Oudskoolhoof beantwoord 20 vrae oor die matriekeksamen

Argieffoto.

Die veelbesproke matriekeksamen van 2020 het Donderdag amptelik afgeskop. Meer as ʼn miljoen matrikulante het op dié dag aangemeld om hul eerste Engelse vraestel te skryf.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met Jana Terblanche, ʼn oudskoolhoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma en nou onderwysspesialis in Afrikaans by die SOS, gesels oor die belangrikste kwessies waarvan matrikulante en ouers in hierdie eksamentyd moet kennis neem, wat te midde van die Covid-19-pandemie plaasvind.

1.Goeie prestasie – geluk of harde werk?

Ons almal wil seker maar glo dat daar iets soos kitsgeluk bestaan, maar die realiteit is dat jy dalk hard aarde toe kan kom as jy glo dat die euforie van Oktobermaand se pers Jakarandablomme jou gaan deurkry. Werk liewer hard en pluk die vrugte daarvan.  Min mense kom êrens sonder toewyding.

2. Hoe bly ons matrieks veerkragtig ondanks ‘n baie moeilike jaar?

Ons onderskat soms ons jeug se vermoë om aan te pas by verandering.  Ek dink dit is die era waarin hulle leef – daar is voortdurend verandering en nuwe uitdagings op, byvoorbeeld, tegnologiese terreine en dit dwing hulle om by te bly. Dit is ons oueres wat kopskuiwe moes maak om by die nuwe leeromgewing in die Covid-19-tyd te kon aanpas. Maar ek moet ook ons onderwyskorps komplimenteer – die toewyding waarmee die meeste onderwysers van dag een in die grendelstaat gewerk het om hul leerders op datum te hou, het definitief daartoe bygedra dat leerders veilig kon voel en werk soos gewoonlik.

3. Mens vertrou dat die leerlinge deur die jaar gewerk het. Eintlik is die eindeksamen net ’n samevatting en afronding en behoort die matrikulante rustig te voel daaroor. Tog hoor ‘n mens gereeld dat dit ’n baie stresvolle situasie is. Hoekom dink jy is dit so?

Daar is soveel druk op ons leerders van oral af – en dis so ‘n bietjie kunsmatig, want die wêreld maak asof dit die belangrikste eksamen van alle tye is en eintlik kan die leerder wat deurgaans hard gewerk het, die eindeksamen met rustigheid ingaan. Dis maar net omdat die media soveel blootstelling gee aan al die logistiek ten opsigte van die verspreiding, toesighouding, merk en uitslae van die eksamen dat die druk vererger word. Die vreemdheid van die situasie, soos die eksamenlokaal, menigte moets en moenies en almal wat jou dophou om te presteer, kan party leerders erger vang as vir ander.

4. Hoe belangrik is die rekordeksamen se uitslae? Kan die leerlinge die vraestelle gebruik om vir die eindeksamen voor te berei?

Dit is belangrik, want vir baie skole se leerders is die rekordeksamen die eerste eksterne eksamen waar vraestelle nie deur hul eie onderwysers opgestel word nie. Soms lyk die uitleg van vraestelle vir hulle vreemd en die manier van vraagstelling kan hulle omvergooi as hulle net gewoond is aan hul eie onderwysers se styl. Dit sal definitief baie help as leerders vorige jare se rekordeksamenvraestelle bestudeer en uitwerk as hersiening vir die eindeksamen.

5. Is daar nog ander platforms waar hulle moontlik ou vraestelle en ander hulpmiddels sal kan aflaai?

Ja, die meeste onderwysers het ‘n eie argief van ou vraestelle wat hul vir leerders kan gee om uit te werk.

Die onderwyswebwerwe van die verskillende provinsies kan besoek word vir ou vraestelle en daar is baie studiegidse op die mark of op die internet beskikbaar wat byvoorbeeld oor leerders se voorgeskrewe werke of ander vakke handel.

Leerders kan ook nog vir die res van die jaar gratis aansluit by Die Wolkskool en na al die lesaanbiedings en assesserings van die verskillende vakke gaan kyk en uitwerk.

6. Daar word soms twee eksamens op een dag geskryf, dit verg waarskynlik sommer baie stamina. Wat is belangrik om te onthou om volhoubare energievlakke te handhaaf?

