Oorgewig kinders moet ook voluit leef, lag en speel

Argieffoto (Foto: pcdazero, Pixabay)

Dr. Elsha Hermann het ongeveer 16 jaar gelede ʼn verslankingspraktyk saam met ʼn mediese dokter besit. Gemeet aan gewig was hulle suksesvol. In ʼn stadium het hulle bereken dat die praktyk van ten minste twee ton gewig ontslae geraak het.

“Die vroue het egter teruggekom, hulle wou nog [gewig] verloor,” verduidelik Hermann. “Hulle was net nooit tevrede nie. Gemeet aan die skaal was ons suksesvol, maar ek sou nie sê dat ons kliënte twee ton gelukkiger was nie.”

Dit het Hermann se belangstelling in die sielkunde van vetsug geprikkel. “Gewigsverlies beteken nie noodwendig geluk nie en oorgewig beteken nie noodwendig ongelukkigheid nie. Oorwig se oorsake is baie meer kompleks as wat deur ʼn kitsdieet reggestel kan word en die gevolge baie meer ingewikkeld as ‘ruk jou reg’ of mediese gevare.”

ʼn Mamma, self oorgewig, het haar seuntjie *Barend (8), na Hermann gebring. “Haar desperate antwoord vir Barend se oorwig was ons destydse praktyk se streng medies gekontroleerde dieet. ‘Waarom moet Barend gewig verloor?’ vra ek belangstellend. ‘Want hy kan nie deur die tonnel op die speelterrein klim nie,’ het sy geantwoord.”

Hermann meen daar is soveel klein Barend-kindertjies wat harte aangryp. “Agter Barend se probleem om deur die tonnel te kom, was spot, verwerping en hartseer. Later het ek uitgevind Barend se ma en pa is deur ʼn slegte egskeiding en hy het byna geen verhouding met sy pa gehad nie.”

Sy verduidelik Barend se probleem was nie die tonnel nie, maar trauma wat aanleiding gegee het tot sy oorgewig. Sy kitsoplossing was nie ʼn dieet en oefening nie, maar die hantering van die trauma en dit gebeur nie in ʼn kits nie. “Sy verligting sal wees om toegerus te word om die boeliegedrag, vernedering en verwerping te hanteer, want Barend gaan nie kind bly nie, maar ʼn volwassene wat die seer in hom bly ronddra.”

Oorgewig kinders het die afgelope tyd, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd vinnig toegeneem. Die invloed hiervan in hierdie sensitiewe tyd van die kind se lewe kan lewensveranderende emosionele, fisiese en psigososiale gevolge hê.

Hermann het haar meestersgraad met ʼn spesifieke fokus op kinders wat met vetsug leef, voltooi en die praktyk verkoop. Later het sy ʼn kwalifikasie by die American Institute for the Psychology of Eating bekom.

Sy het daarna haar doktorsgraad voltooi met die doel om ʼn program te ontwikkel wat kinders, wat oorgewig is, te help om steeds voluit te leef en te lag. “Die lag is dikwels die poort na gewigsverlies. Met ander woorde, deur dit wat die lag wegvat te hanteer, word die struikelblokke op die pad na gewigsverlies weggeneem,” voeg sy by.

“Die dogter wat by my praktyk aankom met ʼn trui in die somer om haar liggaam weg te steek, probeer ook só haar swak liggaamsbeeld wegsteek. Dikwels is daar iets agter die trui wat hanteer moet word.”

Hermann verduidelik ander kinders is oorgewig weens ʼn mediese rede, sommiges se rede bloot geneties, heelwat weens trauma en baie weens lewenstyl.

“Byna almal het gevolge. Kinders kan wreed wees. ʼn Stuk geluk word weggevat. Kinders het my vertel van die trauma om laaste te kom met verpligte atletiek en boeliegedrag. Meer subtiele vorme van uitsluiting, ‘onskuldige’ grappies en byname word ook deur die kinders beleef. ʼn Bose kringloop ontstaan en die gevolge van oorgewig word weer die oorsaak.”

Sy sê ouers is onseker hoe om te help. “Hulle is bekommerd, maar onkundig en maak, soos alle ouers, foute. ʼn Pappa wat sy dogter sy liefste ‘molletjie’ noem, ouers wat maar net hul oë toeknyp, ander wat die kind op ʼn streng oefenprogram sit en Barend se ma wat antwoorde soek by ʼn verslankingspraktyk.”

Ouers is soms so besig, met al die uitdagings van vandag, dat hulle nie weet hoe om ʼn ander lewe as ʼn kitskoslewe te beplan nie.

Om die oorgewig kind te help is die volgende noodsaaklik:

  • Identifiseer die werklike oorsaak.
  • Hanteer die oorsaak.
  • Bemagtig die kind om gevolge, soos boeliegedrag, te hanteer,
  • Help met ʼn gesonde lewenstyl
  • Rus ouers (en onderwysers) toe om die kind te ondersteun.

Hermann het onlangs Elsha Kinderterapie (EK), die eerste praktyk in Suid-Afrika wat op oorgewig kinders fokus, oopgemaak. Vir meer inligting of om ʼn afspraak te maak, besoek www.ekterapie.co.za

*Name en verhale is aangepas om die kind en gesinne te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.