Nuwe dokumentêr wil jeug teen selfdood, boelies beskerm

Herman Odendaal. (Argieffoto.)

ʼn Nuwe dokumentêre program is pas bekendgestel oor die 12-jarige Herman Odendaal van Kestell in die Vrystaat, wat in Julie vanjaar sy eie lewe geneem het, grotendeels as gevolg van boelies. Dié kort dokumentêr is in samewerking met WIRED – Flip the switch deel van AfriForum se teenboelie-veldtog.

WIRED het Herman se ouers betrek en bygestaan deur die moeilike proses.

Die nuus van Herman se dood het Suid-Afrika geruk, maar sy ouers was van die begin af vasberade om sy storie te gebruik om te verhoed dat ander kinders in dieselfde posisie beland. Vandag, op die dag waarop Wêreldselfmoordvoorkomingsmaand afskop, word sy storie presies met dié doel vertel.

Leandie Bräsler, bestuurder van junior jeugleierskap by AfriForum, sê hulle het gesien dat selfmoord- en depressiesyfers tydens die Covid-19-pandemie toegeneem het.

Bräsler sê dat AfriForum se teenboelie-veldtog eintlik reeds vroeër beplan het om praatjies by skole te gaan doen spesifiek oor selfmoord, maar dat hulle as gevolg van die pandemie nie daarmee kon voortgaan nie.

Sedert 2017 het AfriForum reeds by byna 100 skole praatjies aangebied oor boelies en afknouery.

“Dit is iets wat aandag moet kry. Herman is byvoorbeeld ook geboelie omdat hy asma gehad het, en hy was te skaam om sy asmapompie by die skool te gebruik, want die kinders het hom gespot. En daar is baie kinders soos Herman,” sê sy.

Bräsler sê die kort dokumentêr is nie net om bewusmaking te skep nie, maar ook om ouers te bemagtig sodat hulle weet wat om te doen.

“Ouers moet weet wat in hul kinders se lewens én op hul selfone aangaan, veral vandag met kuberafknouery en sosiale media. Ouers moet weet waarmee hul kinders hulself besig hou.”

Bräsler sê dat dit baie emosioneel was om die dokumentêr te verfilm, juis omdat die ouers en Herman se 15-jarige suster so nou saam aan die produksie gewerk het.

“Toe ons die dokumentêr verfilm het, was daar ʼn verskriklike kouefront, dit het baie gereën en dit was mistig en koud. Dit het bygedra tot die swaar emosie wat die dokumentêr vasgevang het.

“ʼn Mens kan nie jouself in daardie ouers se skoene plaas nie, die seer is verskriklik. Maar hulle wil hê Herman se verhaal moet hoop gee – hy moet so voortleef. Sodat anders ouers hul kinders kan red voordat dit te laat is.”

Die kort dokumentêr kan op www.teenboelie.co.za of op AfriForum se Facebook-blad gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lollapot ·

Julle is dapper ouers! Maar ek weet ook dat dit NET God is wat julle soveel genade gee. . . Baie dankie vir die video, ek hoop dat dit ook ‘n boodskap na die res van die kykers sal uitdra. Herman was ‘n beautiful seuntjie! Ek bid julle vrede krag en genade toe, sterkte en liefde!
IEWERS moet boelie gedrag in die kiem gesmoor word, en vir my begin dit by die opvoeding wat jou kind by sy of haar huis kry.

Sandra ·

Baie hartroerend. Ek wil ook net se, as ouers bewus is van die feit dat hulle kinders geboelie word, moenie terughou nie. Gaan maak so ‘n “scene” by die skool, dat hulle geforseer staan om iets daaromtrent te doen. As daar geweld betrokke is, maak ‘n saak by die polisie. Toe my seuns op skool was, het mense hulle probeer boelie. Enkeer oor my seun se skoene, ek het dit onmiddelik opgelos, eenkeer ‘n onderwyseres wat my een seun ‘n noemnaam gegee het, en die kinders het gevolg, dis opgelos en eenmaal iemand in die kerkkoor. So ek het direk met die “boelies” gewerk en dit duidelik gemaak dat ek dit nie sal duld nie. Dieselfde het gegeld vir my kinders wat dit kon doen, hulle het ek sommer kortgevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.