Pionierskool: Sien is glo, maar voel is wragtig!

 Braille_Pionierskool_Facebook.jpg

Foto: Pioierskool, Worcester (Facebook)

Kinders sien van kleins af hoe mamma skottelgoed was, hoe ʼn mens ʼn fiets trap, hoe jy swaai of hoe jy jou mes en vurk vashou. Ons kleintjies leer so sien-sien, deur die wêreld om hulle fyn dop te hou en na te boots. Hul lewensverhale ontvou as’t ware soos ʼn pragtig geïllustreerde storieboek voor hul verwonderde ogies.

Kinders wat siggestremd is, kan nie uit hierdie voorbeeld, hierdie pragtige prentjieboek leer nie. Elizma Berlyn, bemarkingsbeampte van die Pionierskool vir siggestremde leerders, verduidelik dat hul leerders glad nie ʼn prentjie vir hulself kan maak nie.

“As jy byvoorbeeld sou sê, ‘Hou jou vurk reg vas’, weet hulle nie wat is reg nie. As ek sê ‘swaai’, weet hulle nie hoe en wat om met hul lyfies te maak nie. Daar is werklik baie uitdagings, maar met die hulp van ongelooflike onderwysers, hulpdienste, donateurs (soos die Virseker Trust) en baie ander mense wat uitreik, is dit ongelooflik hoe kinders met swak visie alles op die ou end kan dóén, hoewel hulle nie kan síén nie,” sê sy.

 Pionier_Skool.jpg

Foto: Pioierskool, Worcester (Facebook)

ʼn Baken van hoop

Die Pionierskool (vir leerders met verskillende gestremdhede) is al van 1881 af ʼn baken van hoop vir baie ouers en leerders.

Dié dubbelmediumskool skool bied aan 125 siggestremde leerders van Graad R tot matriek ’n heenkome – ’n plek waar hulle die kans kry om te leer en te floreer, ten spyte daarvan dat hulle swak sien, of heeltemal blind is. Omdat die onderwys baie arbeidsintensief is, is daar net vier tot agt kinders in ’n klas.

Elizma verduidelik dat dié skool presies dieselfde werk as enige ander hoofstroomlaerskool met die kinders behandel. Die vakkeuse van die hoërskool is effens meer beperk as by hoofstroomskole en in die afdeling vir multigestremde leerders, volg leerders hul eie kurrikulum.

“Bo en behalwe die normale kurrikulum, moet hulle ook braille bemeester en ʼn oriëntasie- en mobiliteitskursus voltooi.”

 Pionierskool_stap_facebook.jpg

Foto: Pionierskool – Worcester – Facebook

Die oriëntasie- en mobiliteitsprogram is baie belangrik vir elke nuweling op die skoolterrein, want hiér leer hulle sekere spoorsnytegnieke en ander vaardighede om hul weg te vind, soos hoe om jou ander sintuie te gebruik.

“Ons koshuise en skool het trappe, daar is nou deure en breë ingange soos by enige ander gebou, niks word vir hul vergemaklik nie. Ons leer die kinders liewer om binne normale omstandighede oor die weg te kom.”

ʼn Mens sou verwag om ʼn klomp gidshonde op die skoolterrein te sien, maar daar is nie ʼn enkele een in sig nie. Elizma sê gidshonde is eers vir skoolverlaters beskore.

“Binne die skoolterrein gebruik leerders geensins honde of kieries nie – hulle maak suiwer op hul spoorsnytegnieke en ander sintuie staat. Wanneer hulle winkel toe gaan, gebruik hulle soms kieries.”

Daar is oorgenoeg humor te vind by die Pionierskool en die kinders skerts en verkeer graag in ligte luim met mekaar. Elizma vertel dat leerders met blindheid grappenderwys na mekaar as molle verwys – dan kan jy werklik nie eers tussen lig en donker onderskei nie. Vra jy ʼn siggestremde leerder wat sy gunstelinguitdrukking is, sê hy vir jou, “Sien is glo, maar voel is wragtig!”.

 Pionier_Braille_Facebook.jpg

Foto: Pioierskool, Worcester (Facebook)

Braille as ʼn brug na buite

Elizma verduidelik dat braille, die medium waarmee siggestremde leerders lees en skryf, die ekwivalent van ʼn siende leerder se pen en papier is.

“Hulle moet baie goed vaardig wees in braille en begin reeds in Graad R met voorbereiding om eendag te kan lees en skryf.”

