Oorgewig kan geneties wees

Argieffoto (Foto: Mabel Amber/Pixabay)

Is dit moontlik dat oorgewig of vetsug deur genetiese aspekte veroorsaak kan word? Waarom is dit vir ʼn ouer belangrik om hierdie aspek in ag te neem?

Die genetiese oorsaak van oorgewig of vetsug is dikwels ʼn omstrede onderwerp wat baie verskillende reaksies uitlok. Vir die meeste mense is dit onbekend.

Ons eerste reaksie is gewoonlik “Nee wat, oorgewig word veroorsaak deur dit wat in ons mond ingaan en die hoeveelheid tyd wat ʼn kind voor die televisie spandeer”. Tog vergeet ons dat ons net so vinnig kan praat van die Van der Merwes wat sulke groot, sterk geboude mense is of die Van Vuurens wat sulke lang mense is.

Verskeie navorsers bevestig dat genetika by enige fisiologiese funksie van die liggaam betrokke is, maar by vetsug is hierdie betrokkenheid ingewikkeld en nie maklik bewysbaar nie. Genetika veroorsaak nie opsigself oorgewig nie, maar kan daartoe bydrae.

Om die invloed van genetika op vetsug of oorgewig te bestudeer is veral familiestudies van groot waarde.

  • Familiestudies

Hierdie studies voorsien inligting oor die omvang van oorgewig in families. Volgens verskeie navorsers speel genetiese faktore en die omgewing wel ʼn groot rol op grond van die feit dat minder as 10% van die kinders van ouers met ʼn normale gewig, oorgewig of vetsugtig is. Die persentasie styg drasties met 50% as een ouer oorgewig of vetsugtig is en tot 70% as beide ouers oorgewig of vetsugtig is. Dit is egter moeilik om te bepaal of kinders binne ʼn gesin oorgewig is as gevolg van die omgewingsfaktore of as gevolg van genetiese faktore; aannemingstudies bied wel die antwoord in hierdie verband.

  • Aannemingstudies

Aannemingstudies maak ʼn duidelike onderskeid tussen die omgewing en gene. Hierdie studies maak gebruik van data van aangenome kinders, hul biologiese- en aanneemouers. Die aangenome kinders deel nie ʼn ‘familie-omgewing’ met hul biologiese ouers nie, maar deel slegs die gene met die biologiese ouers. Kushner, Kumar en Lawrence (2013:16) toon ʼn sterk verband tussen die LMI (liggaamsmassa-indeks) van aangenome kinders en hul biologiese ouers, maar nie met die aanneemouers nie. Hier is dit dus duidelik dat genetika ʼn rol speel en nie net die omgewing nie. Om die rol van genetika verder te bestudeer is tweelingstudies gebruik.

  • Tweelingstudies

Argieffoto (Foto: Kateřina Hartlová/Pixabay)

Dit is die derde tipe studie wat gebruik kan word om die omgewings- en genetiese faktore van oorgewig of vetsug te bepaal. ʼn Identiese tweeling deel dieselfde gene. Studies met identiese tweelinge wat apart grootword is gedoen. Die studies het ʼn positiewe korrelasie van tussen 60% – 80% ten opsigte van die genetiese bydrae tot die LMI getoon.

Dit is dus uit bogenoemde studies duidelik dat genetika ʼn bydraende rol by oorgewig of vetsug kan speel. Die genetiese samestelling van die kind is dus ʼn gegewe, maar dit moet egter nie as die lot van die kind beskou word nie. Hierdie feit moet juis aangewend word om as motivering vir ʼn gesonde lewenswyse, eetgewoontes en die versterking van die liggaamsbeeld te dien. As ʼn familie ʼn geneigdheid tot hartsiektes het, gaan daar voorsorgmaatreëls getref word om ʼn siekte te voorkom. Net so moet ons bewus wees van die geneigdheid tot vetsug en dit voorkom.

ʼn Ouer kan ook die kind help om sy genetiese faktore te verstaan en te aanvaar. Verduidelik aan die kind wat jul spesifieke genetiese eienskappe is en help die kind so om ʼn positiewe liggaamsbeeld te ontwikkel, byvoorbeeld om vir die kind te vertel ons familie is sterk gebou en hou van geskiedenis, ons is lief vir die natuur, ens. Maak die kind só trots op homself en laat hy sy gesin van herkoms verstaan om ʼn positiewe beeld van homself te vorm. Bou op die goeie en wees bewus van die negatiewe in die familie. Moet nie dieselfde fout oor en oor maak nie, dis ook onnodig.

Elsha Kinderterapie bied werkswinkels aan om ouers toe te rus. Indien jy belangstel om so werkswinkel by te woon stuur ʼn e-pos na [email protected]

Vir meer inligting oor Elsha Kinderterapie en wenke oor hoe om kinders, wat leef met oorgewig, te hanteer besoek www.ekterapie.co.za

Bronne:
Kushner, R.F., Kumar, S. & Lawrence, V.  2013.  Practical manual of clinical obesity. 8th ed. Somerset, N.J.:Wiley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

J ·

Jaaaaa…alles is deesdae geneties. Gewoonlik as die ma en of pa dik is, vreet die kinders ook so!

Yvonne ·

Is dit nou nodig om so lelik te praat. Van wanneer af ” vreet” n kind. Ek is seker daar was beter woorde om te gebruik om jou standpunt te maak.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek het onlangs aan my broer genoem dat ek ‘n diëet oorweeg omdat ek so ongemaklike “middle age spread” beleef. Hy’t my so gekyk en geantwoord “Het jy ooit enige vet mense in die konsentrasie kamp foto’s gesien? Jy lyk so lekker want jy eet so lekker!!!!”

VET ·

Lekker lag ek J, lelik praat of nie, dis die waarheid. Ek glo eet is wanneer jy ‘n maat het, vreet is wanneer jou maag jou god geword het, jy luister net vir hom en as hy praat, dan vreet jy alles wat voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.