Nuwe skooljaar, ou probleme

Foto: Markus Spiske/Unsplash.com

Deur dr. Breytie Breytenbach

Dit is weer die tyd om bewus te wees van kinders se worsteling met wiskunde. Ek wil veral jong ouers inlig oor hul geleenthede om aan hierdie toekomstige probleem (vir hulle) te ontsnap deur ten volle gebruik te maak van die eerste sewe jaar van hul kinders se lewe. Ons vermy lang verduidelikings en hou by ‘n opsomming.

Algemeen:

– Die ideale wyse van leer is om die leerinhoud of vaardigheid te beleef met so veel as moontlik sintuie en liggaamsbeweging. Dit kan dus nie op ‘n skoolbank gebeur nie, maar tuis by die gesin waar kinders kan ervaar deur te speel.

– Opvoeding kan slegs plaasvind wanneer die ouer en die kind gelyktydig saam is in dieselfde fisieke ruimte en daar wedersydse oogkontak en liefdevolle aanraking is.

– Terwyl babas en kleuters die werklike lewe en wêreld rondom hulle simuleer deur te speel, skep hulle herinneringe wat paadjies vir denke in die brein maak in die vorm van dendriete[1] wat lewenslank funksioneer.

Taalverwerwing is die eerste stap omdat alle kennis en vaardighede verwoord moet kan word.

  • Voor geboorte kan die fetus van vroeg af klanke onderskei. Mamma gesels baie met haar ongebore baba en sing dikwels ‘n liedjie vir haar baba.
  • Ná geboorte herhaal mamma die liedjies waaraan haar baba gewoond geraak het en sy praat dikwels deur die dag met hom/haar.
  • Ouers sorg dat hul baba van kleins af vierkantige, reghoekige, driehoekige en sirkelvormige voorwerpe het om aan te vat en sommer ook teen sy jeukende tandvleis te druk. Dit moet uit geskikte materiaal gesny wees. Gesels hardop oor die verskillende vorms.
  • Gedurende die eerste drie jaar word daar voortdurend met die kleinding gepraat en hy/sy is deel van die gesinsgesprek aan die etenstafel. (Taal kan nie verwerf word deur TV te kyk nie.) Teen die derde verjaarsdag het die kleuter die struktuur (grammatika) van die moedertaal in sy eie wese vasgelê en is daar baie gesprekvoering nodig sodat die taal (woordeskat) uitgebrei kan word. As babataal gepraat word, is taalverwerwing moeiliker en neem dit langer.
  • Ouers wat daagliks uit boeke vir hul baba en kleuter voorlees, is intens besig om hulle te leer lees.

Foto: Scott Webb/Unsplash.com

Die brein word ontwikkel deur die inspanning en beweging van die liggaam.

  • Let wel: formele sportafrigting vir kinders jonger as 14 kan hul vaardigheid benadeel en moontlik tot vroeë uitbranding lei.
  • Oefening van al die ledemate. Ernstige beweging begin wanneer die baba begin kruip. Dan moet hy so veel as moontlik gestimuleer word om oral waar dit veilig is, in te kruip, om te kruip, deur te kruip en nog wat. Dit dra alles by tot belewing van wiskundige waarhede, reëls, berekenings en oplossings.
  • Bepaling van ‘n roete is ‘n basiese landmeetkundige taak. Die baba doen dit daagliks heeldag wanneer hy/sy kruip. Hy stel ‘n teiken, fokus daarop, vind die kortste roete, vermy of oorkom obstruksies wat deur tafels, stoele, gordyne en wat alles gevorm word.
  • Uitmeet van ‘n bouterrein is die werk van argitekte en ingenieurs. Kleuters doen dit daagliks wanneer hulle buite op die grond speel, in bome klim, uitdagings ontwerp en oplos, asook die omgewing ruik, voel, hoor en proe.
  • Hoe meer kinders met hul hele lyf en al die ledemate vryelik beweeg, hoe meer en beter kry hulle begrip van die eerste drie fisieke dimensies, naamlik vorentoe-agtertoe, links-regs, boontoe-ondertoe. Dit is die wêreld van wiskunde.
  • Ontdekking van ‘n gesigseinder of horison gee vir kinders ‘n ander begrip van ruimte en afstand as kinders wat hoofsaaklik in beperkte ruimtes leef en nie daardie kinestetiese voordeel het nie.

Foto: Ashton Bingham/Unsplash.com

Konstruksiespel (bouwerk) is ‘n belangrike sleutel tot wiskundige begrip.

Dit sal vir babas en kleuters ‘n voordeel wees wanneer ouers ‘n stel boublokke van hout kan bekostig. Dit is egter nie voldoende nie en moet voortdurend aangevul word met verskeie soorte en groottes huishoudelike voorwerpe, soos blikkies, plankies, bokse, vuurhoutjies waarvan die koppe afgesny is, stukke tou, lyn, ou dasse en afvalmateriaal, natuurlike dinge soos takke, klippe, ‘n verskeidenheid blare, droë plantwortels en wat ook al veilig is om as konstruksiemateriaal te gebruik.

Let wel: Boublokkies wat van plastiek gemaak is om vasgeheg te word, is minder effektief omdat dit pasgemaak is en dus nie kreatiewe denke so goed stimuleer soos houtblokkies nie.

  • Kinders begin gewoonlik met horisontale konstruksies en hulle behoort aangemoedig te word om, byvoorbeeld, ‘n pad van die tafel af na die muur toe te bou.
  • Vertikale konstruksies is meer gevorderd en bied groter uitdagings. Albert Einstein kon konstruksies van sewe verdiepings bou toe hy slegs vier jaar oud was.
  • Uitgebreide konstruksies bevat meer as net boumateriaal. Daar kan byvoorbeeld vlae wapper, toue gespan word tussen torings of lapdakke bygevoeg word.

Belewing deur outentieke spel

  • Ouers moet verstaan dat speel nie tydmors is nie, maar ‘n uiters effektiewe manier om die grootmenswêreld te simuleer of na te maak.
  • Kinders het ‘n sterk, ingebore passie om die wêreld te verstaan en te bemeester.
  • Terwyl babas en kleuters die werklike lewe en wêreld rondom hulle simuleer deur te speel, skep hulle herinneringe wat paadjies vir denke in die brein maak in die vorm van dendriete wat lewenslank funksioneer.

Krabbel is die eerste vorm van skryf

  • Daar is ‘n spesifieke aantal lynvorms wat in alle skrif voorkom en almal kan ingeoefen word deur te krabbel vanaf so jonk as moontlik.
  • Dis pret om saam met jou kind een of meer herkenbare figure in die krabbels te ontdek.
  • Meer belangrik is egter dat ouers moet seker maak die kind hou die kryt of ander skryfding gemaklik vas en dat al die spiere vanaf die skouer tot by die pols ontspanne is.

Voetnota:

[1] ’n Dendriet is ’n vertakte uitsteeksel van ‘n neuron. (‘n Dendriet dra prikkels na ‘n senuweesel.)

  • Dr. Breytie Breytenbach was ʼn opvoedkundige berader vir die onderwysdepartement in die vorige politieke bedeling. Sy professionele werk het gefokus op herstel van gesinsverhoudinge in die lewe van vasgelope tieners. Hy het akademiese navorsing vir sy M.Ed  gedoen oor gesinslewe waar die opvoeding van kinders skeefloop en vir ‘n D.Ed oor ‘n gesinslewe waar begaafde kinders gevorm word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.