Raad en daad vir boelies

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie. Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks op ’n globale skaal afgeknou. Navorsing toon dat boelies daarop uit is om sekere kinders te treiter en af te knou weens verskeie redes, soos verskille in etniese- en kultuurgroepe, liggaamlike voorkoms, of seksuele- of geslagsoriëntasie.

Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief vind daar gereeld voorvalle van afknouery plaas, soos byvoorbeeld die voorval in Maart vanjaar toe ’n leerder by ’n skool in Kaapstad ’n ander leerder met ’n baksteen teen die kop gegooi het. Twee seuns was by hierdie voorval betrokke. ’n Ander voorbeeld van afknouery het in 2016 in Stellenbosch plaasgevind waarna twee boelievideo’s die ronde op sosiale media gedoen het. Die eerste video het gewys hoe ’n skoolmeisie aangerand is en, in plaas daarvan dat hulle haar help, was haar medeleerlinge blote omstanders, wat selfs video’s van die voorval geneem het. In die tweede video het van die leerders egter die afknouery probeer stopsit. ’n Familielid van die slagoffer in die tweede video het gesê ’n klag is teen die aanvaller ingedien. Sy het bygevoeg dat hierdie tipe voorvalle nie toegelaat kan word nie en dat negatiewe gevolge kan ontstaan, soos kinders wat te bang is om skool toe te gaan en ook die moontlikheid van die ontwikkeling van selfmoordneigings. Sy het ook aangedui dat dinge nie kan aangaan soos wat dit tans voortduur nie.

Onlangs was daar weer verskeie voorvalle, naamlik die boelie-video wat op sosiale media die ronde gedoen het waar ’n hoërskoolseun van die Wes-Kaap ’n huilende meisie tydens ’n rusie met ’n voorwerp slaan en haar ook met iets gooi. Dan is daar ook die geval waar’n 14-jarige meisie deur twee ander seuns verkrag word terwyl die derde seun ’n video gemaak het daarvan.

Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller gerig word. Die Noorse navorser Olweus het die volgende drie karaktereienskappe van afknouery geïdentifiseer:

  • Aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak;
  • Oor ’n tydperk word hierdie aksies herhaal; en
  • ’n Wanbalans van mag wat die slagoffer hulpeloos laat waar hy homself nie doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

 Afknouery kan verskeie vorme aanneem, naamlik:

  • Fisiek (skop, slaan of boks);
  • Verbaal (noem kinders name, die spot dryf of dreigemente);
  • Emosioneel (sosiale uitsluiting, intimidasie deur gebare of dreigemente);
  • Rassistiese afknouery;
  • Seksueel; en
  • Kuberafknouery (deur die internet – sosiale media soos Facebook; of selfone – haatboodskappe, dreigemente).

Daar is baie ouers wat nie bewus is van die feit dat hul kind moontlik ’n slagoffer van afknouery in die skoolomgewing kan wees nie – totdat dit te laat is. Kinders wil nie altyd hul ouers vertel dat hulle afgeknou word nie, omdat hulle dalk bang is vir wat die boelie aan hulle sal doen as hulle uitpraat, of hulle voel dalk skaam of verleë. Daar kan baie redes wees waarom jou kind jou nie wil vertel dat hy afgeknou word nie. Dit beteken dus dat dit jou werk as ouer is om ’n oog (en ’n oor) op jou kind te hou. Wees bewus!

Hier is vyf tekens wat kan aandui dat jou kind ’n slagoffer van afknouery is:

 Onwillig om skool toe te gaan

As jou kind dit normaalweg geniet om skool toe te gaan en ewe skielik nie meer wil gaan nie, kan dit daarop dui dat jou kind by die skool afgeknou word. Moenie gefrustreerd raak deur sy onwilligheid om daaroor te praat nie, maar sit eerder en gesels met jou kind oor die redes waarom hy nie meer wil skool toe gaan nie. Ouers moet geduldig wees as kinders aanvanklik ’n bietjie senuweeagtig is om hulle te vertel wat aangaan.

