Pink Ladies help kinders opspoor

Foto: thepinkladiesza.weebly.com

Foto: thepinkladiesza.weebly.com

Pink Ladies is in Maart 2007 gestig nadat ʼn meisietjie, Sheldean Human, as vermis aangemeld is. Sheldean se liggaam is sowat twee weke later in ʼn stormwaterdrein gevind.

Jacqui Thomas, mededirekteur van Pink Ladies, sê van die vrywilligers wat met dié soektog gehelp het, het daardie nag bymekaargekom en besluit om ʼn organisasie te stig om die soektog na vermiste persone te versnel.

Pink Ladies is ʼn niewinsgewende organisasie wat vermiste persone of kinders in gevaar veilig by hul families probeer kry. Dié organisasie bestaan uit ʼn groot getal vrywilligers wat oor die hele Suid-Afrika en lande soos Amerika en Engeland strek.

Die naam Pink Ladies is afkomstig van die eerste paar sake wat dié organisasie hanteer het.
“Die eerste drie gevalle was almal meisietjies en hulle het almal hoofsaaklik pienk gedra,” vertel Thomas.

Pink Ladies speel ʼn sleutelrol wanneer ʼn persoon as vermis aangemeld word. Sodra hulle in kennis gestel word, skakel hulle dadelik met die belangrikste rolspelers soos die SAPD, Interpol, maatskaplike diensorganisasies en vrywilligers. Daar word ook soveel moontlik inligting bekom oor die betrokke saak. Hulle sorg dat die gemeenskap of dorp bewus raak van die vermiste persoon deur sosiale media en gedrukte pamflette. Die media word ook genader om te help met die soektog.

Volgens Thomas moet hulle baie versigtig wees tydens ʼn soektog omdat verskeie faktore in ag geneem word. Partykeer is dit ʼn ouer wat ʼn hofbevel ignoreer en die kind sonder toestemming vat. Daarom moet ʼn toestemmingsbrief ingevul word voordat hulle met ʼn soektog kan begin.

Die prosedure wat gevolg word sodra ʼn kind as vermis aangemeld word, hang van die kind se ouderdom af. Kinders tot sowat 12 jaar oud word dadelik as ʼn noodsituasie hanteer.

“Kinders onder daai ouderdom loop nie sommer vanself weg nie.” ʼn Soektog begin dadelik by die plek waar die kind heel laaste gesien is. Soveel moontlik mense help met dié soektog om die gebied so gou moontlik te dek. Volgens Thomas is daar ʼn tydperk tydens die soektog wat as die “goue uur” bekend staan. Hoe meer tyd verloop, hoe skraler is die kans om die vermiste kind of persoon te vind: “Veral as hulle deur iemand gevat is wat hulle nie ken nie.”

Thomas gee die volgende wenke wat ouers kan volg as hul kind vermis raak:

  1. Ouers/familielede moet self polisiestasie toe gaan om ʼn saaknommer te kry en ʼn vermistepersoonverslag in te vul.
  2. Pink Ladies moet so gou moontlik ingelig word.
  3. ʼn Familielid of goeie vriend moet te alle tye by die huis bly ingeval die kind by die huis opdaag.
  4. Probeer om nie paniekbevange te raak nie, al is dit moeilik. Kry iemand wat jou kan ondersteun tydens die soektog. Dit is belangrik om kalm te bly sodat jy helder kan dink – veral as inligting benodig word oor watter klere die kind gedra het. Elke bietjie inligting kan help.
  5. Geen kinders moet help met die soektog nie.

Besoek gerus Pink Ladies se Facebook-blad of webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.