My kind byt, wat nou?

Argieffoto. (Pixabay)

Argieffoto. (Pixabay)

Dit kan vir enige ouer ʼn skok wees wanneer hul kinders van die kleuterskool of dagsorg af kom met ʼn groot, pers bytmerk deur ʼn maatjie toegedien.

Ander kere kom ouers dalk agter dat hul kind self ʼn byter is wanneer die dagsorgmoeder bel of die kleinding skielik na ma se bors, vingers of skouers begin hap.

Volgens Hanlie Snyman, ʼn opvoedkundige sielkundige in die Wes-Kaap, is dié gedrag nie iets om oor bekommerd te wees nie, maar wel iets wat aangeraak moet word.

“Wanneer ʼn kind byt, is hy eintlik besig om te eksperimenteer. Babas byt die bors van hul ma, of die vingers en skouers van hul ouers. ʼn Kind moet eksperimenteer ten einde te leer,” sê Snyman.

“Deur die reaksie van ʼn volwassene, hetsy deur te skrik, ‘eina’ te sê of te wys jy is kwaad, leer die kind dat dit nie sosiaal aanvaarbaar is om te byt nie,” verduidelik sy.

Dié gedrag kom veral voor by peuters tussen 1,5 en 4 jaar oud en gebeur gewoonlik wanneer die kind bang of gefrustreerd voel.

“Hulle beskik nog nie altyd oor voldoende selfbeheersing nie, en reageer dikwels impulsief en aggressief deur te byt, te slaan of hare te trek. Die rede hiervoor is dat hulle nog nie oor ʼn voldoende woordeskat beskik om hulself goed uit te druk nie.”

Hierdie gedrag kan ook ontstaan weens ʼn mate van spanning wat peuters ervaar tydens groot veranderinge, byvoorbeeld die geboorte van ʼn boetie of sussie, ouers wat skei, verandering van au pair, blootstelling aan geweld op televisie of die afwesigheid van ʼn ouer.

“Die kind ken nog nie die woorde om te sê hoe hy of sy voel nie. ʼn Mens kan dus verstaan hoekom hy hom op ʼn meer fisieke manier probeer uitdruk,” sê Snyman.

Snyman benadruk dat hierdie gedrag nie altyd aggressief bedoel word nie. “Soms kan honger, tandjies wat uitkom of blote nuuskierigheid ook aanleiding gee vir ʼn peuter om ʼn ander kind te byt. Dít is tot ʼn mate ook ouderdomstoepaslike gedrag, maar dit beteken egter nie dat dit toegelaat mag word nie,” sê sy.

Wanneer hierdie gedrag aanhou by jou kind, of as jou kind homself en ander kinders ernstig seermaak in die proses, is dit belangrik om hulp by ʼn professionele persoon te soek.

Indien jou kind berispe word oor hierdie gedrag, maar nog steeds voortgaan daarmee, is dit belangrik dat die kind gestraf moet word wanneer hy byt. “Gee ʼn duidelike, kort straf wat in verhouding is met die foutiewe gedrag. ʼn Kind wat byvoorbeeld nie toegelaat word om die hele middag te speel nie omdat hy ʼn ander gebyt het, se straf is nie gepas vir sy ontwikkelingsfase nie.”

Volgens Snyman moet jy ook erkenning gee aan die kind se emosie, maar sy gedrag afkeur. “Moenie straf uitdeel sonder om ʼn alternatiewe vorm van gedrag voor te stel aan die kind nie. Indien sibbe mekaar byt, kan ʼn mens nooit voorstel dat daar teruggebyt moet word nie. Dit stuur ʼn verwarrende boodskap aan die kind.”

Kinders wat mekaar byt kom baie voor in ʼn crèche of kleuterskool en is amper soos ’n epidemie: sodra een kind daarmee begin, byt die helfte van die peuters mekaar teen die einde van die week, verduidelik sy.

“Klasopvoeders kan die situasie doeltreffend hanteer deur goeie struktuur en duidelikheid te gee, wat aan die kind die gevoel van veiligheid en rustigheid bied. ʼn Vaste dagroetine, duidelike reëls en nagevolge en ʼn goed ingerigte speelruimte is belangrike faktore hier.”

Deur te verwoord wat gaan gebeur, sal die kind ook besef dat hy anders moet optree. “ʼn Kind het nie altyd ʼn begrip van sy eie optrede en die groep s’n nie, ook nie oor die gevolge van sy gedrag nie. Soms kom ongewenste gedrag voor uit verveling en niksdoen. Maak tyd vir speletjies wat die kinders uitdaag en stimuleer.”

Dit is ook noodsaaklik om moontlike oorsake van jou kind se bytgedrag te ondersoek. “Probeer vasstel in watter situasies jou kind byt. Is dit wanneer hy moeg is? Wanneer hy buite speel? Het die kind frustrasies, waar daar byvoorbeeld iemand is wat sy speelgoed wegvat?”

Sy sê ook dat moeilike situasies voorkom kan word deur ʼn tyd lank twee kinders van wie die een altyd die ander byt, nie saam te laat speel nie. “Sorg ook dat daar meer struktuur is vir ʼn kind wat sukkel hiermee. Dit is nie noodwendig ʼn permanente oplossing nie, maar die kind kry wel die geleentheid om ander gedrag aan te leer.”

Volgens Snyman is dit moontlik om vir ʼn kind alternatiewe aan te leer. “Die kind kan ʼn kussing byt sodra hy voel hy word kwaad of vir hulp vra by ʼn volwassene indien iemand sy speelgoed afvat. Dit help ook om ʼn kind te leer deel en te leer van ruil en beurte maak.”

Hanlie Snyman is ʼn opvoedkundige sielkundige in ʼn privaat praktyk in die noordelike voorstede. Maak kontak met haar by 021 9131868. Vir meer inligting, besoek haar webwerf www.hanliesnyman.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Juffrou ·

Stem saam. Byt terug is vinnigste en effektiefste manier (ongelukkig).

Speedguard ·

Nie ongelukkig nie juffrou, byt terug dit is al hoe mens kinders leer, jy hoef nie ‘n boef te wees om jou kind dissepliene te leer nie,

KaterinaKat ·

My een klein kind, n seuntjie, is n byter. Ai dis moeilik, hy is nog nie eens twee jaar oud nie. So my dogter wil hom nie gereeld pakgee nie. My kinders het nie gebyt nie. Ek was vreeslik streng en hulle het van baie jonk al geweet hul moet in hul spoor trap of hulle sal nie kan sit vir die volgende 2 dae nie. Maar tye het verander, ouers is oor die algemeen minder streng, lyk dit my.

Mitz ·

Myne het my eenkeer gebyt, ek het hom so hard terug gebyt dat daar ‘n gat in sy themp was, dit was die laaste strooi!

Daleen ·

Eerste keer mooi gepraat en verduidelik. 2de Keer geraas en verduidelik. Derde keer terug gebyt. Einde van storie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.