Ontwikkel jou kind se vaardighede in die grondslagfase

kind_hande_verf_.jpg

Foto: merlotsart.com

[promosie-artikel]

Dr Nalize Marais

Kinders in die grondslagfase is in ’n baie ontvanklike fase van hul lewens waartydens hulle aan nuwe leerervarings blootgestel word, vaardighede bemeester en hul vermoëns ontwikkel. Dit is belangrik om in hierdie fase leergeleenthede te skep wat die kind se ontwikkeling bevorder en om nie aan die kind voor te skryf nie. Leer en ontwikkeling in die grondslagfase vereis ’n balans tussen leiding deur die fasiliteerder en die proses van selfontdekking.

Wat kan ouers doen om kinders se ontwikkeling van die basiese vaardighede te ondersteun?

 Moenie vir die jong kind doen wat hulle self kan doen nie

Kinders moet self verantwoordelik wees om hulle kosblikke in te pak en hulle klere te onthou as hulle iewers was. Tuis is die ouer soms geneig om dinge namens die kind te doen. Al is dit vinniger en makliker vir die ouer om die kind se verantwoordelikhede oor te neem, moet ouers hul kinders die geleenthede gee om “self te kan doen”.

Laat kinders eenvoudige probleme oplos

Wanneer ouers sien hul kinders sukkel byvoorbeeld om ’n legkaart te bou, ’n speelding aanmekaar te sit of iets op ’n hoë rak by te kom, is dit ’n natuurlike reaksie om te help. Ouers moenie dadelik help nie, maar eerder die kind los om self ’n moontlike oplossing te vind. Hierdie is geleenthede waar kinders leer om ’n plan te maak en bietjie verder te dink as waaraan hulle gewoond is.

Moenie dit wat die kind doen, oordoen nie

Kinders wil graag self aantrek of hul bed opmaak trek. Ouers moet hulle sover moontlik toelaat om dit self te doen, al voel hulle lus om die bed reg te trek of ander klere uit te kies. Kinders moet leer om self te besluite te neem. Ouers kan besluite makliker maak deur byvoorbeeld ’n paar kledingstukke uit te haal en hulle toe te laat om self ’n rokkie of ’n hempie en broekie uit vyf opsies te kies en hulle dan so te rig in hulle besluite oor wat om aan te trek.

Deel take in die huis uit 

Kinders leer vaardighede en ontwikkel selfvertroue as hulle verantwoordelik is vir take in en om die huis soos plante natmaak, wasgoed afhaal en troeteldiere kosgee. Die ouer moet egter die ouderdom en verantwoordelikheidsin van die kinders in ag neem, maar terselfdertyd poog om hulle te laat voel dat hulle in staat is om iets self  te doen. Die taak moet dus gepas wees vir die kind, maar hulle ook uitdaag om ’n bepaalde vaardigheid te bemeester.

Dit is baie belangrik dat ouers vir hul jong kinders ’n veilige omgewing skep waar die kind geborge voel en selfvertroue ontwikkel om meer te waag. ’n Kind gedy in ’n omgewing waar daar ’n balans tussen leiding en onafhanklikheid is. Ouers moet dus ondersteun en leiding gee, maar nie die kind se eie ontwikkeling aan bande lê nie.

 Artikel verskaf deur:  Impak  Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.