My laerskoolkind en toesprake: Hoe gemaak?

Kind-praat.jpg

Foto: imgarcade.com

Talle Suid-Afrikaanse laerskole vereis dat kinders van graad 1 af aan redenaars- en klastoesprake deelneem vir mondelinge punte wat op die leerders se rapporte verskyn.

Kinders wat dan uitblink in die lewer van toesprake, neem later op kompetisievlak deel aan gesogte redenaarskompetisies soos dié van die ATKV.

Hoe egter gemaak met die kind wat nie ʼn natuurlike kommunikeerder is en wat nog nie die taalvaardighede het om ʼn toespraak saam te stel, te memoriseer en oor te dra nie? Is dit sinvol vir ʼn sewejarige wat nie kan lees of skryf nie om aan toesprake blootgestel te word?

Anchen Inggs, ʼn Pretoriase ma van ʼn graad 3-leerling, vertel dat haar seun reeds in graad 1 ʼn klastoespraak moes lewer met ʼn redenaarsonderwerp. “Dit is moeilik om vir ʼn kind wat nog nie eens kan lees en skryf nie om ʼn praatjie te leer, of selfs die doel van die praatjie te begryp,” sê Inggs.

“Nie ek of my man is vaardig in die skryf van toesprake nie, veral nie die beredenerende toesprake wat van die kleintjies verwag word nie. Ons moes ook vir hom prentjies teken en weke vooruit die toespraak begin oefen sodat hy dit kon onthou teen die tyd wat hy dit moes lewer.”

Sy sê sy het sedertdien op ander familielede staatgemaak om haar seun te help met sy toesprake, maar dat sy die toespraak sal koop indien daar geen ander uitweg is nie. “Dit is nie ideaal om iemand te betaal nie, maar as ek moet, dan sal ek. Ek kan nie my kind sonder ʼn praatjie skool toe stuur nie en die punte tel vir hulle rapporte.”

Inggs sê haar seun, wat in ʼn Afrikaanse skool is, het ook vir die eerste keer vanjaar opdrag gekry om ʼn praatjie in Engels te lewer, ook met ʼn redenaarsonderwerp. “Dit maak ʼn mens as ouer nogal moedeloos, want behalwe vir die enkele riglyne wat op die papier aangedui word wat saam met die kind huis toe gestuur word, word die kinders nie juis toegerus met enige skryfvaardighede van ʼn praatjie nie.”

Sy verduidelik sy besef dat die kinders almal aan redenaars- en klastoesprake blootgestel word sodat die uitblinkers daarmee kan volhou. “Ek is net nie seker waarom al die kinders wat geen belangstelling daarin toon of wat nie daarvan hou om voor mense te praat nie, geforseer word om daaraan deel te neem nie.”

Venessa Earle, ʼn ouer van twee laerskoolseuns in graad 1 en graad 5, vertel dat hulle reeds verlede jaar, voor die aanvang van haar jongste seun se graad 1-skooljaar, die opdrag vir die praatjies gekry het. Sy beaam ook dat dit ʼn groot taak was om vir ʼn kind wat nog nie taalvaardig is nie ʼn toespraak te leer.

“Hulle het vir ons die opdrag ʼn rukkie voor die nuwe skooljaar gegee, omdat dit die kleintjies baie lank vat om die toesprake te leer. My kind het miere as onderwerp gekies. Ek het self die toespraak geskryf, omdat ek dit nie kan bekostig om iemand te betaal daarvoor nie. Ek moes vir elke sinnetjie ʼn prentjie byvoeg sodat hy dit kon onthou, omdat hy nog nie kan lees nie,” sê Earle.

Sy vertel haar seun, wat vanjaar in graad 5 is, stel ook glad nie in toesprake belang nie en neem nie aan redenaars deel nie, maar vertel dat hy nog steeds sukkel met die skryf van die verpligte klastoesprake, wat in die eerste kwartaal van elke skooljaar gelewer moet word. “Die kinders word van graad 4 af geleer om toesprake met gevoel te doen en om verskillende stemhoogtes te gebruik.”