Veranderinge in slaappatrone

Studies toon dat 36% van kinders wat slagoffers van afknouery is slaapprobleme het. Kinders wat afgeknou word, kan soms parasomnia of nagmerries ervaar. Afknouery kan ook tot depressie by kinders lei, wat dan kan veroorsaak dat kinders sukkel om te slaap of te veel slaap.

Verandering in geaardheid

As ouer moet jy jouself afvra of jou kind se geaardheid verander het en of hy buierig is waar hy voorheen gelukkig of toeganklik was. Só ’n verandering kan met hormonale kwessies geassosieer word, veral by tieners, maar dit kan ook ’n teken wees dat iets of iemand jou kind seermaak. Ouers ken hul kinders die beste, daarom is dit juis belangrik dat hulle op hoogte van hul kinders se houdings en buie bly.

Vriendverskuiwings

Hou jou kind se vriendegroep dop, want só kan jy agterkom wie hy ignoreer. Jou kind kan homself moontlik van ’n vorige vriendegroep distansieer.

Afname in punte

’n Afname in akademiese prestasies of punte kan die gevolg wees van kinders wat nie bereid is om skool toe te gaan nie, juis omdat hulle afgeknou word. Die skool word ’n omgewing waar vrees en angstigheid gekweek word, eerder as ’n omgewing waar daar geleer en genot gevind word. Dít kan negatiewe gevolge vir kinders inhou, juis omdat hulle hul belangstelling in hul skoolwerk verloor. Ouers moet hul kinders se akademiese punte moniteer en as daar ’n geweldige afname is, is daar ’n moontlikheid dat groter probleme die oorsaak kan wees.

Ander waarskuwingstekens van afknouery sluit die volgende in:

  • Onverklaarbare beserings soos kneusplekke, snye en krapmerke;
  • Vrees om skool toe te gaan, om skool toe te ry met die skoolbus, of om skool toe of huis toe te loop;
  • Verskonings word opgemaak oor hoekom hulle nie skool toe kan gaan nie;
  • Verlies aan eetlus of verandering in eetgewoontes;
  • Vernietigde of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle; of
  • Gereelde klagtes oor maagpyn, hoofpyn, naarheid, of gee voor dat hy siek voel.

Watter stappe moet jy volg as jou kind/kinders afgeknou word?

Die bostaande waarskuwingstekens kan aandui dat jou kind ’n moontlike slagoffer van afknouery is, maar dit kan tekens van ander vorme van mishandeling ook wees. Ouers moet met skoolpersoneel praat, asook met hul kinders, wanneer enige van hierdie tekens by kinders voorkom.

Wanneer jy met jou kind gesels, moenie bloot reguit vra of hy geboelie word nie. ’n Beter manier waarop hy benader kan word, sluit in:

  • “Afknouery word oral op die nuus/sosiale media bespreek. Is daar afknouery wat tans in jou skool plaasvind?”
  • “Ek is bietjie bekommerd oor jou. Is daar enige kinders in jou klas/skool wat jou dalk moeilikheid gee of wat jou afknou?”
  • “Word jy dalk deur kinders in jou skool op ’n neerhalende manier gespot?”
  • “Is daar enige kinders in jou skool wat jou aspris uitsluit by hul vriendekringe?”

As hul ouer moet jou kinders besef dat jy vir hulle lief is en altyd daar is vir hulle. Dit is dus belangrik dat hulle moet weet hulle kan enige tyd met jou kom praat as daar dinge is wat hulle pla. Dit is ook baie belangrik om noue bande met jou kind se skool te hê, sodat jy sal weet wanneer daar iets aan die gang is, soos jou kind wat moontlik afgeknou word. Jy kan dan ’n onderwyser kontak om oor jou kind te gesels, omdat jou kind se onderwyser in die beste posisie is om hulp te bied, juis omdat hulle die verhoudinge tussen kinders en hul skoolmaats verstaan.

