Psigose onder kinders: Wat ouers moet weet

Daar is ʼn groot aantal geestesgesondheidskwessies wat tydens adolessensie na vore kan kom, onder meer bipolêre wanorde en skisofrenie. Hoewel dit ʼn ontstellende uitwerking op die hele gesin en selfs uitgebreide familie kan hê as hul tieners sukkel met psigiatriese toestande, is dit belangrik om dit te verstaan ten einde die kind se welstand te ondersteun.

“Die diagnose van psigiatriese toestande is baie kompleks, en dit kan selfs méér kompleks wees tydens adolessensie,” sê dr. Ulli Meys, ’n psigiater by Akeso Kenilworth Adolescent/Young Adult (KAYA), wat spesialiseer in geestestoestande onder adolessente.

“Dit is die stadium in die kinders se lewe waar hulle hul eie identiteit begin vorm, hulle begin onderskei van hul familie-eenheid en wanneer hulle hul karakter en persoonlikheid begin uitdruk,” sê Meys.

“Dit kan dikwels ʼn stresvolle oorgang wees, veral omdat dit gepaardgaan met ʼn tyd waarin baie jongmense onder die versoeking van dwelms en alkohol is.”

Meys sê dat skisofrenie en bipolêre wanorde wel met die regte medikasie beheer kan word, maar dat dié medisyne met die grootste sorg vir die kinders voorgeskryf moet word ná ʼn volledige ondersoek.

“Sonder die nodige psigiatriese behandeling sal dié toestande waarskynlik vererger en daarom is dit baie belangrik om ʼn akkurate diagnose te maak.”

Vir bipolêre wanorde om by ʼn kind gediagnoseer te word, moet die maniese fase minstens ʼn week lank aanhou. Indien die simptome slegs vir ʼn dag of twee aanhou, is dit moontlik bloot ʼn uitdrukking van adolessente uitbundigheid eerder as ʼn simptoom van ʼn geestestoestand.

Wanneer iemand in hul tienerjare psigose ontwikkel, wat gedefinieer word as ʼn toestand waar die individu voeling met die werklikheid verloor en hallusinasies of illusies ervaar, kan dit ʼn teken van skisofrenie wees. Op kort termyn kan dit moeilik wees om te onderskei tussen psigose en toksiese psigose, wat ʼn reaksie is ten opsigte van dwelms, alkohol en sekere medisyne.

Psigose behels gereeld dat individue illusies het dat hulle gevolg of dopgehou word en dit gaan hand aan hand met paranoia. ʼn Ander vorm daarvan is dat die individu glo dat hulle spesiale mag of invloed het in die wêreld om hulle.

Meys tref die volgende onderskeid tussen psigose wat deur skisofrenie aangevuur word en toksiese psigose.

Psigose wat deur skisofrenie aangevuur word

“Skisofrenie het ʼn sterk genetiese skakel,” sê Meys. “Om uit te vind of daar ʼn familiegeskiedenis van skisofrenie is, is uiters belangrik. Die familie sal ook kan sê of die verandering in die tieners se toestand oor ʼn lang tyd of skielik gebeur het, en of dit gepaardgaan met dwelms.”

Waar die psigotiese episode aan skisofrenie gekoppel word, is daar ʼn geleidelike verandering oor weke of maande. Die persoon kan daarin al hoe meer buite sy/haar karakter begin optree.

Toksiese psigose

Die verandering van die persoon se geaardheid is skielik en dit is maklik om uit te wys waar die verandering begin het. Terwyl dwelms en drank toksiese psigose kan aanwakker, is dit belangrik om te weet dat ontspanningsdwelms soos dagga skisofrenie kan laat begin.

In die meeste gevalle sal die effek van toksiese psigose in ʼn paar dae of weke verminder, waar illusies wat aan skisofrenie gekoppel word net mettertyd vererger.

“Dit is ʼn groot wanpersepsie dat sodra individue beter voel, daar nie meer rede is om medikasie vir sy/haar toestand te neem nie. Inteendeel, dit is ʼn aanduiding dat die medikasie besig is om te werk, en indien die persoon nie andersins deur ʼn psigiater aangeraai word nie, moet hulle hul medikasie soos voorgeskryf aanhou gebruik om die risiko van ʼn terugslag te voorkom,” sê Meys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zombie ·

Sal die begrip “bipolêre wanorde” nie eerder met “bipolêre gemoedsversteuring” vertaal kan word nie?
“Toksiese psigose” klink vreemd. Dit klink asof die psigose opsigself giftig is. Kan dit nie met “substans-geïnduseerde psigose” vertaal word nie? Moontlik is daar ń beter Afrikaanse vertaling vir “substance induced” as my direkte vertaling daarvan.

Louis ·

Die gebrek aan terapeutiese ingryping op ‘n vroee stadium in ‘n kind se lewe wat enrstige emosionele probleme ervaar agv sy/haar “psigo sosiale funksionering” speel ‘n groot rol in die vestiging van hierdie ernstige uitvalle (psigoses) MOTIVERING: “Mense kom uit ‘n spesifieke Ekosisteem wat ‘n positiewe of negatiewe invloed op die individu het. Hierdie invloede moet gemeet word om baie vroeg reeds terapeuties in te gryp. In vandag se omstandighede BEHOORT die kind se “coping/oorlewings meganismes” so vroeg as moontlik vasgestel te word, om dit aan te pas indien dit gebrekkig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.