assosieer, sal hulle in die klaskamer ook ʼn positiewe ervaring van die vak hê.”

Hier is ʼn paar speletjies wat jy kan oorweeg:

Tel voort

Die “Tel voort”-speletjie is bedoel om kinders te leer dat hulle met somme by die grootste getal moet begin as hulle bytel. ʼn Kind kan byvoorbeeld gevra word om 4 + 2 uit te werk. Hy/sy moet dan vier vingers van die een hand ophou en dan twee van die ander hand. Die kind moet dan tot by vier tel en dan tot by ses.

Tel terug

Een van die belangrikste syfervaardighede is om wiskundefeite vinnig en akkuraat te onthou. Die eenvoudige feit dat die een syfer ná die ander kom, is ʼn belangrike faktor in die sukses van die kind. Laat jou kind tot by tien tel en dan weer van tien tot by nul.

Kaartespel

Laat jou kind gewone speelkaarte uitdeel aan ʼn klompie “spelers”. Die herhaling leer kinders hoe om akkuraat te tel sonder om hulle vingers of papier te gebruik.

Die dobbelsteen

Gooi ʼn dobbelsteen en laat jou kind tel waarop hy geval het. Jy kan later twee dobbelstene gebruik as dit te maklik raak om tot by ses te tel.

Wegsteek

Gebruik ʼn bekende aantal muntstukke en hou dan ʼn paar in jou hand versteek en plaas die ander muntstukke op die tafel. Jou kind moet dan tel hoeveel hy sien en hoeveel jy in jou hand weggesteek het.

Raai-raai

Skryf ʼn getal tussen 1 en 100 op ʼn papier en steek dit weg. Jou kind moet raai wat die getal is. Wanneer hy ʼn getal raai moet jy hom lei met die woorde “meer” of “minder”.

Bingo

Skryf getalle 1 tot 12 op ʼn stuk papier, een vir jou en een vir jou kind. Maak beurte om die dobbelstene te gooi en trek ʼn kruis oor die getal waarop die dobbelstene val. Die eerste een wat al 12 doodgetrek het, wen. Dit leer jou kind hoe om tot by 12 te tel en ook hoe om syfers te herken.

Die SOS is reeds in 2012 in die lewe geroep en die organisasie glo dat armoede die hoof gebied kan word deur in opleiding te belê. Dit begin reeds wanneer die graadeentjie leer somme maak en lees. Die vakvereniging het reeds meer as 1 000 lede en bied vakondersteuning aan Afrikaanse wiskundeonderwysers en Afrikaans-huistaalonderwysers.

Vir meer inligting oor die SOS, kontak gerus vir Hugo Vermeulen by 012 644 4390 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.