’n Onderwyser

Deur Carien Bloem, koördineerder vir onderwysveldtogte by AfriForum

Foto: Pixabay.com

Tussen 2009 en 2013 het ek die voorreg gehad om myself vir ’n paar jaar in die onderwys te bevind – as onderwyser, registervoog, redenaarorganiseerder, voog van die Verteenwoordige Leerlingraad (VLR), redakteur van die skoolkoerant en die tafelbeampte tydens hokkiewedstryde – ʼn titel wat ek destyds nie eens geweet het bestaan nie (die tafelbeampte van elke span hou, onder meer, tyd en telling tydens die wedstryd). Dis reg, ’n onderwyser moet min of meer alles kan doen.

Ek was vars uit universiteit en gereed om alles wat voor my deur geland het, met ywer aan te pak. Min het ek geweet dat jou taak en verantwoordelikheid as onderwyser veel wyer as klasgee strek. Vinnig-vinnig het ek ook besef dat jou werk nie om 14:00 as die skoolklok lui, tot ʼn einde kom nie. Hoekom? Twee woorde: merkwerk en buitemuurs.

En môre moet jy weer vars en wakker wees. Gereed om te leer, dissiplineer, grappe te maak en trane af te vee. En so lekker en bevredigend soos wat dit is om met kinders en tieners te werk, is dit eweneens uitputtend en wil jy soms die (klaskamer se) mure uitklim.

Nietemin berus daar ʼn groot verantwoordelikheid op jou skouers. Jy moet bereid wees om jou hart en siel in jou werk, nee, roeping, te stort.

Die klaskamer is nie soos ʼn fênsie lugverkoelde kantoor waar jy enige tyd kan uitglip om vir jou ʼn koppie koffie te gaan maak of na jou Facebook-blad te loer nie. Nee, dis bloot ʼn verhoog waar jy die geleentheid het om in ʼn kort, beperkte tyd ʼn belangrike rol in die slyp van elke leerder se toekoms te speel.

Ek is al jare nie meer ʼn juffrou nie, maar steeds, as ek oudleerders raakloop, word ek met dié titel gegroet. ʼn Belangrike titel wat nie elke dag die nodig erkenning kry wat dit verdien nie.

Vandag vier ons Wêreldonderwysersdag. En ʼn land waar geweldig baie uitdagings onderwysers toenemend in die gesig staar, wil ek net dankie sê.

My wens aan elke onderwyser op hierdie dag, is dat jy moet weet jy is onvervangbaar en dat geen land sonder onderwysers kan funksioneer nie.

Op hierdie dag dink ek aan Corné van Wyk, ʼn Afrikaanse onderwyser aan die Hoërskool Menlopark, se gedig, Windpomp:

Windpomp

(aan elke leerling wat my hart op ʼn spesiale manier aanraak)

Jy is die droë Karoo-wind
Wat fluitend deur die wiek van my siel gly,
Suiwer water van kreatiwiteit laat opborrel
Vanuit my diepste menswees
Want,
Ek wil volloop
Oorloop
Versadig wees
Sodat wanneer ek ophou draai
Daar steeds genoeg van my sal wees
Om elkeen se gebarste
dorre
droë
hart
se roes te verwyder
en liefde in oorvloed te laat bot
(dis hoe dit is)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

John ·

… vertel ons asb meer oor die onderwysveldtogte… AfriForum verbaas mens meer en meer met sy uiteenlopende betrokkenheid by alles en nog wat. Hoekom die forum se aktiwiteite so geheim hou?

