ʼn Klein skooltjie met ʼn groot hart

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Laerskool Pierneef is vanjaar 65 jaar oud. Dis ʼn skool in die hartjie van die Pretoriase Moot.

Hoewel baie plekke vernoem is na die beroemde skilder J.H. Pierneef, is ons skool Pierneef se hartland. Hy het ʼn paar blokke van die skool af gewoon en gewerk. Pierneefstraat wat voor die skool verbyloop, is ook na hom vernoem.

Die afgelope 10 jaar het die getalle verdubbel tot 800 leerders. Die onderrigtaal is steeds Afrikaans. Ons plaas baie klem op die vestiging van norme en waardes in ʼn wêreld waar daar ʼn gees heers van “Anything goes”. Ons het ʼn formidabele ondersteuningspan en bestuur wat altyd die ekstra myl sal stap. Die onderwysers is kindgerig en streef daarna om gelukkige kinders te huisves.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Ons klasse strek vanaf gr. RR tot gr. 7. In gr. RR en gr. R word die grondslag vir formele onderrig gevestig.

Ons het ʼn uitnemende personeel. Vir die tweede keer in vyf jaar spog ons met ʼn gr. R-juffrou wat aangewys is as die beste in Gauteng. In 2013 is juffrou Paula aangewys as die derde beste in die land. Juffrou Maryke volg in haar voetspore hierdie jaar. Sy is die algehele wenner in Gauteng. Ons is baie trots op haar en hou duim vas vir die finale ronde van die National Teachers Awards. Sy glo met speel en lag kom ons deur elke dag.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Daar is drie gr. R-klasse met goed gekwalifiseerde personeel wat elke klein Pierie op die hande dra. Daar is nog plek beskikbaar vir nuwe Pieries in die gr. RR- en R-klasse vir 2019. Kom word deel van die Pierie-familie.

By Laerskool Pierneef glo ons dat daar ʼn balans moet wees tussen kultuur, akademie en sport.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Ons personeel is voortdurend besig om hulself te verbeter deur verder te studeer ten einde hierdie kwalifikasies terug te ploeg in die klasse. Sommiges het reeds honneursgrade, ander is besig met meestersgrade. Verskeie van ons personeel word deur die distrik genader om hul kennis oor te dra deur opleiding te gee aan ander skole.

Die grondslagfase het hul inspeksie deur die departement met vlieënde vaandels geslaag en is ook gevra om hul werk ten toon te stel vir besigtiging deur ander skole. Pierneef se personeel stel ook vraestelle op wat deur al die skole in die distrik gebruik word – ʼn bewys dat ons skool hoog geag word deur die distrik.

Op kultuurgebied het ons ʼn passie vir kore en voordrag. Ons behaal groot sukses met kunswedstryde. Met 61 deelnemers was daar ses afdelingswenners en 45 goue sertifikate. Ons staan bekend as ʼn skool met ʼn koor van hoogstaande gehalte. Ons glo dat elkeen ʼn kans gegun moet word om hul kultuurvlak te ontwikkel en daarom hou ons elke drie jaar ʼn revue waaraan elke leerder van die skool deelneem.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Dit is groot pret en lekker vir elke personeellid om te sien wat ons met kinders kan vermag. Soms is dit vir die kind ook ʼn groot “WOW” om te sien waartoe hulle in staat is. Met hierdie betrokkenheid van kind en ouer bou ons aan ʼn groot gees van betrokkenheid en pret.

Op sportgebied is ons ook net so suksesvol. Ons afrigter maak seker dat hulle op hoogte is van die nuutste reëls. Hulle behaal baie hoë uitslae in hul jaarlikse eksamens. En van ons afrigters was betrokke by Tukkies se jeugrugby. Ons 0. 11-sagtebalspan tree uit as algehele wenners, ons lewer ʼn Cravenweek-rugbyspeler op en twee leerders behaal provinsiale klere in atletiek.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Verskeie sportsoorte word aangebied. Netbal, rugby, tennis, krieket, sagtebal en swem. Ons is een van ʼn paar skole oor in die Moot wat nog ʼn swembad het en galas aanbied. Swemlesse vir waterveiligheid word ook aangebied.

Deur die jaar is daar ook tyd vir pret. Ons hou jaarliks ʼn groot kaskardag en ʼn kermis wat jaar ná jaar groei. Onderwysers en ouers vat hande om hierdie geleenthede ʼn groot sukses te maak. Hier versterk ons weer eens die gees van die skool.

Ons bied gereeld ook uitreikaksies aan waarmee ons mense in die gemeenskap se laste probeer verlig. Ons voedingskema is iets waarop ons werklik trots kan wees. Ons het ʼn pragtige kombuis ingerig waar daar gereeld kospakkies gemaak word vir minder bevoorregte gesinne en as daar ʼn maatjie is wat ʼn dag nie ʼn broodjie het nie, is juffrou Janine meer as bereid om gou-gou ʼn broodjie te smeer. Daarom staan ons dan ook bekend as die omgeeskool in die Moot.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Ons probeer ook ons ouers tegemoet kom deur ʼn klerebank te bedryf waar ons tweedehandse klere wat nog in ʼn goeie toestand is, te verkoop teen ʼn baie lae prys. Hier kyk ons ook na kinders wat iets nodig het en ons klee hulle om altyd in te pas om ʼn ware Pierie te wees.

Die skool se snoepie is nie sommer enige snoepie nie. Hier mag jy bestellings plaas vir wat op die spyskaart is vir die week. Ons probeer gesondheidsbewustheid by ons kinders kweek deur gesonde kos en ander eetgoed aan hulle te bied.

Ons skool beskik ook oor ʼn pragtige lapa by ons swembad asook pragtige afdakke op die sportvelde wat uitgehuur word vir funksies.

Foto verskaf deur Laerskool Pierneef

Pierneef Laerskool is ons trots en daarom is ons gedurig hard aan die werk om die omgewing en tuin in topkondisie te hou en die klasse kindervriendelik.

Ons hoof, mnr. Greyling, is ʼn hoof duisend en wat elke kind se welstand op die hart dra. Hy ken hulle almal by die naam en staan gereeld op die stoepe om te sien of daar nie ʼn maatjie is wat dalk in nood is nie. Soms knoop hy net ʼn geselsie aan om sy/haar dag te maak. Sy deur staan oop vir almal en die kinders geniet dit om te kom kuier en soms met ʼn lekkertjie uit te stap.

Mnr. Greyling se deur staan altyd oop vir enige iemand van buite wat wil kom oë wys. Kom maak gerus ʼn draai en kom beleef ’n gevoel van rustigheid en omgee-vrolikheid.

Besoek gerus ons webwerf by https://www.laerskoolpierneef.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Engela ·

So wonderlik om so ‘n bemoedigende artikel te lees! Bou so voort Pieries!

Juffrou B ·

Bevoorregd genoeg gewees, om die tweede kwartaal van my vierde jaar onderwys prakties hier te kon doen. Elke oomblik daarvan geniet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.