Leerders moet weet dat eksamenskryf ook oefening verg, net soos vir ‘n groot atletiekbyeenkoms of tenniswedstryd. Hoe meer jy oefen, hoe fikser word jy en hoe langer kan jy uithou sonder konsentrasieverlies of moegword. Vir albei tipe uitdagings speel ‘n gesonde dieet ‘n kernrol. Sowel die liggaam as die brein het voedsame kos nodig om optimaal te kan funksioneer. Dit is definitief nie nou die tyd om met ‘n uithongerdieet te begin om op jou matriekvakansie met ‘n bikini op die strand te kan spog nie. Die brein het ‘n gebalanseerde verskeidenheid van proteïene, koolhidrate, groente en vrugte nodig. En liewer water as koeldrank of koffie. Dit is ‘n mite dat kafeïen jou konsentrasie op die lange duur kan opskerp. Vermy oormatige suiker en ongesonde vette. Geniet liewer jou ma se tuisgekookte kos as om weg te lê aan wegneemetes.

7. Om goed en vlot te kan lees, is ’n vaardigheid wat baie belangrik is vir die matriekeksamen. Kan die leerlinge tussendeur steeds aan hul leesfiksheid oefen?

Ja, maar pleks van boeke verslind om te ontsnap van leer, moet hulle vraestelfiks word en die vraagterminologie bestudeer. Byvoorbeeld, wat die verskil is tussen illustreer en analiseer of verduidelik aan die hand van, ensovoorts. Leer met ander woorde die woordeskat van vraestelle aan, dit gaan jou baie tyd spaar as jy nie hoef te wonder wat van jou verwag word nie.

8. Moet leerlinge leer om die werk te onthou of moet hulle leer sodat hulle dit kan verstaan? Is daar ’n verskil tussen die twee?

Daar is tyd en plek vir papegaaiwerk, byvoorbeeld om wiskundetafels en spelreëls uit jou kop te ken, maar langvrae vir letterkunde of besigheidstudies of kunsgeskiedenis moet liefs nie vooraf gememoriseer word nie. Dit kan wees dat die vraag net effens anders gevra word en dan sit jy die pot mis. Verstaan is beter, want dan kan jy dit met insig toepas op enige vraag.

9. Hoekom is dit so belangrik dat vraestelle netjies en leesbaar beantwoord word?

In die eindeksamen is jy ongelukkig (letterlik) net ‘n nommer op ‘n papier en een van duisende, dus moet jou werk leesbaar wees, want dit is nie jou eie onderwysers wat jou skrif ken wat dit gaan merk nie. Netjiese werk merk net soveel makliker en al skryf jy hoe korrek, as dit nie gelees kan word nie, gaan vraestelmerkers nie die moeite doen om dit te ontsyfer nie.

10. Studie vereis konsentrasie en fokus. Jy moet elke dag besig wees met intensiewe, gefokusde, individuele akademiese werk. Watter wenke kan jy gee oor die bestuur van iPod’s, musieksentrums, die TV en die selfoon?

Baie mense ly aan tegnologieverslawing en kan nie ‘n oomblik sonder byvoorbeeld hulle selfone klaarkom nie. Leerders wat besef dat hul tyd opgeslurp word deur hul selfone met WhatsApp, Facebook, Instagram of ander apps, moet hul ouers vra om hulle te help om tydsbestuur toe te pas deur byvoorbeeld die selfoon af te skakel of selfs weg te neem vir ‘n uur of twee se konsentrasie voordat hulle ‘n ruskans vat en boodskappe kan lees of stuur, ensovoorts. Besluit watter televisieprogramme jy graag wil kyk en bêre dit as beloning as jy goed genoeg gevorder het.

11. Hoe belangrik is ’n positiewe houding tydens die eksamen?

Die spreekwoord sê nie verniet goed begin is half gewin nie. Optimisme en ‘n positiewe ingesteldheid is soos glimlag, as jy dit eers doen (spontaan of gedwonge) ontvang die brein die boodskap dat jy gelukkig is. Jy kan jouself positief of negatief programmeer – kiés om positief te wees en om jou met positiewe mense te omring. Bly veral kort voor ‘n eksamensessie weg van dié wat ander bangpraat oor die vraestel!

12. Is ’n goeie slaaproetine belangrik?

Ja, probeer om tussen 6 en 8 uur se slaap per nag in te kry. Te min slaap het ‘n negatiewe uitwerking op jou gemoed en liggaam. Jy kan nié met ‘n suwwe brein optimaal dink en redeneer vir ‘n drieuurvraestel nie.

