Nuwe app laat kinders flink lees

Die Studeer Sonder Sukkel-app. Foto: Verskaf

Die Studeer Sonder Sukkel-app. Foto: Verskaf

Die Virseker Trust en die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO) het onlangs ʼn app bekendgestel wat poog om die leesvaardighede van leerders tussen graad 4 en graad 12 te verbeter.

Saskia Meijer, hoof uitvoerende beampte van die ICO, sê die instansies wil met die Studeer Sonder Sukkel-app die jongspan sover kry om weer gereeld te lees.

“Leesvaardighede is een van die kernaspekte van suksesvolle studie.” Jongmense hou van uitdagings en kompetisie en dié app kombineer albei elemente in ’n platform om hul leesvaardighede op ’n pretmanier te verbeter.”

Die app bestaan uit leesstukke wat volgens moeilikheidsgraad in agt vlakke verdeel is. ʼn Graad 4-leerder behoort vlak 1 te kan doen. Vlak 8 bied meer ingewikkelde leesstof wat ʼn graad 12-leerder behoort te kan bemeester, maar ’n knap graad 4-leerder ook interessant sal vind.

Elke vlak het drie leesstukke wat enigiets van interessante, selfs humoristiese gedigte en resepte tot koerantberigte of tongknopers kan wees. Nadat elke stuk gelees is, moet leerders drie vrae korrek beantwoord voordat hulle na die volgende vlak kan beweeg. Leerders kry net ’n sekere tydperk en moet veral hul visuele geheue en begripslees inspan as hulle die vrae korrek wil beantwoord.

Daar is egter groter planne met die app. “Die toepassing is só ontwikkel dat daar uitbreidingsmoontlikhede is wat leerders later ook kan help met slim tydsbestuur en beter leefstylgewoontes. Die moontlikhede van dié tipe toepassings is feitlik onbeperk en skep baie opwindende vooruitsigte vir innoverende Afrikaans-onderrig – ’n sleutelfokuspunt van die Virseker Trust,” het Elmarie Twilley, woordvoerder vir Virseker, gesê.

Die Studeer Sonder Sukkel-app is nou gratis op die Google Play Store beskikbaar. Die app vertoon as “Lees” ontwikkel deur Limitless Virtual.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Enna Burger ·

Ek wil dit graag van my Lab top aflaai, ons bly op ‘n plaas en nie naby groot dorpe nie, hier is nie by naburige dorpe apps nie. My kleinseun is outisties en …. hy is 6 jr. en ons sukkel baie met hom. Help my asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.