Ouers sit met talle vrae nou dat pakslae onwettig is

Argieffoto

Family First NZ, ʼn ouerleidinggroep in Nieu-Seeland, het dié week Suid-Afrikaanse gesinne gewaarsku die verbod op pakslae sal meer skade doen as goed.

Die organisasie meen só ʼn verbod kriminaliseer goedbedoelende ouers en sal nie veel doen om kindermishandeling te bekamp nie.

“ʼn Dekade ná die omstrede pakslaewet in Nieu-Seeland ingestel is, is daar steeds sterk weerstand teen dié ongewilde wet. Boonop het dit ʼn ongelooflike negatiewe gevolge vir ouerskap gehad want in stede daarvan om ouers vas te vat wat hul kinders misbruik, het dit goeie ouers bloot geteiken,” sê Bob McCoskrie, die nasionale direkteur van Family First NZ.

McCoskrie verwys na ʼn verslag wat aan die begin van verlede jaar gedoen is oor die wet wat in 2007 ingestel is. Volgens hom het die verslag, getiteld “Defying Human Nature: An Analysis of New Zealand’s Anti-Smacking Law”, bevind dat daar nie ʼn enkele aanwyser is wat toon die wet het ʼn positiewe uitwerking op mishandeling van kinders gehad nie.

Polisiestatistieke toon ʼn toename van 136% in fisieke mishandeling, 43% toename in seksuele mishandeling, ʼn 45% toename in verwaarlosing van kinders en 71 sterftes weens kindermishandeling sedert die wet ingestel is.

ʼn Ondersoek vroeër vanjaar het bevind dat twee uit elke drie Nieu-Seelanders gesê het hulle sal nie skroom om die wet te oortree nie. ʼn Opname in 2011 het bevind ʼn derde van ouers met jonger kinders sê hulle kinders het al gedreig om hulle te rapporteer as hulle pakslae kry en dat een uit elke vier ouers van jonger kinders beweer hulle hanteer kinders se onaanvaarbare gedrag nou met minder selfvertroue.

“Ons wil Suid-Afrikaanse ouers waarsku dat hierdie wet gesinne gaan verskeur. Selfs ʼn ondersoek – sonder enige vervolging – deur die polisie of maatskaplike dienste in so ʼn geval is besonders traumaties en destabiliserend vir gesinne.

“Die ondersteuners van hierdie soort verbod op lyfstraf, soos die VN, word gewoonlik deur politieke ideologieë beïnvloed eerder as gesonde verstand, goeie wetenskap en beleidmaking. Ouers weet wanneer pakslae gepas is. Kriminalisering van goeie ouers, wat net wetgehoorsame en verantwoordelike burgers wil grootmaak, is slegte wetgewing,” het McCoskrie bygevoeg.

hof-hamer

Argieffoto.

Hof beslis pakslae is onwettig

Ouers wat hulle kinders pakslae gee, kan voortaan soos misdadigers vir aanranding verhoor word. Die Johannesburgse hooggeregshof het verlede week bevind ʼn Moslem-pa kan nie die verweer van ouerlike tug gebruik nie, nadat hy sy 13-jarige seun geskop en geslaan het omdat hy na pornografie op die internet gekyk het.

Die seun het sy pa van aanranding aangekla. Die pa het ook die seun se ma later dieselfde dag aangerand en die egpaar is tans besig om te skei.

Regter Raylene Keightley het bevind ouers kan nie kwytgeskeld word van die nakoming van landswette nie. Sy het beslis die pa se verweer dat ʼn ouer geregtig is om “redelike straf” toe te pas, is nie net ongeldig nie maar ook ongrondwetlik.

Daar was vier vriende van die hof in hierdie saak. Die Sentrum vir Kinderreg, die Quacker Peace Centre en Sonke Gender Justice het voorleggings aan die hof gemaak. Die organisasies is ten gunste daarvan dat die verweer vir die verdediging van redelike of matige straf ongrondwetlik verklaar word.

Freedom of Religion South Africa (FOR SA), ʼn organisasie wat vir godsdiensvryheid staan, het geargumenteer vir die behoud van die verweer.

Keightley het bevind ouers wat aan lyfstraf glo, kan nie hul godsdienstige oortuigings bo die belange van hulle kinders stel nie.

Sy het ook gesê ouers wat hul kinders pakslae gee, moenie nou lukraak vervolg en gestraf word nie. Sy het aanbeveel waar moontlik moet ander ingrypings eers gebruik word.

Bybel_boek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Christelike organisasie maak beswaar

“FOR SA betreur die hoë vlakke van kindermishandeling en gesinsgeweld in Suid-Afrika. Daar is egter ʼn fundamentele en duidelike verskil tussen geweld en mishandeling, en redelike en gematigde tugtiging uit liefde. Dit is jammer hierdie uitspraak het nie erkenning hieraan gee nie,” het Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA gesê.

