“Net die beste vir my kinders”

ouerskap-vaderskap

Foto: Dagon/Pixabay.com

Elke slim verkoopsman en geleentheidsontginner wat sy sout werd is, weet dit ook.  Daardie frase van “net die beste” is jou kaartjie in in die hart en beursie van brose ouers wat nagte wakker lê van bekommernis oor hoe help ek my kind uitstyg bo die massas. Niemand sal die skande van “nee dankie vir net die beste vir my bloedjie” oorleef nie.

Maar wat as my malle gejaag na “net die beste vir my kinders” op ʼn manier vir hulle kommunikeer en leer dit gaan oor “net die beste”, maar net vir hulle? En dis die verwronge verwagting en vereiste waarmee ek hulle uiteindelik die grootmenswêreld instuur:  “alles gaan oor jou – jy is geregtig op net die beste, net vir jou”.

En wat as ek in die proses van die naarstigtelike soeke na “net die beste vir my kinders” myself as die eintlike beste geskenk vir my kinders so saam met die vreugde en voorreg van ouerskap verloor?

Die werklike heel beste vir my kinders is om heel eerste te verstaan hierdie lewe gaan nie oor hulle nie en die wêreld kan onmoontlik nie om hul gerief en gemak draai nie. Ons pas almal in ʼn baie groter prentjie in. Ons gesin is ʼn oefenplek waar ons vyf leer om mekaar in ag te neem om uiteindelik buite die mure van ons huis ʼn positiewe bydrae te maak tot ʼn groter gemeenskap en ʼn groter doel!

Jannie Putter skryf in sy boek, Wenplan vir jou kind se lewe dat ouers motiveer nie hulle kinders nie – hulle inspireer deur hulle voorbeeld. Ek onthou ook hoe bemoedigend die woorde van ʼn Baba en Kleuter tydskrif artikel was toe my kinders nog klein was:  “As jy ʼn sonstraaltjie wil groot maak, wees ʼn sonstraaltjie!” of die aanhaling uit ʼn preek waarna my man luister:  “If you want to raise Godly children, be a Godly parent.”

Uit my ervaring in die gemeenskap, waar ek met soveel hopeloosheid te doen kry, weet ek ʼn hopelose ouer sukkel om hoopvolle kinders groot te maak en roepinglose ouers kan nie regtig kinders van ʼn God wat roep oortuig nie.

In al hierdie rolle en verantwoordelikhede as ouer, voel dit vir my eintlik makliker om eerste vir myself verantwoordelikheid te aanvaar deur self positief en hoopvol, doelgerig en gedissiplineerd te wees, as om te voel soos ʼn rasieleier wat nie regtig weet wat in iemand anders se kop en hart aangaan nie, maar hulle sover moet kry om wawiele van opgewondenheid te doen.

As jy die berge “beste” buitemuurse aktiwiteite vir jou kinders opsaal vir redes soos “ʼn geleentheid om hul talente te ontdek, karakter te bou, sosiale- en ander belangrike lewensvaardighede te ontwikkel, vir gesondheid, vir pret en sommer vir aandagafleibaarheid ook”, hoe lyk jou eie buitemuurse belangstellings om hierdie lang lys voordele ook in jou eie lewe te laat realiseer?

Wat doen jy vir jou brein en hart, gesondheid en geluk, vir jou vriendskappe en geestelike groei en sommer net vir die pret? Watter boeke lees jy, hoe lyk jou oefenprogram en wanneer raak jy stil? Het jy nog doelwitte wat jy najaag, hoe simpel dit ook al mag klink?

Ons verwaarlosing van onsself kan eintlik ons kinders met ʼn onregverdige skuldgevoel en verantwoordelikheid belaai, waar hulle nie kan bekostig om te “flop” nie, want dan flop my ma en pa, wat alles (op)gegee het sodat ek die beste kan hê en wees en doen, óók.

Ek moet mysef gereeld (hardop) herinner dat God selfs meer besorg is oor Paul en Hugo en Nina as wat ek is en eerder, ten spyte van my werk, as weens my. En al sal ek weer nie “Ma-van-die-jaar” in 2016 wees nie, is ek steeds God se eerste en beste plan vir ons kinders.  My beste bydrae is om die beste Lindie te wees wat ek kan wees as inspirasie vir hulle om ook die beste Paul, Hugo en Nina te wees tot verheerliking van God en tot voordeel van almal om hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Lorraine Steyn ·

Ek stem so saam met jou Lindie. Die beste ding wat ons ons kinders kan leer, is om waarlik en opreg om te gee vir ander. Soos met soveel belangrike besluite wat ons neem in andet areas van ons lewe, moet ons God ook ken in ons besluite wat ons oor ons kinders neem. Dankie dat jy jou hart deel.

Nita ·

Nou hoe dan? Ek moet vir my kinders van ‘n gesonde dieet voorsien sdt hulle kan groei en gesond kan bly, sodat hulle kan leer, slim word en ‘n goeie werk kry. Maar ek kan net soveel bekostig, ek bly dus sonder die gesonde, gebalanseerde dieet en eet net die oorblyfsels. Ek is verantwoordelik vir hulle, ek moet sorg vir hulle in elke opsig, ek is die een wat moet swaarkry om hulle groot, sterk, slim, gelukkig en suksesvol te kry. Ek bederf hulle nie, ek gee hulle net wat hulle nodig het (en ontneem myself van elke moontlike bederf, genot, rus, ens). Ek weet nie meer nie. Ek gee op.

Andre ·

Nita ..

.’ die beste dinge in die lewe,
my ou maat is..
GRATIS!”

Sonskyn, vars lug, natuurskoon, voëlgesang, voetslaan, tuinmaak, kuier, … die lys gaan aan!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.