Die kinders word volgens Earle nie geleer hoe om self ʼn toespraak saam te stel nie. “Die skool waar my kinders skoolgaan, bied jaarliks toespraakwerkswinkels vir die ouers aan op ʼn Saterdagoggend. By dié werkswinkels verduidelik hulle ook hoe die puntesisteem werk en hoe elke kategorie se punt bereken word. Omdat my kinders nie hou van toesprake nie en geensins belangstel daarin om redenaars vol te hou nie, woon ek nie die werkswinkels by nie en skryf ek maar die toesprake self op eie stoom.”

Elsje Retief, ʼn spraak-en-dramaonderwyseres met meer as dertig jaar se ondervinding, is van mening dat daar tog iets te sê is vir ander vaardighede wat kinders leer met die lewering van ʼn toespraak, al het die kind dit nie self geskryf nie.

“Die kind leer om te memoriseer deur middel van prentjies, wat natuurlik help vir konsentrasievermoë. Die kind se selfvertroue om voor mense te praat word ook ontwikkel. In my ervaring kan geen kind tot en met graad 5 regtig sy eie toespraak skryf nie,” verduidelik Retief.

Sy beveel aan dat ouers wat nie oor die vermoë of tyd beskik om hul kind te help skryf aan ʼn toespraak nie, die hulp van toespraakskrywers inwin. “Alhoewel daar ʼn beduidende mark is vir toesprake wat net so van die internet af gekoop kan word, is ek nie heeltemal ten gunste daarvan nie. Dit is nog steeds belangrik dat ʼn kind insette moet lewer in sy eie toespraak.”

Retief, wat ook kinders help om suksesvolle toesprake te lewer, glo dit is belangrik dat die idees in die praatjie hoofsaaklik die kind se eie moet wees. “Daarom sal ek sit met ʼn kind en dan hou ons ʼn dinkskrum en stel dan daarvolgens ʼn breinkaart op. Daaruit verkry ons drie of vier hoofpunte en formuleer dan die kind se mening daarvolgens. As die kind nog baie jonk is, sal ek ook die ouer se hulp inwin wat navorsing en bronne betref.”

Sy sê alhoewel kollegas in haar veld haar gemaan het dat haar fooi te laag is, vra sy R800 om die kind twee tot drie maal te sien om die toespraak te skaaf, en fasiliteer die skryf daarvan.

Lizz Meiring, bekende aktrise, skrywer en beoordelaar van talle redenaarskompetisies, sê daar is kinders wat natuurlike kommunikeerders is en ander kinders wat uitgebou moet word. Sy is ook van mening dat daar niks verkeerd is met die afrigting van ʼn kind in die lewering van ʼn toespraak nie en glo net soos Retief dat dit belangrik is dat ʼn kind self betrokke is by die skryf van ʼn praatjie.

Sy sê dat kinders wat nog nie taalvaardig is nie met behulp van ʼn klankopnemer moontlik ʼn praatjie makliker kan baasraak. “Ek weet glad nie of dit sal werk nie, want party mense raak mos meer selfbewus wanneer hulle hul eie stemme hoor,” sê sy.

“Probeer egter om saam met die kind te sit en ʼn gesprek te voer oor die onderwerp. Dit neem die vrees van die wit papier voor jou weg en maak jou brein meer oop en ontspanne. Speel dan die opname terug en lig die belangrike punte uit wat die kind aangeraak het. So bly dit die kind se eie werk, alhoewel hy dan ʼn meer geleerde volwassene gehad het wat hom kon help om sy gedagtes sinvol en gestruktureerd te formuleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Gert ·

Toesprake (wat ouers skryf), take (wat ouers maak), duur sport klinieke tydens vakansies (verskuilde omkoopgeld vir span-plek). Een groot gekheid.