Onderwyseres ·

Carien Bloem – “juffrou” is ‘n titel waarop ek trots is. Trots omdat dit die beroep is wat mý gekies het. ‘n Beroep waar ek sien hoe bang, bewerige gr.8’s in volwaardige tieners met buie en uiteindelik pragtige volwassenes, verander. Na 19 jaar van voltyds skoolhou, is elke kind wat deur my hande gegaan het, deel van my lewe. As volwassene staan ek elke dag verstom oor hoeveel ek by hoërskool kinders leer – ook van myself. Ja, ons werk lang ure, ook in die vier heerlike skoolvakansies wat ons het. Daar is baie laat nagte by die lessenaar, besig met voorbereiding, berge nasienwerk en vraestelle wat opgestel moet word. Administrasie verswelg ons en ons beroep het miskien, in baie mense se oë nie aansien nie, maar die geleenthede wat óns het om regtig ‘n verskil te maak, maak dit die moeite werd. Die vrolike groet van ‘n gr. 8 klas en die diep gesprekke met ‘n gr. 12 klas, laat my besef – ek is ‘n onderwyser in murg en been en trots daarop om ‘n verskil in die lewe van ‘n nuwe generasie Suid-Afrikaners te maak.

LM ·

Onderwys – so baie kritek teen onderwysers word gelewer maar gaan staan eers in hulle skoene vir n maand liewe ouers en dan praat ons weer. Was 40 jaar in onderwys en einde 2015 afgetree. Was alreeds van 1976 in swart onderwys betrokke en in daardie tyd was ons beskou as die dom onderwysers – dit daar gelaat – was 4 jaar in n model C skool gewees en wou nooit op enige staduim geweet het wat ouers se beroepe was nie want vir my was dit belangrik om elke kind regverdig te behandel. Onderwysers kan n kind maak of breek. Probleemkinders het iewers n probleem en moet nooit so n kind/ouers se vertroue skend nie want vertroue is nie goedkoop nie. To become someone in life you as learner has to do something – your homework. Doen alles asof jy dit vir die Here doen. Hy moet op die ou end tevrede wees met jou werk as leerder/ onderwyser. Met harde werk en deursettingsvermoe sal jy altyd beloon word. Moet nooit moed verloor nie as onderwyser/ leerder. Bid vir elke onderwyser en leerder in SA soos die Heilige Gees jou lei. Dankie aan elke onderwyser wat n verskil maak in elke leerder se lewe en ouers bystaan en help met hul probleme. Hou moed en hou aan.

jaco ·

Op die foto lyk dit of die kind besig is met die 6maal tafel, maar na 12 x 6 staan daar 13 x 7. Iewers is iets fout. Seker maar deel van die nuwe onderrigmetodes. Of wag, regstellende aksie en nie opleiding nie speel mos die absoluut primêre deurslaggewende rol wanneer aanstellings gemaak moet word. Die kind kan ook maar graad na graad druip. Dis ok; hy sal deurgesit word. Anders word sy “menseregte” mos glo geskend.

Sê net ·

Ja, dis nogal vreemd. Hoekom eweskielik met 7 maal? Maar die foto is waarskynlik nie van SA nie. Let op hoe die 7 en 2 geskryf word. Hier leer ons nie ‘n 7 en 2 so skryf nie.
Die foto kom van Pixabay.com af wat ‘n blad is waar mens gratis foto’s kan aflaai. Dit het niks met Suid-Afrika te doen nie.

dejager ·

ń Laerskool onderwyseres het die belangrikste pos in ons samelewing.Sy kan waardes plant in die toekomstige burgers van die land.Sy kan die kultuur van afbreek,stakings en wetteloosheid wat nou hoogty vier sommer vroeg nekomdraai en ń kultuur van dankbaarheid,naasteliefde en nederigheid vestig.
My voorstel vir ń beter Suid-Afrika is dat daar geen pos in die staatsdiens moet wees wat hoër besoldig is as díe van laerskoolonderwyseres nie.Dit sal verseker dat minder ‘belangrike’
poste soos parlementslede se poste gevul word deur mense wat daar is om ń diens te lewer eerder as om hulself te verryk.
Die afrikaanse gemeenskap is veral geseënd met toegewyde juffrouens.
Ek salueer elkeen van julle!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.