Ontdek jou kind se leerstyl

Kind_boeke_Ouerskap.jpg

Foto: Neurodevelopmentcenter.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Jou kind wip op en af op sy stoel terwyl jy probeer om sy wiskundehuiswerk aan hom te verduidelik – luister hy ooit?

As jong kinders leer ons van nature deur middel van betekenisvolle, praktiese ervarings soos om aan dinge te raak, goed te doen en te beweeg. Soos ons ouer word het elkeen ’n voorkeur as dit kom by die wyse waarop ons inligting en vaardighede aanleer, verwerk en behou. Dit word leerstyl genoem, en jy sal jou kind s’n moet ontdek as jy wil hê dat hy daardie wiskundeprobleem moet snap!

Wanneer dit by leer kom, pas een grootte beslis nie almal nie. Daar is in werklikheid drie hoofwyses waarop ons kan leer: visueel (sien), ouditief (hoor) en kineties (bewegend). Dit beteken dat sommige kinders inligting beter verwerk deur te hoor hoe iemand dit verduidelik, ander sal leer deur dit te sien, en ander sal weer praktiese oefeninge moet uitvoer.

Geen enkele leerstyl is beter as ’n ander nie – al drie is unieke, geldige wyses om inligting te verwerk – en geen mens pas in een boksie nie. Ons leer deur ’n kombinasie van die drie in ’n meerdere of mindere mate toe te pas.

Hoe leer jou kind?

Deur jou kind se primêre leerstyl te identifiseer kan jy hom help om meer doeltreffend te leer.

Die visuele leerder

Hy verwerk nuwe inligting deur te lees of deur na prente of ’n demonstrasie te kyk. Hy begryp maklik inligting wat op ’n kaart of grafiek weergegee word, maar kan ongeduldig raak as hy na ’n verduideliking moet luister.

Visuele leerders:

  • Leer die beste deur prente, tabelle, diagramme en kaarte.
  • Kan stilsit en met blokkies speel.
  • Mag as ’n dagdromer beskryf word.
  • Onthou gesigte, maar vergeet name.
  • Verkies om gedetailleerde notas te neem.

Neem kennis: As jy iets aan hom verduidelik maak dit dalk glad nie vir hom sin nie – hy moet dit sien.

 Die ouditiewe leerder

Hy verkies om na verduidelikings te luister eerder as om dit te lees en mag verkies om te leer deur inligting hardop te sê. Hy mag daarvan hou om met musiek in die agtergrond te studeer, of dalk word sy aandag maklik deur geluide afgetrek word, wat beteken dat hy ’n stil plekkie benodig om te leer.

Ouditiewe leerders:

  • Dink in woorde.
  • Geniet dit om stories te vertel en woordspeletjies te speel.
  • Hou van lees en behoort nie met spelling te sukkel nie.
  • Het ’n uitstekende geheue vir name, datums en nietighede.
  • Is dikwels baie musikaal.

Neem kennis: Dit mag dalk lyk asof hy nie aandag skenk as jy met hom praat nie, maar sy luistervaardighede is beter ontwikkel as sy visuele vaardighede.

Die kinetiese leerder

Hy leer deur te doen en te voel. Hy vind dit dalk moeilik om stil te sit terwyl hy leer en hy verstaan dinge beter deur die inligting neer te skryf of deur praktiese oefeninge uit te voer.

Kinetiese leerders:

  • Moet beweeg.
  • Kan nie vir lang tydperke stilsit nie.
  • Gebruik lyftaal en gebare om te kommunikeer.
  • Hou daarvan om aan dinge te raak en te voel.
  • Blink gewoonlik uit in sport.

Neem kennis: Hy mag verkeerdelik gediagnoseer word met ADHD, of hy mag as moeilikheidmaker gebrandmerk word omdat die meer tradisionele visuele en ouditiewe leerstyle nie vir hom werk nie.

Wanneer jy jou kind se primêre leerstyl ontdek het, is dit belangrik om dit te koester. Jy moet egter ook die ontwikkeling van die ander leerstyle aanmoedig sodat jou kind makliker kan aanpas in leeromgewings en -situasies wat nie noodwendig sy gekose leerstyl ondersteun nie.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.