FOR SA is ook bekommerd oor die uitwerking wat die beslissing op ouers se gesag sal hê, asook die impak wat dit op die vryheid van miljoene Suid-Afrikaanse ouers het, wat glo in redelike en gematigde fisieke tugtiging in die beste belang van hulle kinders.

“Hoewel hierdie uitspraak bepaal dat ouers nie gekriminaliseer moet word nie, is dit moontlik dat kinders nou uit liefdevolle huise verwyder kan word omdat pakslae as ʼn misbruik of geweld beskou word.”

Swain het gesê die uitspraak stel ook ʼn baie gevaarlike presedent in ander gevalle waar kinderregte teen ouerlike en godsdienstige regte opgeweeg moet word.

Philip Rosenthal van Christian View Network het die hofsaak as morsig beskryf. “Die man het sy vrou ook aangerand, wat ʼn aanspraak op die ‘redelike tugtiging’ van sy seun moeilik maak om te glo. Teen die beslissing kan nog geappelleer word, maar daar moet dalk eerder gewag word vir ʼn saak wat regtig oor pakslae of lyfstraf binne die huis gaan om hierdie beslissing tersyde te laat stel. Daarvoor benodig ons ʼn ouer met moed, wat hulle kind lief genoeg het om hulle pakslae te gee.”

dr-llewellyn-curlewis

Dr. Llewellyn Curlewis, ‘n voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika. Foto: Morné Prinsloo.

Wat sê die regskenners?

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn regskenner, sê alle howe wat onder die Johannesburgse hooggeregshof val is nou gebonde aan dié uitspraak. “Totdat ʼn hoër hof soos die appèlhof in Bloemfontein of die konstitusionele hof dit tersyde gestel het is die beslissing bindend,” het hy verduidelik.

Curlewis het gesê ʼn regter in een van die ander provinsies se howe kan nog ʼn teenstrydige uitspraak in ʼn soortgelyke geval lewer, maar hulle sal bewus van Keightley se uitspraak wees en neem dit gewoonlik in ag wanneer hulle hul eie uitspraak lewer.

Curlewis meen verder die beslissing is ʼn dramatiese omwenteling in die gemene reg omdat ouers nie meer tugbevoegdheid as ʼn verweer teen aanranding kan gebruik nie. “Ek glo self in ‘buig ʼn boompie terwyl hy jonk is’, maar dit moet natuurlik binne perke geskied en ek is glad nie ʼn voorstander van aanranding nie.”

Hy het gesê Suid-Afrika sit tans reeds met ʼn reusagtige dissiplineprobleem onder die jeug. “Dit is juis adolessente tot en met die ouderdom van 25 wat by misdaad betrokke is. ʼn Mens mag hulle nie tronk toe stuur nie, hulle mag nie lyfstraf ontvang nie, nie meer in die skool nie en ook nie meer tuis nie.

“Watter soort alternatiewe bestaan daar? Ek vermoed ons sal toenemend al meer jong rampokkers sien want ons mag hulle nie meer straf nie. Dit is ʼn tragiese dag.”

Oordrewe maatskaplike voorskriftelikheid

Die ACDP het gesê dié party sal ʼn appèl steun teen die hofuitspraak.

Dr. Pieter Mulder, parlementslid en voormalige leier van die VF Plus, het gesê die staat moet daarop bedag wees om op ʼn oordrewe wys aan die publiek voor te skryf hoe hy in sy private omgewing moet optree.

“Dit is nie die staat se taak nie. In Suid-Afrika het ons minder regering nodig, nie meer daarvan nie.”

Hy het gesê dit is belangrik dat ouers eerder vertrou word met die opvoeding van hul kinders.

“Daar bestaan reeds wette wat as afskrikmiddel en straf dien waar ouers die aanvaarde maatskaplike norms van die gemeenskap oortree wat tug betref. In sulke gevalle moet daar streng teen die oortreders opgetree word om die boodskap duidelik oor te dra dat oordrewe of misplaaste tug onaanvaarbaar is.

“Ouers moet kinders in liefde grootmaak. My party is van mening dat binne hierdie atmosfeer ʼn gesonde mate van huislike dissipline en tug ʼn groot bydra lewer tot ʼn gedissiplineerde en geordende gemeenskap.

“Die staat behoort weggehou te word van die private sfeer van ouerlike gesag behalwe in gevalle waar kinders mishandel word. Hopelik sal die grondwethof die insig hê om hierdie uitspraak so te kwalifiseer,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.