O die pyngedagte: My kind het kanker

ma-en-kind-in-hospitaal-kanker

Foto: Parentingsquad.com

Die Allerston-gesin van Malelane, Mpumalanga, is in April 2013 deur skoknuus op hul knieë gedwing. Hul driejarige seuntjie, Jano, is ʼn maand voor sy vierde verjaarsdag met Akute Limfoblastiese Leukemie (ALL) gediagnoseer – enige ouer se afgryslikste nagmerrie. Die kanker het ook reeds na sy milt en lewer versprei.

Sanel vertel: “Ek was stukkend. Dit het gevoel asof die dokters my kind die doodsvonnis opgelê het en ek het met God geworstel.” Sy vertel verder dat sy haarself twee dae lank toegelaat het om te huil, kwaad te wees en vrae te vra. Op die derde dag het sy haar kop opgetel, die kanker-monster reguit in die oë gekyk en gedetermineerd tot die potensieël-dodelike stryd toegetree. Sy het ook tot die bittere, magtelose besef gekom dat God Jano maar net vir haar geleen het. Hy kon hom enige tyd weer kom haal. Sy het gebid: “As U vir Jano in die hemel nodig het, moet U hom asseblief nóú kom haal. Spaar my kind die kanker-lyding as hy in elk geval gaan sterf.”

Vir die gesin, Jano, sy ouers en jonger sussie, het die drie jare van chemoterapie soos ʼn berg voor hulle gelê. Daar was geen pad óm die berg nie. Hulle moes óór. Pretoria, omtrent 400 km van Malelane af, het hul tweede tuiste geword. En ten spyte van die kanker, moet die gewone lewe ook aangaan: Die ouers werk, die kinders gaan skool en die huishouding moet bestuur word. Sanel vertel dat Jano wel sy haartjies verloor het, maar binne die eerste vyf weke van behandeling, in remissie gegaan het. Hy is steeds in remissie en die Allerstons is amper oor die berg: Daar lê nog net nege maande van chemoterapie voor.

Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se “Fact Sheet on Childhood Acute Lymphoblastic Leukaemia” is meer as 170 kinders onder die ouderdom van 18 jaar in 2009 met ALL gediagnoseer. In die 1960’s was ʼn kind met ALL se kanse op herstel maar skraal: Net een uit tien kinders sou langer as vyf jaar lewe na diagnose. Vandag is die prognose heelwat beter en het die getal gestyg na agt uit tien. Maar die feit bly staan: twee uit elke tien kinders met ALL sterf, dikwels na ʼn lang pad van behandeling, pyn en lyding. By diagnose weet ʼn ouer doodeenvoudig nie vooraf of die kind dit gaan oorleef nie.

Jano en Sanel se verhaal is ʼn verhaal van hoop. Die K-monster het hulle soos ʼn dief in die nag bekruip. Listig en aggressief die klein lyfie binnegedring en begin chaos saai. Die Allerstons het nie ʼn keuse gehad nie. Die hele gesin moes swaarde opneem en alles in die stryd werp – ma, pa, oumas en oupas, kleinsussie en bowenal Jano. Daar is hoop: Jano en die res van sy familie is besig om die stryd te oorwin. Maar die groot hoop lê nie net hierin nie.

Die groot hoop lê in Sanel se getuienis: “Ek het besef dat kanker nie ʼn doodsvonnis is nie, maar ʼn pakkie wat ek ontvang het. Ek het dit nie bestel of betaal daarvoor nie. Al wat ek met hierdie ongewensde pakkie kan doen, is om dit voor God se voete neer te sit.” Sy getuig verder: “Die Here se genade is onbeskryflik groot. Ek wil dit vanaf die dakke uitskreeu dat God lewe! Omdat Hy lewe, is daar altyd hoop.”

Tog kan Sanel nie wonder waarom háár kind juis gespaar word nie. Sy het in die laaste jare met menige ouer kennis gemaak wat hul kinders aan ALL moes afstaan. Al wat sy kan sê is: “Dankie!”

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.