My ouma in kaneel…

Ouma

Foto: Kevin Moore.

Hierdie woorde uit die bekende Opperman-gedig wek by ’n mens ’n sekere emosie oor ’n ouma. Tradisioneel was oumas mense wat gebak en gebrou het, naaldwerk gedoen het en lekker kos gekook het. Dit is seker dié dat die digter sy ouma met kaneel assosieer. Oumas maak pannekoek en melktert.

Toe ek gevra is om hierdie artikel te skryf het my gedagtes onwillekeurig na my eie twee oumas teruggegaan. Ek was bevoorreg om twee wonderlike oumas te hê.

As ek moet sê wat my opval van my oumas en waarom ek met soveel liefde aan hulle terugdink, is dit dat hulle tyd gehad het vir my. Of dit ten minste so laat voel het. Dit was asof hulle diep en intens in my doen en late belanggestel het en my van baie klein af met respek en liefde behandel het. Onvoorwaardelike liefde. Hulle het ’n diep indruk op my lewe gelaat; nie omdat hulle vir my gepreek het of omdat hulle my aktief probeer dissiplineer het nie, maar deur hul voorbeeld. Weer eens is die eeue oue wysheid dat ons meer leer uit iemand se voorbeeld as wat hulle sê, waar. ’n Mens leer deur dop te hou en ek dink kleinkinders hou hul oumas fyn dop. Hulle leer uit die verhouding wat die ouma met hulle ouers het, hulle leer hoe ouma vir oupa hanteer en hulle leer uit hoe ouma hulle hanteer. Indien ’n kleinkind veilig en geliefd by ’n ouma voel, is dit een van die grootste geskenke wat sy vir hulle kan gee.

Maar in vandag se samelewing het oumas wyd uiteenlopende rolle en dit is nie altyd so maklik om te weet wat ouma se rol presies behels nie. Verskillende kulture en situasies veroorsaak dat die rol wat ouma speel verskil. Soms is ouma ’n formele, veraf figuur wat met baie respek hanteer word as die matriarg van die familie. Sommige oumas is hulle kleinkinders se bron van plesier, want by ouma speel ons, en eet ons lekker en word ons bederf. Ander oumas is vir alle praktiese doeleindes meer ’n ouer vir die kind as ’n grootouer: Hulle versorg die kinders elke dag ná skool en soms woon die kleinkind by sy of haar ouma omdat die ouers dood is of nie vir hom of haar kan sorg nie. Elkeen van hierdie situasies het sy eie uitdagings, maar ek stip ’n paar beginsels neer.

Indien ’n ouma nie die primêre versorger van die kinders is nie, moet sy die dissiplinestelsel van die ouers ondersteun en nie voor die kinders verskil oor situasies sover dit dissipline raak nie. As ouma die primêre versorger is, moet die ouers hulle waarskynlik neerlê by ouma se dissiplinestelsel. Alle verhoudings met kinders gaan in die eerste plek oor konneksie, met ander woorde daar moet oogkontak, aanraking en liefdevolle teenwoordigheid wees vir kinders om goeie bande met volwassenes te kan bou. Kinders moet gesien word as “klein mensies” met behoeftes en emosies van hulle eie en as sulks gerespekteer en behandel word. Ek wil oumas aanmoedig om nie alle grense oorboord te gooi en kleinkinders toe te gooi onder geskenke en om hulle te bederf nie. Dit leer hulle nie goeie lewenswaardes nie.

Liewe Ouma, leef vir jou kleinkinders, vir dié mense wat jy graag wil sien hulle moet wees.

Oumas is kosbare mense en ek salueer in hierdie Vrouemaand alle oumas wat op ’n liefdevolle manier omgee en by hulle kleinkinders betrokke is.

Meer oor die skrywer: Karin Grobler

Karin Grobler is ʼn ma, ouer-opleier (parent coach), spelterapeut, pastorale berader, beroepsvrou en ʼn volgeling van Jesus Christus. Sy het in 2013 haar M-Phil graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Karin het ʼn produk ontwikkel wat sy Gevoelsmaatjies noem, wat ʼn handige hulpmiddel is om kinders te help om emosionele vaardighede aan te leer. Besoek gerus haar webwerf.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Esmé ·

Ek het 2pragtige kleindogters en is sommer baie lief vir hulle. Dit is vir my heerlik om vir die 2studente kos te maak wat dan saamgaan Stellenbosch toe vir opwarm saans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.