Op soek na waardes

Onderwys__2

Argieffoto.

Deur dr. Jeanette De Klerk-Luttig 

Om morele waardes onder die jeug te vestig, verg belangrike kopskuiwe oor hoe onderwysers, maar ook ouers, dié saak benader.

Die gebrek aan morele waardes is die kern van die probleme en uitdagings in ons skole, want byna al die ander probleme in die onderwys hou daarmee verband. So is daar ’n verband tussen die gebrek aan respek in skole en boeliegedrag en vandalisme; ’n verband tussen gebrekkige werksetiek en selfdissipline en leerders se swak akademiese vordering; en tussen die afwesigheid van verantwoordelikheid en swak bestuur en onderrig.

Ons moet egter nie vergeet dat morele waardes nooit in ’n vakuum gevestig word nie, maar in ’n sosiale netwerk van verhoudings. Hiervoor is positiewe rolmodelle noodsaaklik.

Die gebrekkige moraliteit in ons skole is ’n spieëlbeeld van die gebrekkige moraliteit in ons groter samelewing. Ons moet ophou om verbaas te wees dat die gebrek aan morele waardes in die samelewing baie duidelik in ons skole neerslag vind.

  • Leerders in Suid-Afrika woon in ’n land met die hoogste verkragtingsyfer ter wêreld. Volgens die Mediese Navorsingsraad vind daagliks ongeveer 3 600 verkragtings in ons land plaas. En dan is ons verbaas dat sommige leerders in pouses verkragtingspeletjies speel?
  • Leerders leef in ’n land waarin verlede jaar ongeveer R30 miljard aan korrupsie in die staatsdiens alleen verlore gegaan het. Waar mense in sleutelposte soms hul matrieksertifikaat vervals en doktorsgrade geïmproviseer word, waar sommige skoolhoofde hul posisie koop. En dan verwag ons dat leerders eerlik moet wees en nie moet afkyk en afskryf nie?
  • Leerders word groot in ’n land waarin erge geweld en misdaad niemand eintlik meer skok nie en soms nie eens die voorblaaie haal nie. Waarom is ons dan verbaas oor die graad en omvang van boeliegedrag en groepswreedheid in skole?

Dit is tyd dat ons wegkom van die idee dat skole en onderwysers daarvoor verantwoordelik is om alles wat in die samelewing skeefloop, reg te stel – terwyl leerders in gemeenskappe leef wat nie gesond is nie en waar hulle erg gekneus en seergemaak word. Dit is nie die primêre taak van die skool om alles van dwelms en tienerswangerskappe tot MIV/vigs en korrupsie op te los nie. Tog speel onderwysers as sekondêre opvoeders ’n onmisbare rol in die vestiging van morele waardes.

In my werk in skole in Suid-Afrika het ek besef dat talle noodsaaklike kop- en hartskuiwe moet plaasvind voordat morele waardes gevestig kan word. Hier is kortliks enkele van die skuiwe:

  • Die opvatting dat die gemeenskap ‘n skoolgemeenskap is van probleme wat opgelos moet word, moet skuif na die opvatting dat dit ’n skoolgemeenskap is met ongelooflike potensiaal wat ontsluit kan word.

Daar moet dus ’n skuif kom van die fokus op vrese, foute en blaam na ’n fokus op verhoudings, verantwoordelikheid en betrokkenheid. Gehalte verhoudings is die onmisbare hartklop van karakteropvoeding. Ons moet byvoorbeeld nie bloot ’n akademiese kongres hou oor die kinders wat in pouses verkragtingspeletjies speel nie, maar betrokke raak by die skole en met balle, springtoue en verf vir die leerders ander moontlikhede bied.

  • Dan is daar die skuif weg van waardegebaseerde skole na waardegedrewe skole. By waardegebaseerde skole is die kernwaardes dikwels baie sigbaar en pryk dit groot by die ingang van die skool en op briefhoofde; maar wanneer belangrike besluite geneem moet word, weeg die belange van die topbestuur swaarder as die kernwaardes.

Wanneer ’n belangrike wedstryd teen die buurskool gewen moet word, word die kernwaardes van eerlikheid en integriteit opsy geskuif ter wille van die beker.

Skole kan nie respek as kernwaarde teen die mure laat pryk terwyl die onderwysers die leerders in die klaskamer verskreeu en boeliegedrag op die speelterrein en in die personeelkamer toegelaat word nie. Die kernwaardes bly dan bloot versiersuiker om alles beter te laat lyk as wat dit werklik is. Die teenstrydigheid tussen voorgee en werklikheid, tussen praat en doen, maak leerders net sinies en kwaad.

By waardegedrewe skole vorm die kernwaardes egter die hoogste gesag. By die neem van besluite speel hulle die deurslaggewende rol omdat almal, van die jongste leerders tot by die skoolhoof en die beheerraad, daaraan onderhewig is.

By sulke skole kleur die kernwaardes die hele klimaat van die skool. Dit bepaal “hoe ons dinge in dié skool doen” en is nie bloot ’n oneerlike versiering nie.

  • Die kop- en hartskuif wat by die vorige aansluit, is die wanopvatting dat die vestiging van kernwaardes ’n sekere vasgestelde tyd en plek het, byvoorbeeld Maandagoggende in die saalperiode, wanneer ’n sedeprekie gelewer word.

Dié benadering werk eenvoudig nie, want die leerders in veral ’n waardegebaseerde skool sit dikwels en dink: “Ag, Meneer/Juffrou, get real!”

Die opvatting behoort te verander na: Morele waardes rig álles wat by die skool gebeur. Dit is die manier waarop dinge hier gedoen word – van die manier waarop ons mekaar groet tot hoe ons op die sportveld wen of verloor, tot die toestand van die kleedkamers.

