Outisme en die ontrafeling van geheime

outisme

Foto: Autismepicenter.com

Herman en Joan Toerien

“Die beste terapie bly maksimale ouerbetrokkenheid,” sê die terapeut. In daardie stadium is outisme by ons jongste, Jandré, vermoed, maar ’n besliste diagnose het uitgebly. Trouens, ’n bekende kinder-neuroloog het bevind dat dit beslis nié outisme is nie. Intussen kon terapie, opvoeding en vaardigheidsopleiding nie stilstaan nie, al moes dit grootliks blind geskied.

In nie alle gevalle gaan dit so moeilik om outisme te diagnoseer nie. Die rede is dat outisme deur ʼn groot aantal mutasies in die gene veroorsaak word. Hoewel die outismelyers sekere eienskappe deel, soos ’n geneigdheid tot sosiale onttrekking en dikwels ’n gebrek aan spraakvermoë deel, is elkeen ’n unieke individu en dit moet tot voordeel van sy ontwikkeling benut word.

Nie almal wat oor die gemuteerde geen beskik, ontwikkel outisme nie. Verskeie snellerfaktore, soos griep van die verwagtende moeder tydens swangerskap is al ontdek. Een van ’n tweeling met die mutasie kan outisties wees, en sy broer met dieselfde mutasie, nie. Laasgenoemde is net nooit aan die snellerfaktor blootgestel nie.

Twee variante verdien ’n bietjie aandag. Die een is Aspergersindroom, wat eintlik ’n ligte vorm is. Die lyer kan dikwels sy skoolloopbaaan in die hoofstroom-onderwys voltooi, en het selde ’n spraakagterstand. Die tweede is savantisme, ’n seldsame toestand wat ook soms by Williamssindroom voorkom. Savante beskik oor besondere, maar eng vermoëns, soos om al die boeke in ’n biblioteek te ken. Meer algemeen het outistiese mense splintervermoëns, met Jandré wat byvoorbeeld baie kunssinnig is en mense met sy werk gereeld verstom, en ook knap is met veldfietswedrenne.

Al meer gevalle van oorerflikheid kom voor. Soms is dit weens verbeterde terapie wat die persoon “troumateriaal” maak, maar meer dikwels is dit waar die vlak van outisme so gering was dat dit nie geïdentifiseer is nie. In die stad Eindhoven in Nederland is gevind dat die aantal outistiese geboortes veel hoër is as elders. Dit blyk dat die bedrywe in dié stad ideaal is vir werknemers wat lank op elektriese werk kan konsentreer – ’n ideaal is vir sekere kategorieë outisme. Die ouers trou, en die outisme word oorerflik. In baie gevalle bly dit egter de novo, dit wil sê outisme kom spontaan voor.

Jandré-kunsuitstalling-outisme

Jandré Toerien by sommige van sy kunswerke. Foto: Verskaf.

Toe Jandré gebore is, was outisme nog baie seldsaam, en dit was nie ’n outomatiese vertrekpunt om die aard van gestremdheid te soek nie. Sedertdien het dit hand oor hand toegeneem. Ontkenners wat in invloedryke posisies beland het, het enorme skade aangerig aan die skep van voldoende skole, of skole wat ook vir outisme voorsiening maak.

Baie engele het oor Jandré se pad gekom, en toe hy onlangs ook met epilepsie gediagnoseer is, het die “nuwe” neuroloog opgemerk dat ’n mens kan sien daar is al baie werk met hom gedoen, insluitend deur sy ma wat tuisonderrig gegee het ná die spesiale Bloemfonteinse skool hom nie meer wou hê nie en na Unica Skool in Pretoria wou stuur. Die boodskap van “maksimale ouerlike betrokkenheid” het daarteen geskree, maar ook ons harte wat uitgaan na ’n kind wat soveel liefde kon opslurp en weer uitstort.

Pa het so fiks geword van saam aan pretdrawwe en fietsrybyeenkomste deel te neem, dat hy op 50 ’n halfmarathon gehardloop het.

Nou het hy judo ontdek, en lééf daarvoor. Die betrokke klub se lede is meestal kinderhuiskinders, en hulle ontvang hom met ope arms. Hier word almal dieselfde behandel en word hy toegelaat om te sosialiseer op die vlak wat vir hom gemaklik is. Die voordeel wat judo het, is dat daar ’n sekere roetine is met die begin en einde van die oefening wat vir sekuriteit sorg. Omdat aan die klere gevat word tydens die gooie en nie aan die liggaam self nie, is dit vir die outistiese kind aanvaarbaar.

Kenmerke van outisme:

  • Swak sosiale vaardighede;
  • Spraak mag afwesig of swak ontwikkel wees;
  • Verandering in roetine of omgewing mag angs veroorsaak;
  • Min of geen oogkontak nie;
  • Hou nie van fisiese aanraking, vertroeteling nie;
  • Verkies om alleen te speel, vermy groepe mense;
  • Repeterende gebare, gedrag;
  • Smaak, reuk en gehoor mag sensitief wees;
  • Selftoegediende beserings;
  • Woede-uitbarstings, meer algemeen by klein kinders omdat hulle hulself nie kan uitdruk nie;
  • Vrees vir gevaar ontbreek.

Die Toeriens se rubriek sluit aan by die film, Raaiselkind. Dit is gegrond op die roman van bekroonde skrywer Annelie Botes. Die film vertel die verhaal van die Dörfling-gesin en die simptome van outisme wat eie is aan Alexander. Raaiselkind verken die nimmereindigende uitdagings wat outisme vir ʼn liefdevolle deursneegesin inhou en wys hoe die gesin as gevolg daarvan begin verbrokkel.  Die film draai vanaf 16 Februarie in teaters landwyd. Lees gerus ook die artikel waar Diaan Lawrenson met Maroela Media oor die fliek gesels.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Dewald ·

Baie goeie artikel ons middelste ook outisties en mense verstaan nie of ontken dit. Nie eers die famielie verstaan dit nie. My dogter en self ook Aspergers en mense verstaan nie dit nie. Daar is ook geen voorsiening vir sulke kinders in gewone skole nie. Hulle pas nie in die blikkies wat hulle gedruk moet word nie en word dan uitgeskuif of verskree deur oningeligte kinders en onderwysers, maar daar skort niks met hulle intelligensie nie.

gelukkige outis mamma ·

dis waar wat jy sê. die familie verstoot jou en jou kind agv dit. skool is ‘n nagmerrie, selfs die huis is ‘n nagmerrie. maar jy leer daarmee saamleef. dis ‘n wonderlike reis wat jy elke oomblik van kan geniet. hierdie fliek gaan nie als wys wat jy deurgaan nie, maar help defnitief met bewusmaking

Alta ·

My Asperger kind het sy Gr 12 deur middel van GED tuisonderig stelsel van Amerka gekry. Wat n fantastiese manier van leer. En die standaard is ongelooflik hoog, maar tog is dit bekostigbaar vir die gemiddelde gesinne. Suid Afrikaanse Skole is nie toegerus om met sulke kinders te werk nie – n groot jammerte.

Eish ·

Insiggewende artikel. Die kuswerk is verstommend! Baie sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.