My pleegfamilie – my toekoms

ouerskap-pleegsorg-ma-pa-en-kind

Foto: Lela Johnson/Pexels.com

“Sonder my pleegfamilie se onvoorwaardelike liefde sou my lewe op niks uitgeloop het.” Só beskryf ʼn pleegkind sy ervaring nadat hy as driejarige in pleegsorg geneem is. Vandag, as jong volwassene, staan hy sy skoene vol in die samelewing met die wete dat hy een van die gelukkiges is.

Kinders wat deur die wet van hul biologiese ouers verwyder word, deel gewoonlik een belangrike eienskap: trauma. Dit kan nie-gewelddadig wees, soos fisieke of emosionele verwaarlosing, of dit kan die ergste geweld insluit. Maar selfs dít wat lyk na mindere trauma kan ʼn kind laat met emosionele letsels wat kan manifesteer in reaktiewe gedrag of emosionele kwessies soos ʼn negatiewe selfbeeld.

“Kinders wat verwaarloos word, ervaar verwerping en gebrek aan liefde en warmte. Dit kan daartoe lei dat hul sukkel om hul emosies uit te druk,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

Huidige wetgewing bepaal dat ʼn kind vir twee jaar in pleegsorg geplaas word, met dien verstande dat alle pogings aangewend behoort te word om die kind by sy biologiese ouers terug te plaas. Elke twee jaar sal die bevel verleng word na gelang van die omstandighede. Daar is gevalle van ernstige geweld wat verhoed dat ʼn kind teruggeplaas sal word. Pleegouers kan ná plasing van ʼn kind in hul sorg aansoek doen vir ʼn pleegouertoelaag.

Maar nie alle kinders wat van hul ouers weggeneem word (of wees gelaat is) beland in pleegsorg nie. In gevalle van erge mishandeling kan kinders eers in huise van veiligheid opgeneem word en moontlik later in pleegsorg geplaas word of selfs aangeneem word. Die ander alternatief is natuurlik om in ʼn kinderhuis te woon tot en met 18-jarige ouderdom.

Corrie Theron, ʼn vrou wat self ʼn pleegkind grootgemaak het, en jare lank in ʼn kinderhuis gewerk het, is oortuig pleegsorg is ʼn beter opsie as ʼn kinderhuis. Dit gee die kind ʼn familiegevoel wat baie meer  geleenthede bied vir getraumatiseerde kinders, glo sy.

Van der Merwe verduidelik ʼn pleegouer se verantwoordelikhede: “Pleegouers moet ʼn veilige hawe vir ʼn pleegkind verskaf. Samewerking tussen pleegouers, maatskaplike werkers en biologiese ouers is van die uiterste belang vir hierdie getraumatiseerde kinders. In hierdie konteks stel pleegkinders hoë emosionele eise aan pleegouers/-families en terapie (arbeids-, spraak of traumaterapie) word gewoonlik deel van die patroon.

Pleegkinders en eie kinders kan aan konfliksituasies blootgestel word. Dit is bewys dat sulke situasies beter hanteer word indien die ouers ʼn stabiele huwelik en gesinsverhoudinge handhaaf. Aan die negatiewe kant is daar ook al ervaar dat pleegplasing soveel stres op ʼn gesin kan plaas dat die huwelik kan verbrokkel. “Daarom is die rol van die CMR-maatskaplike werker van kardinale belang,” verduidelik Van der Merwe. Nie net die kinders nie maar die pleegouers moet opgelei en begelei word en hul emosionele gesondheid moet deurlopend aandag ontvang.”

Theron benadruk dié stelling. Pleegouerskap stel geweldige eise en mense is nie noodwendig voorbereid daarop dat hulle ander soort vaardighede benodig as biologiese ouers nie. ʼn Voorbeeld hiervan, noem sy, is om heel aan die begin die grenslyne te trek, en dit konsekwent toe te pas. Probleme onstaan wanneer pleegouers aanvanklik probeer om ʼn kind se guns te wen en later sterker dissipline wil toepas. “Die verhouding tussen ʼn pleegouer en pleegkind is dinamies en nie ʼn genetiese een nie. Daarom is deurlopende opleiding, begeleiding en berading belangrik en bly dit belangrik totdat die kind volwasse is.”