Dit neem omtrent ses jaar vir ʼn leerder om braille ten volle en tweetalig te bemeester – en dan verskil die Engelse en Afrikaanse braillestelsels boonop van mekaar! Net so het wiskunde ook ’n unieke braillestelsel en indien hulle musiek doen, is daar ʼn aparte musiekbraille wat hulle moet bemeester.

Vir die swaksiende en blinde persoon is lees en musiek van kardinale belang vir ontwikkeling en om in voeling met die buitewêreld te bly. Daarom het die skool ʼn uitgebreide biblioteek, met sowat 5 000 boeke in braille, 6 700 kassette oor verskillende interessante onderwerpe, byna 2 000 musiek-CD’s en ewe veel navorsingswerk.. Sowat 2 000 mense landwyd is lid van dié biblioteek en kan boeke, tydskrifte (eintlik enige leesstof) gratis telefonies of per e-pos bestel en uitneem, om later weer aan die biblioteek terug te besorg.

Die musiekbiblioteek lewer ook ʼn uiters belangrike diens, aangesien musiekopleiding van onskatbare waarde vir siggestremde persone is. Elizma skerts dat die leerders heeltemal op hoogte met die nuutste musiek is en dat die musiekbiblioteek moet spring om voor te bly met die jongste trefferparades.

“Musiek is een van die belangrikste boustene van blinde leerders se ontwikkeling en bied baie vreugde en sin aan hul lewens,” beklemtoon sy.

Onafhanklik, maar onderskraag

Volgens Elizma word die kinders so onafhanklik as moontlik grootgemaak en nie met alledaagse takies gehelp nie. Die meeste leerders woon in die ses koshuise op die skoolterrein, waar hulle elke dag self sesuur uit die vere moet kom, aantrek, bed opmaak en na die eetsaal stap vir ontbyt. Dan stap hulle skool toe, kry onderrig in verskillende vakke en raak soos enige skoolkind baie opgewonde oor pouse.

 Pionierskool_uitstappie_Kirstenbosch.jpg

Foto: Pioierskool, Worcester (Facebook)

Tog bied die skool ʼn groot verskeidenheid ondersteuningsdienste, soos die oriëntasie- en mobiliteitsprogram, arbeidsterapie en spraakterapie. Daar is ook ʼn geregistreerde verpleegkundige en ʼn opvoedkundige sielkundige.

Die Pionierskool se kinders staan beslis ook nie terug wanneer dit by sport en ander buitemuurse aktiwiteite kom nie. Hulle swem, speel krieket, doelbal en skaak, sing in die koor en maak musiek. Elizma verduidelik dat skaakborde en speelstukke aangepas is vir leerders met blindheid of swak visie. Verder het hul krieket- en sokkerballe klokkies in, sodat die leerders presies weet waar die bal is, en die krieket word bietjie aangepas – die bouler sal die bal onderdeur rol, en nie bo-oor boul nie.

“ ʼn Verskeidenheid instrumente is ook beskikbaar en die kinders kan leer om musiek op instrumente soos klavier, kitaar en fluit te maak met die braille-bladmusiek wat in die musiekbiblioteek beskikbaar is. Die musiekbiblioteek by die Pionierskool is die enigste biblioteek in Afrika wat gebrailleerde musiek uitleen,” sê Elizma.

Die skadu van geldnood

Hoewel daar genoeg oudiohandboeke vir siggestremde leerders is, is dit baie duur om te laat brailleer. Elizma voeg by dat dit ook baie moeilik vir leerders is om ʼn handboek sommer net huis toe te neem, want ʼn gewone handboek in skrif verskil hemelsbreed van ʼn gebrailleerde handboek.

“Waar ʼn gewone handboek in drukskrif slegs een volume is, word dieselfde hoeveelheid inligting maklik in vier gebrailleerde handboekvolumes weergegee.”

Die onlangse finansiële inkorting deur die skool se hoofborg, wat die biblioteke tot onlangs gefinansier het, sou waarskynlik daartoe lei dat die skoolbiblioteek asook die musiekbiblioteek se dienste vanaf Julie 2018 gestaak sou word. Danksy die Virseker Trust en ander donateurs, kan die biblioteke vir nog ʼn ruk oop bly.

Siggestremde leerders kan wel nie die prinses in hul gunstelingfeëverhaal se balrok bewonder, hulle aan Disney se jongste tekenprent vergaap of die glorie van ʼn sonsondergang oor die see aanskou nie. Maar hulle kan – met die vorming en onderskraging wat die Pionierskool vir siggestremde leerders bied – droom, leer en dóén.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.