Noordwes-ontwerpskool bied internasionale kwalifikasie

Gert-Johan Coetzee met die eerste student in die lisensiaatskap, Prudence Kau. Foto: Verskaf

Gert-Johan Coetzee met die eerste student in die lisensiaatskap, Prudence Kau. Foto: Verskaf

Die Northwest School of Design, waarby die bekroonde ontwerper Gert-Johan Coetzee betrokke is, bied nou ʼn lisensiaatskap in mode aan met internasionale erkenning.

Dié lisensiaatskap is die hoogste internasionaal-aanvaarde modekwalifikasie en die enigste van sy soort wat in Suid-Afrika aangebied word. Studente aan dié instelling kan uiteraard nou toegang kry tot praktiese en beroepsgerigte-opleiding wat studente leer om entrepreneurs te word, asook ʼn formele kwalifikasie van City & Guilds of London, wat wêreldwyd erken word.

“Die probleem met baie universiteit- en kollegekwalifikasies is dat jongmense gradueer met min of geen praktiese ondervinding nie, wat hulle nie altyd so aantreklik maak vir werkgewers nie. Dit beteken ook dat hulle nie weet hoe om as entrepreneur hul eie werk te skep nie. Ek is ‘n groot ondersteuner van beroepsgerigte opleiding,” sê Gert-Johan.

Hy het pas die eerste student in die lisensiaatskap, Prudence Kau, aanvaar.

Prudence (23) is ‘n voormalige wenner van Coetzee se beursprogram wat haar derde jaar in 2015 voltooi het en nou in-diens-opleiding kry by die ontwerper se ateljee in Johannesburg.

“Ek het ’n week gelede by Gert-Johan se ateljee ingeval. Alles wat ek vanjaar leer, sal deel vorm van my portefeulje wat ek gereedmaak vir November wanneer ek vir die lisensiaatskap geassesseer word. Alles is prakties en relevant,” het sy gesê.

Die een-jaar lisensiaatskap volg na drie jaar van voltydse studie in mode-ontwerp of mode-kommunikasie en -aankope. Registrasie vir eerstejaarstudies sluit op 11 Februarie. Aansoeke vir Gert-Johan Coetzee se beurs vir 2017 sal later vanjaar open.

Vir meer inligting, skakel die skool by 018 462 5149 of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.