Pasop om nie jou dag en nag om te ruil deur lang ure ná ‘n vraestel te slaap en dan weer deurnag te leer nie. Kragslapies van 20 minute is baie nuttiger.

13. Sou jy sê dit is belangrik om ook tydens die weke van eksamen tyd in te ruim om te ontspan?

Definitief. Daar moet balans wees tussen leer en speel. Neem gereeld kort ruskansies tydens studietyd en probeer om ten minste elke dag vir ‘n halfuur fisieke oefeninge te doen – dit skei goedvoelhormone af en gee sommer ook suurstof vir die brein.

Beloon jouself met ‘n lekker aktiwiteit wanneer jy voldoende gevorder het met jou leerwerk.

14. Dit gebeur so baie dat leerlinge akademies goed voorbereid is, maar die toerusting om te kan skryf, ontbreek. Wat sou jy sê is belangrik om te onthou om elke dag saam te neem na die eksamenlokaal?

Die vergeet van ‘n ID-dokument het al menige matrikulant (en eksamenbeampte) onnodig laat stres. Sorg dat jy jou ID-dokument en skryfbehoeftes elke dag op dieselfde plek neersit sodat dit nie ‘n geskarrel in die oggend voor die eksamensessie is nie. Maak seker dat jou pen ink het, jou potlood skerp is en dat jy ‘n sakrekenaar en tekentoerusting het indien nodig.

15. Is daar enige wenke wat jy kan gee ten opsigte van die instruksies wat op die vraestel staan?

Dit is nie om dowe neute geskryf nie. Deur dit goed te lees, maak jy seker dat jy die vraestel reg aanpak en byvoorbeeld bewus is daarvan dat jy keusevrae het of elke vraag op ‘n nuwe bladsy moet begin, ensovoorts. Benut die 10 minute leestyd voordat jy met die vraestel begin, dit gee jou sekerheid van wat verwag word.

16. Sou jy sê dat dit belangrik is om nadat jy die vraestel ontvang het, eers bietjie tyd af te staan aan beplanning?

Vir seker. Maak seker jy onderstreep of merk die kernwoorde/vraagwoorde met ’n glimpen in elke vraag. Bestudeer ook die puntetelling, want dit gee vir jou ‘n aanduiding hoeveel feite jy moet noem. Besluit in die beplanningstyd watter vrae jy gaan doen indien daar keusevrae is.

Probeer min of meer jou tydsindeling doen, party leerders sukkel om klaar te kry in vakke soos rekeningkunde en wiskunde.

17. Wat is jou raad aan ’n leerling wat vashaak by ’n vraag, skielik oorweldig en angstig voel en dit dan net nie kan antwoord nie?

Haal diep asem en raak rustig as so iets gebeur en fokus eers op die vrae wat jy wel ken en kan beantwoord. Daardeur behaal jy solank punte en kan jy laaste kyk na die vrae wat jou aanvanklik ontsenu het.

18. Hoe belangrik is dit om tydens hierdie laaste eksamen ook elke dag stiltetyd te hê?

Jou krag en insig is nie jou eie nie en daarom moet jy gereeld tyd maak om na jou Skepper te luister. Dit sal jou kalmte van gees gee om te weet dat jy nie alleen is nie en dat jou toekoms reeds vir jou beskik is.

19. Het jy dalk enige wenke vir die ondersteunende span, meestal die ouers, wat in hierdie tyd ’n groot rol speel?

Ouers, famille en onderwysers speel ‘n baie groot rol en daarom moet hulle daarteen waak om matrikulante moedeloos te maak deur heeltyd te kontroleer of hul besig is om te leer. Ondersteun waar nodig en bly positief. Moenie nou doemprofeet speel oor waar jou kind gaan werk kry as hy of sy druip nie. En bederf maar deur af en toe ‘n koppie koffie aan te dra!

20. Enige laaste wenk van jou aan die matrikulante?

Die eindeksamen ís belangrik en jy kán nog ‘n laaste poging insit om te werk vir onderskeidings, maar onthou ook om dié fase van jou lewe te geniet en nie jou verhoudinge te laat skade ly nie. Die lewe is vol uitdagings en daar gaan nog baie eksamens volg – leer hoe om dit reg te hanteer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.