  • Daar moet ook ’n skuif kom weg van die idee dat daar een resep is om morele waardes te vestig wat vir elke skool sal werk. Dikwels word Amerikaanse karakteropvoedingsprogramme op ’n tipies Amerikaanse wyse, net so in ons skole gevolg.

Dit is dan nie suksesvol nie omdat die kontekste hemelsbreed verskil. Daar is egter wel sekere karakteropvoedingsbeginsels wat met groot sensitiwiteit in verskillende kontekste gebruik kan word. Die uitkomste daarvan sal wel verskillend lyk in byvoorbeeld ’n klein plattelandse laerskool en in ’n groot stedelike hoërskool.

  • Die opvatting dat die vestiging van morele waardes die werk van die lewensoriëntering-onderwysers is, net omdat dit spesifiek in hul leerplan voorkom, behoort te verander.

Karakteropvoeding is die verantwoordelikheid van ál die volwassenes in die skool wat met die leerders in aanraking kom: ál die onderwysers, administratiewe personeellede, afrigters, mense in die snoepie en ook die busbestuurders.

Ook diegene wat die nasorg beman speel ’n belangrike rol en behoort sorgvuldig gekeur te word, want dikwels vind groepswreedheid en boeliegedrag ná skooltyd op die skoolterrein plaas.

Volwassenes kan nie leerders tot ’n vlak van moraliteit begelei hoër as dit waarop hulle self is nie. Daarom is die vlak van morele volwassenheid van onderwysers deurslaggewend vir karakteropvoeding.

  • Dit is belangrik dat die opvatting uitgebrei word dat die vestiging van morele waardes die verantwoordelikheid van skole is. Dit is nie alleen skole se verantwoordelikheid nie, maar ook dié van ouers as primêre opvoeders, onderwysers, geloofsgemeenskappe, gemeenskappe en die media. Almal moet kinders probeer help om kernwaardes te verstaan, daarvoor om te gee, dit te steun en dit uit te leef.

Karakteropvoeding is kompleks en multidimensioneel en gaan nooit net om blote kopkennis nie. ’n Leerder kan immers volpunte kry vir ’n klastoets oor boelie en dan in die pouse iemand lelik gaan bykom op die speelterrein.

In Heenan se woorde: “To claim that we can have responsible citizenship and a civil society without first building good character is like believing that we can have trees – without roots.”

Skole kan ’n deurslaggewende rol in die ontwikkeling van ons kinders se karakter speel, maar daarvoor bestaan geen eenvoudige resep nie, en skole kan dit nie alleen doen nie.

  •  As oud-onderwyseres, dosent en morele opvoedkundige is Jeanette De Klerk-Luttig gefassineerd deur die kompleksiteit en die eenvoud van moraliteit in gesinne, skole en gemeenskappe. Jeanette is getroud met Alex Luttig en hulle woon in Stellenbosch. Haar boek Waardes is werkwoorde is onlangs bekendgestel en kan direk by haar bestel word. Kontakbesonderhede:  [email protected] of by 0827843484.
  • Hierdie artikel word met vergunning van die skrywer en met erkenning aan Die Burger, waar dit oorspronklik gepubliseer is, hier geplaas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Sandra ·

Morele waardes begin tuis. By jou ouerhuis. Kinders sien hoe ouers leef. En so gaan die patroon aan.

MCH ·

Pragtige artikel wat die probleem mooi definieer en rigtingwysend die beste hantering uitstippel in die huidige situasie. Ek wonder tog wat die uitwerking sou wees indien outydse lyfstraf steeds toegepas is? Die verskriklike kompleksiteit van die huidige probleem sou dalk minder torringdrade gehad het. Spreuke 20:30:” Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste”.
Goed gewerk in my tyd. Die taaier gevalle in na verbeteringskole gestuur. Sielkundiges hammer vreeslik oor die vreesaspek wat lyfstraf inboesem. Tereg so, dis die idee, ook in die samelewing met die regstelsel. Raak gewoond daaraan dat verkeerde gedrag n negatiewe gevolg dra. Maar, dis slegs van toepassing in n samelewing waar waardes geld en gevolglik min toepaslik in die lappie Afrika.

Kinder ·

Dit raak baie moeilik om waardes te leer aan die nuwe generasie want ons sosiale instellings wordeen vir een heeltemal vernietig. Ons moet almal die anglo amerikaanse kultuurwaardes soos aangepas om die superrykes te bevoordeel, in die naam van liberalisme aanneem en ons eie kultuur en waardes verwerp. Daarby moet ons die boelie en misdadiger koester ten koste van hulle teikens want menseregte het kopomgekeer. Dit is die probleem.

Paul ·

Die oorspronklike bron vir die statistiek van R30 miljard wat “verlede jaar” aan korrupsie verlore gegaan het?

John ·

Morele waardes en etiek loop saam met Christelike godsdiensopvoeding wat tuis, by die kerk en in die skool by kinders tuisgebring word. Sekerlik moet ‘n kind weet hoekom iets reg of verkeerd is en nie net bang wees om uitgevang te word nie. Sou Christelike godsdiensonderrig uitgefaseer word sal ander vreemde leringe en self bygelowe kopuitsteek en die ou barbaarse siening van ”n oog vir ‘n oog’ geld, of het ‘menseregte’ nou die nuwe kriteria geword; die verskoning vir alles wat ‘n mens begeer om te doen of te besit…

John ·

Waar kom morele waardes vandaan? Skynbaar is ons Christelike en Bybelse waardes nie van belang nie. So a la evolusie spring dit sommer so in mens se kop ooreenkomstig mens eie smaak? Wie se woord is wet of is ons Wie nie meer ter sake nie? Dis juis hoekom dit so gaan, dan nie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.