Produksiehuis ‘kweek liefde vir teater’ by Afrikaanse skole

Een van die produksies van vorige jare (Foto: Verskaf)

Meer as 5 000 leerders sal weer vanjaar aan Afrikaanse teaterproduksies blootgestel word wanneer Andre Stolz Produksies vir die tiende jaar na Afrikaanse huistaal-skole met drie Afrikaanse produksies toer.

Andre Stolz Produksies bied al sedert 2009 hierdie soort produksies aan. Veteraan akteurs soos Bettie Kemp, Isadora Verwey, Riana Wilkens, Amor Tredoux, Elma Potgieter en Karin Retief is almal betrokke.

Onderwêreld van Fanie Viljoen, Mis van Reza de Wet en My Japan van Schalk Schoombie is die drie produksies wat dié jaar te siene sal wees.

“Die geselskappe bly deurgaans dieselfde buiten vir Tessa Denton wat oorneem by Karin Retief as Gertie in Mis. Onderwêreld kry ook die akteur Danie Putter by. Hy gaan in die rol van Greg afwissel aangesien ons drie optredes per dag in die Wes-Kaap het. Ons toer ook na skole in die Vrystaat, die Oos-Kaap, die Noord-Kaap, Noord-Wes, Mpumalanga en Gauteng,” het Stolz gesê.

Altesaam 7 249 leerders in 114 skole het die Mis-vertonings in 2017 bygewoon. Dié produksie is ook in 2016 benoem as beste jeugproduksie in die Naledi-teaterpryse.

Stolz het gesê die produksies word aangebied om die leerders ’n beter begrip te gee van die letterkunde wat hul lees én om liefde vir teater te kweek.

“In die eerste plek is die produksie ’n hulpmiddel vir die leerder om die karakters en die storie in die boeke beter te verstaan. Dit vergemaklik ook die onderwyser se taak. Daar is geen twyfel nie dat die leerders baie beter doen as vorige jare, as gevolg van die produksies,” het Stolz gesê.

Een van die produksies van vorige jare (Foto: Verskaf)

“Dit is ook en geleentheid om aan jong mense wat nog nooit teater ervaar het nie, en wat dit moontlik nooit weer sal ervaar nie, die geleentheid daartoe te gee. Dit het al gebeur dat leerders later besluit om drama te gaan studeer of om skrywers te word. Dit is ook net om die leerders die magic van teater te wys,” het hy gesê.

Die produksies word tydens skoolure aangebied en die Afrikaanse departementshoofde van die onderskeie skole tref die reëlings. Leerders van deelnemende skole in ’n spesifieke area kom dan byeen op een plek om na die produksie te kyk.

“Ons begin met Onderwêreld en toer van 19 April tot 30 Mei daarmee. Mis is van 2 tot 23 Mei aan die beurt en My Japan speel middel Julie tot middel Augustus,” het Stolz gesê.

Onderwêreld sal vir altesaam 5 332 leerders in 94 skole in Gauteng, Mpumalanga, Vrystaat, Noord-Kaap en Noord-Wes aangebied word.

Aanbiedings van My Japan is beskikbaar teen R70 per persoon vir gr. 11’s, terwyl Mis en Onderwêreld teen R80 per persoon opgevoer word vir gr.12’s.

Vir meer inligting besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.