Nou dat ek ʼn ma is, wil ek jammer sê…

Argieffoto (Foto: Ryan McGuire/Pixabay)

Nou dat ek ʼn ma is, besef ek al meer hoe waar die sêding is: Daar is niemand wat so ʼn goeie ouer is soos die persoon wat nog nie ʼn ouer is nie.

Die spreekwoord, “moenie iemand oordeel as jy nog nie ʼn myl in daardie persoon se skoene geloop het nie” het ook ewe skielik baie waarde vir my gekry.

Ons lewe in ʼn tyd waar almal ʼn opinie het, maar nie seker maak van die feite nie. Sosiale media het dit ook baie maklik gemaak om maklik iemand iets toe te snou wat ons nooit aan sou dink om in lewende lywe te sê nie … Omdat ons die persoonlike kontak verloor het en net ons opinie neerpen op ʼn skerm, hoef ons nie meer daardie persoon in die oë te kyk en te sien watter uitwerking ons opinie op hom of haar het nie. Ons verloor ons empatie daardeur en so ook ons naasteliefde.

Wat het my ewe skielik van hierdie werklikheid bewus gemaak nou dat ek ma geword het? Ek was altyd maklik uitgesproke oor ouers wat nie beheer het oor hulle kinders nie; mense wat heen en weer swaai oor die pad met hulle motor of vreeslik stadig ry; die ouers wat nie hulle kinders kan laat ophou huil en skree in die woonstel langs ons s’n nie. Die lysie gaan aan. Ewe skielik is die skoen egter aan die ander voet.

Nou is dit ék wat klagtes kry van die bure oor my kinders wat vreeslik skree. Hoe verduidelik jy vir die bure dat jou kind erge refluks het en die huil en skree is uit pyn en frustrasie omdat hy nie kan kos inhou nie …?

Nou is dit ek wat óf te stadig ry óf heen en weer vleg oor die pad om so vinnig moontlik by die veiligheid van die huis te kom omdat ek ʼn histeriese, huilende baba met ʼn vuil doek, probeer troos of versnaperinge uitdeel oor die sitplek agtertoe, of omdat ek ʼn moeë kleuter probeer gelukkig hou in die laaste uur van die dag …?

Nou is dit my kinders wat soms ʼn drifbui in die winkel het omdat hulle nóú ʼn sjokolade wil hê. (En met hierdie een was ek erg uitgesproke in die jare BC (Before children). “My kinders sal dít nooit doen nie”.) Maar nou doen hulle dit, en ek mag nie ingee nie want ek moet my kinders leer dat jy nie altyd iets kry waarvoor jy vra nie, maar die oordeel drup dan van die mense af wat nie hou van die geskree nie, maar ook eerste sal wees om te verklaar ʼn kind is bederf as hulle net altyd alles kry wat hulle vra.

Nou dat ek ʼn ma geword het, het ek tot die besef gekom dat ʼn mens kan nie wen nie. En dis miskien hoekom ek nou minder omgee wat ander van my dink. Dalk het ek nou vir die eerste keer in my lewe “groot” geword. Ek aanvaar nou ek is nie ʼn Nutella-botteltjie nie – ek kan nie almal gelukkig maak nie.

Ek het ook tot die harde besef gekom dat ek baie mense ʼn verskoning skuld. Mense wat ek heel moontlik nooit weer in my lewe gaan sien om hulle persoonlik om verskoning te vra nie. Die ma in die woonstel langs ons met die skreeuende koliekbaba; die moeë ma en pa wat op die vliegtuig voor ons gesit het wat nie hulle tweeling kon “beheer” nie. Om doodeerlik te wees het ek nou, nadat ek die uitdaging van twee-onder-twee ervaar het, baie meer respek vir iemand wat beheer oor twee van dieselfde ouderdom moet uitoefen.

Ouerskap het my geleer dat niemand die stryd ken waardeur enige iemand anders gaan nie en dat ons moet leer om sagkens met mekaar om te gaan. Selfs met onsself.

