Onderwysers moet nou omsien na hul gesondheid

Dr. Gillian Arendse. (Foto: Curro Brackenfell.)

ʼn Mens kan nie iets gee wat jy nie het nie. Jy kan ook nie iets verkoop as jy nie eers self daarin glo nie.

Dit is waarom dr. Gillian Arendse glo dit is uiters belangrik dat onderwysers in hierdie tyd na veral hul eie emosionele en geestesgesondheid omsien.

Gillian, ʼn eksperimentele kernfisikus en ʼn fenomenale motiveerder as dit by opleiding en keuses kom, is betrokke by talle onderwysprojekte en het self ʼn passie vir die motivering van onderwysers. Hy het met die motiveringsafrigter René Arendse gesels in die jongste aflewering van haar reeks podsendings getiteld Die onderwys – Kom ons beweeg saam vorentoe.

“Jongmense word beïnvloed word deur die voorbeelde wat hulle sien en dit is hier waar onderwysers ʼn groot impak het.

“Hoe hanteer ek uitdaging en onsekerheid? Hoe daag jy op by jou klaskamer? Jy gaan die jongspan voor jou beïnvloed. Daar is reeds angstigheid by hulle en hulle gaan na jou as onderwyser kyk om te sien hoe om dit te hanteer. Daarom moet jy na jouself omsien,” sê hy.

Gillian sê ook dit is belangrik vir onderwysers om te besef dat dit moeilik is om jongmense daagliks te motiveer om innoverend te dink, as jy self bly vasklou aan jou eie geykte manier van dink en doen.

“Dit kan so eenvoudig wees om te gaan kyk na jou eie CV en as dit lyk soos wat hy nog 20 jaar gelede gelyk het, is dit tyd vir verandering. Onthou, jy het die onderwys betree omdat jy passievol is oor leer en nuuskierig is – stook daardie interne vlam van passie sodat jy ʼn meester kan word van jou kuns: die onderwys.”

Hy reken dit is ook hier waar jonger onderwysers en meer ervare onderwysers mekaar kan aanvul – die ervare onderwysers kan die kuns van klasgee oordra terwyl die nuwe geslag-onderwysers kennis oor tegnologie kan help oordra.

“Dit sal egter net werk as albei kante oop is om te wil leer.”

Gillian sê die inperkingstyd het ouers nou weer genoop om nouer by hul kinders se onderwys betrokke te raak.

“Talle ouers het die skool soos ʼn droogskoonmaker gehanteer – geld betaal en die kindertjies word ‘skoon’ by die skool in die middae opgetel, terwyl jy van die onderwysers verwag om wonderwerke in die onderwys te verrig.

“Ek dink die inperking het ons almal opnuut bewus gemaak dat onderwys nie so maklik is nie.”

Hy glo dit sal in die toekoms belangrik wees vir ouers om meer saam met onderwysers te werk.

“Ouerskap is ’n groot verantwoordelikheid, maar ons is beter as ons saamwerk as wat ons teen mekaar werk.”

Gillian het voorstelle gehad vir hoe beheerliggame en hoofde die toekoms van die onderwys na die pandemie kan aanpak. Luister hier na die volledige gesprek:

Besoek Arendse se webwerf vir meer inspirasie of volg haar op FacebookInstagram en YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.