Mariaan Kühn ·

Daar is soveel onnodige druk op kinders en ouers wanneer dit by skoolwerk kom. Dis belaglik om eens te oorweeg om iemand anders te betaal vir n kind se toespraak! Wanneer gaan ouers begin nee sê vir die te hoë eise wat onderwysers/hoofde aan ons kosbare kinders stel? En wanneer gaan ouers aandring dat onderwysers ophou om hulle pligte af te skuif na ouers of au pairs? Geen wonder soveel kinders sukkel deesdae met ernstige sielkundige probleme op jong ouderdom nie! Jong kinders behoort toegelaat en aangemoedig te word om op n informele, speel-speel manier vir maats en sy/haar onderwyser te vertel van wat hulle opgewonde maak, in plaas van ‘n toespraak te memoriseer wat vir die kind niks beteken nie.

Estelle ·

Waar is die dae wat jy jou eie storie kon vertel. Nou is daar sekere punte waaraan voldoen moet word en dit vir n gewone klas toespraak. Ek het geen keuse gehad as om een te koop op redenaars.co.za waarna die juffrou my van plagiaat beskuldig het!
Meer as belaglik!

Ma ·

Genugtig, wat het geword van speel en self jou boomklimwerk te doen!?
Geluk my kind, Mamma weet dat jy elkeen v jou 4/10 punte self verdien het

Piet Pompies ·

Ag nee wat, my eerste twee van die drie kinders is dogters en hulle het van nature daarvan gehou om te praat. Ons het baie stories uit boeke vir hulle gelees om ‘n gesonde woordeskat te bou. As dit by die toesprake kom het ons as ouers die kinders gehelp met kreatiewe idees met hul eie woorde. Hierdie proses was nog altyd suksesvol vir ons. Selfs nou dat ons kinders self ouers is, lees en vertel ons tot twee stories per dag aan die kleinkinders. My vrou self gee klas by die kleuterskool en dit is opmerklik dat ons kleinkind en ander ouers se kinders wie se ouers stories vir hulle lees ‘n groter woordeskat het. So, kry ‘n lekker leesboek vir jou kind, laat hulle self kies, dit is ‘n belegging in sy toekoms en is volhoudbaar en maak jou kind onafhandlik.

Marius Venter ·

Dis hartseer dat geld betaal moet word vir n vaardigheid wat aan ons kinders geleer moet word. Gaan my dogter ook n toespraak koop die dag wat sy vir haar eerste onderhoud gaan? n Kompetisie is daar vir ons kinders om hul vaardigheid in verskeie genres te toon, maar nou moet n toespraak gekoop word slegste by goedgekeurde skrywers anders staan hulle nie n kans om te wen nie. So hartseer dat sakke gevul word eerder as om n slypskool te hou vir die R800 oor 3 dae dat Jannie sy eie suksesvolle toespraak kan skryf.

Maria ·

Dis ‘n lewensvaardigheid om voor ander mense te praat-hoe jonger kinders daaraan bloot gestel word- hoe groter is die kans dat hul ‘n goeie spreker sal kan word. ‘n Graad een kind kan dalk nie self die toespraak neerskryf nie, maar kan beslis vir sy ouer sê wat hy wil sê. As die toespraak binne ‘n kind se verwysingsraamwerk is, leer hulle dit baie maklik aan.

Anmar ·

Daar word beslis te veel druk op te jong kinders vandag uitgeoefen. Jonger kinders kan in sy gewone mondelinge periodes oor selfgekose onderwerpe praat sonder dat die kind die stres van kompetisie en ‘n vooraf-geleerde toespraak hoef te ervaar. Na 30+ jare as onderwyser weet ek dat kinders eers vanaf graad 7 en in ‘n mindere mate, gr.6 gereed om oor ‘n onderwerp te besin en sy gedagtes logies agtermekaar te kry. Wat is nut dan daarvan om iemand anders se gedagtes te gaan bepraat? In baie gevalle stem die kind nie eens saam met wat hy moet sê nie, maar hy word afgerig en daar word van hom verwag om ander te oortuig van ‘n standpunt wat nie syne is nie. So wat kweek ons hier: Eerlikheid? Selfhandhawing? Of dalk strooipoppe vir wie ander die toutjies moet trek? Gun asseblief kinders hulle kort tydjie van kindwees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.