Ek is party dae so ontsettend moeg van min slaap as gevolg van twee siek kinders dat ek dit uithaal op die kassier in ʼn winkel. Ek is party dae so uitgeput om sterk te staan op die grens wat ek vir my kleuter stel om nie iets te kry as hy nie eers asseblief sê nie, dat dit voel of ek sopas klaar is met ʼn Survivor-uitdaging (en ek het nie eens ʼn immunity idol om daarvoor te wys nie), en dat my humeur korter is op die pad as gewoonlik. Ek is party dae so uitgeput om ʼn skeidsregter te speel tussen my twee kleuters, dat ek moet kies watter stryd om te verloor, sodat ek die oorlog kan wen aan die einde van die dag.

Mag ek leer om vir ander ʼn bietjie grasie en genade te gee in my elke daagse bestaan, sodat ek dit hopelik kan kry volgende keer as ek aan die ontvangkant staan.

Ek is jammer …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eve ·

Pragtig, en mag ek net noem, die volgende groot les wat jy gaan leer is om nie te se: “My kind sal nooit…” Sterkte en geniet die proses, dit gaan so gou verby.

Liefie ·

Hierdie is kolskoot!. Jy word eers regtig “groot” as jy n ouer is maar die groot geheim is om altyd die wereld deur die oog van n kind te sien. Dit is waar die magic lê. Gee bietjie meer en vra baie minder…..

BOKKIE LANGEVELDT ·

Ek het eendag lank gelede n dame met n baba in die winkel gesien wat se kind se gesig besmeer was met sjokelade. My woord aan my man was gewees kan die vrou nie die kind se gesig afvee voordat hulle winkel toe gaan nie. Glo my, Vvandag weet ek van beter. Jy vee nou af en as jy weer sien het my 16 maande oue seuntjie sommer die pakkie rolo sweeties in die waemtjie begin ett met papier en al . baie dankie vir n pragtige stukkie en dankie dat ek ook nou weer onthou dat alle mammas (en pappas ) maar swaar kry.

Elsanie ·

Die dag toe ek ‘n ma word…….het ek skielik meer respek en simpatie met my gehad. Dis asof ek haar net beter kon verstaan. My man se altyd ons oordeel nie ander ouers tot ons kinder ook daardie ouderdom is nie. Ek het ook altyd gesê my kinders sal nooit……nou lag ek lekker vir my kinderlose vriende en hulle vooruitsigte vir hulle toekomstige kinder!

Vasvat ·

‘n Vriend van ons (ook pa van twee kleuters) sê altyd; “Dis net die adres wat verskil”. M.a.w dit gaan dieselfde in al die huise. Kinders is meester manipuleerders. Ons as ouers moet deurdruk en van hulle mense maak wat positief kan bydra tot die samelewing en nie almal gaan irriteer nie.
Baie ouers gee deesdae te maklik in en hulle doen niemand ‘n guns nie. Kinders kry alles heeltemal te maklik en skryf vir hulle ouers voor. Gaan hulle skool toe raak hulle die onderwyser/es se probleem en hulle hande is afgekap want hulle mag nie dissiplineer nie. Dit is in die eerste plek ook nie hulle werk nie. “Charity begins at home”.

Sue ·

Dankie vir die ongelooflike mooi stukkie. Jy verwoord alles wat ‘n mamma voel en dink en ervaar so akkuraat. Ek waardeer veral die stukkie wat sê dat ons sagkens met mekaar moet omgaan, ook met onsself. Maar dalk VERAL met onsself. Liefde aan jou x

Magaretha van heerden ·

Die rede van jammer wees strek baie verder as dit. As ek kon sou ek net aanmekaar dankie gese het vir my ma vir wat sy alles opgeoffer en gedoen het vir my. Mens aanvaar jou ma so maklik as vanselfsprekend. Sou wat wou gee om weer vir haar te kon se hoe lief ek haar het, hoe mooi sy vir my is en hoe ek alles waardeer. So jammer mens besef dit alles te laat.

Pink ·

Ek het die dag toe ek kinders gekry het besef wat my Ma vir my regtig beteken, en ek is haar ewig dankbaar vir die opvoeding wat sy my as kind gegee het.

Db ·

Dankie vir my pa wat ons kinders groot gemaak het en die waarde van maniere geleer het. Hierdeur kon ek my kinders ook grootmaak met maniere en hulle het hierdie lesse weer aan hulle kinders oorgedra. Dankie pappa dat jy streng was maar ook lief was vir ons sodat ons die waarde van jou as mens kon beleef en voortdra. Ek mis jou nog elke dag

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.