Kinders wat kleintyd nie warmte en koestering ontvang het nie ontwikkel basiese wantroue, sê Van der Merwe. Dink maar aan die leë kyk in sekere kinders se ogies. Hul agterdogtige waaksaamheid en gebrek aan emosie kan duidelik waargeneem word. Benewens die moontlikheid van depressie in volwasse jare het sulke kinders ook moontlik ʼn lae frustrasiedrempel en sukkel so iemand om op die lang duur noue verhoudings te kan vorm.

Pleegouers kan baie bydra om kinders se negatiewe gevoelens, angs en vrese te besweer. Ouers word aangemoedig om met die kind oor sy eie ouers, vorige pleegsituasies en familie te praat. Dit kan ook help om hom na sy bekende plekke te neem. Dit help met behoud van die kind se identiteit en verseker ʼn gevoel van kontinuïteit.

“Daar moet ook gekyk word na ʼn kind se vaardighede. As hy agter sy portuurgroep is sal hy minderwaardig voel, wat kan manifesteer in gedrag soos om ander doelbewus seer te maak om sy eie tekortkominge te verberg, leerprobleme en angsmanifestasies soos diefstal, leuens of woedeuitbarstings.

“Dit is belangrik dat die kind ʼn band vorm met die volwassene/s in sy lewe, want dit gee hom vertroue in homself en ander; dit lê die grondslag vir sy ontwikkeling op alle lewensvlakke; help om ʼn gewete te ontwikkel, verminder negatiewe gevoelens soos jaloesie en help hom om sy vrese en angs te hanteer.

Van der Merwe glo dat pleegouerskap baie suksesvol kan wees, al is die eise so groot. “Skeiding tussen ʼn kind en sy biologiese ouers is nooit maklik nie, maar ons het al soveel suksesverhale gesien dat ons met elke pleegouerplasing vol hoop is dat dit nog ʼn sukses gaan wees.

CMR Gauteng-Oos het tans 1 119 pleegkinders wat by gesinne uitgeplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Siek ·

Dit is die GROOTSTE onding om kinders weer in die sorg van die biologiese ouers te plaas aangesien dit lyk of meeste nie rehabiliteer in daardie 2 jaar nie. Kyk wat het met Poppie gebeur! My vriendin het jare na pleegkinders omgesien . en as hulle weer terugkom nadat die ouer kamstig ‘gerehailiteer is’ is hulle van vooraf mishandel, dan neem hulle hulle na ander pleegouers toe sodat sy nie kan sien hoe hulle seksueel mishandel en misbruik is nie. PERSOONLIK voel ek as ‘n kind eers eenkeer by ‘n ouer weggevat moet word, verbeur hulle hulle reg om die kind groot te maak en kan die kind op 16 of 18 besluit of hy na die biologiese ouers wil teruggaan. Andersins word hulle van pleegouer tot pleegouer geskuif, van skool tot skool wat net verder bydra tot hulle insecurities. Sy het die ander twee aangeneem en hulle is vandag almal geleerd en het ‘n goeie lewe gehad, maar die enetjie wat bly teruggegaan het na die biologiese ouers is vernietig . so ja . daar is my twee sent.

AFRIKANER ·

Ons is GLAD nie onseker oor ons moedertaal nie maar daar is ‘n ongekende aanval op ons moedertaal .. Skole word aangeval, universiteite word aangeval, afrikaanse feeste word aangeval, alles wat Afrikaans is word aangeval, toegemaak en vernietig .. vreemd dat almal moedertaal onderrig skreeu SOLANK dit net nie Afrikaans is nie. Ek dink ons AFrikaners is baie secure in ons taal, dit is die AANSLAE van buite wat te veel raak om af te weer en die ‘pleasers’ doen alles om die aanvallers gelukkig te hou. Ons sal maar alles privaat doen . soos in ander lande mense Christenskap in die geheim beoefen sal ons maar Afrikaanse skole, universiteite en feeste op PRIVAAT landgoede bou en so ons taal laat voortleef sonder enige inmenging.

Anoniem ·

‘n Dierbare vriendin is baie lief vir kinders – het selfs vroeër jare ‘n kleuterskool gehad. Ongelukkig kon sy nooit haar eie biologiese kinders hê nie. Maar sy en haar man het twee pleegseuns, en hulle is PRESIES wat daardie twee kinders nodig gehad het. By hulle het daardie kinders weer heel en gelukkig geword. My grootste respek aan hulle.

CK ·

Ek het die grootste respek vir pleegsorgouers. Dit is nie jou eie nie, maar maak die bloedjies soos jou eie groot. Jesus kies hierdie mense – jy kies nie jouself nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.