Opwindende revuekompetisie vir Suid-Afrika

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Lefra Produksies het pas ’n opwindende nasionale revuekompetisie, REVUE SA 2015, bekend gestel. Hierdie revuekompetisie vir laer- en hoërskole sal van 12 tot 18 Oktober by Carnival City se Big Top Arena uitgespook word.

Frans Swart, hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, sê dat hy baie opgewonde is oor die projek. “Laerskole en hoërskole bestee soveel tyd, geld en energie aan hul jaarlikse revue. Ek het al baie van hierdie revues gesien wat baie na aan professionele produksies se standaard is. Dit was dan altyd vir my hartseer dat daar geen verdere lewe vir hierdie wonderlike revues is nie. Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal uitstekend wees om hierdie revues nog ’n slag te kan opvoer.”

Slegs 30 laerskole en 30 hoërskole sal aanvanklik gekeur word om deel te neem aan REVUE SA 2015. Om vir keuring aansoek te doen, moet die volledige inskrywingsvorm voltooi word en skole moet dan ’n 10 minute lange video saam met die inskrywingsvorm aanstuur. Die sluitingsdatum hiervoor is 1 Oktober 2015. Keuring sal afgehandel wees op 5 Oktober waarna gekeurde skole in kennis gestel sal word.

Swart sê dat die kompetisie op ’n uitklopgrondslag aangebied sal word. “Ons wil ook graag ’n realiteitshoek aan die hele kompetisie gee. Die belangrikste aspek is egter dat elke aand ’n wonderlike vertoning van dans, sang, beweging en kleur moet wees. Ons besef maar te goed dat REVUE SA 2015 ’n kompetisie is, maar ons glo ook dat skole, onderwysers, afrigters en leerders die geleentheid sal gebruik om nuwe vriende te maak en dit ook sal benut om van mekaar te leer.”

Groot pryse is op die spel en elke deelnemer sal ’n sertifikaat van deelname ontvang.  Bekende beoordelaars en aanbieders sal ingespan word om van REVUE SA 2015 ’n groot sukses te maak. REVUE SA 2015 word ook volledig verfilm met moontlike latere uitsending op kykNET NOU! REVUE SA 2015 word aangebied met die vriendelike samewerking van Stuttaford Van Lines en McCarthy Volkswagen Arcadia.

Vir meer inligting oor REVUE SA 2015, bel asseblief vir Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ’n e-pos na [email protected]. Besoek gerus ook ons webwerf, www.revues.co.za, vir die nodige inligting. Kaartjiebesprekings vir REVUE SA 2015 kan gedoen word by Computicket, 0861 915 8000. Groepe met meer as 10 mense moet asseblief vir Monica by 011 815 3000 bel of ’n e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsje ·

Frans Swart Hoof uitvoerende beampte van Lefra en sy gesin is gisteraan d in hul huis aangeval. Die mans het Frans geskop en geslaan. Wat word van ons land?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.