In die volgende artikels gaan daar op die volgende gefokus word:

  • Is jou kind dalk die boelie?
  • Identifisering en verduideliking van die verskillende vorme van afknouery
  • Oorsake van skoolgeweld en afknouery
  • Impak van afknouery in skole
  • Identifisering van die verskillende rolle wat leerders in afknouery speel
  • Ingrypings om afknouery in skole stop te sit

*Lombaard is ’n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

andrew botes ·

My kind is erg deur n ander leerder van sy skool aangerand soveel so dat hy moes hospitaal toe. Die skool het ons eenvoudig net gebel en gese ons kin het seergekry. Al die mediese kostes is toe van ons verhaal vir ons kind. Skool ander kind net detensie laat sit. My vraag, het die skool dan nie public liability vir sulke gevalle nie? Ek weet hoekom die skool nie optree nie…

Tessa Burger ·

Die ding met boelies-hulle is slinks. Hulle kom “in all shapes and sizes en ouderdomme” en hulle knou af op so ‘n manier dat botter nie in hulle mond sal smelt nie. Dis ‘n ouer/familielid of kolegga. Jou lewe word hel gemaak deur die boelie maar jy’t geen bewyse nie. Hier het julle bewyse. Meeste vd tyd word jy geboelie deur iemand wat niemand dit van sal glo nie.
Sterkte vir die slagoffers.

audrette ·

Ons harte is plat geslaan so ruk terug, n meisiekind met n goeie hart het selfmoord gepleeg, ons neem so aan want die skole in ons omgeewing het rontes gedoen en met kinders gepraat oor n geboelie en selfmoord, ons sal nie die regte rede weet nie maar boelie was n groot faktor, ek weet nie wat om te maak met my eie kind se houding nie, sy het tot laas jaar altyd huis toe gekom en gepraat oor skool en hoe lekker dit was, sy het steeds n houding gehaad maar van die begin van die jaar raak dit erger, sy praat glad nie meer oor haar onderwysers of oor hoe skool was of oor haar goeie punte nie, dit alles oor seuns en vriendinne met houdings, haar skool punte het ook gedaal veral oor ek weet dat sy in alles goed gedoen het nou val dit van 80 af na skielik tussen 50 tot 60, sy is rebels in gr6 en ek weet nie meer nie, raas werk nie, straf werk nie en dit asof ek en sy deesdae verby mekaar lewe, dit asof sy net nie meer omgee nie, as sy met my praat oor maats dan se sy sy staan nie stil vir boelies nie maar aan die anderkant klink dit of sy self een is oor dit wat sy van ander se, ek dink dit tyd vir n goeie pakslae of hoe want ek weet self nie!

Linda ·

Ek persoonlik dink dit is moeilik vir kinders met maniere om boelies te hanteer. Audrette ek persoonlik dink ek jou kind probeer om dit dalk te “vergeet” daarom praat sy nie meer daaroor nie. Moet haar nie slaan nie, sy weet nie hoe moet sy dit self hanteer nie. Oor hierdie saak moet jy bid tot God vir uitkoms. Ek het nie tyd vir hierdie tipe nonsens nie, en het al ‘n kind vasgevat in die kleuterskool, vir die skoolhoof gaan sê en sy sê vir my dankie. Op laerskool het ek persoonlik ‘n boelie nou die dag self vasgevat, hy het hom asvaal geskrik. Kom sê die nasorg personeel vir my dankie. Ek smee die yster terwyl hy vuurwarm is. Die hoof sal bly wees my kind is nie in sy skool nie. Maar onthou net boelies is die grootste lafaards.

maryna ·

Linda, jou kind word heel moontlik geboelie…..ek het daardie ondervinding en ervaring, dit maak van jou kind n misrabele en onuithoudbare kind, maar my mening oor boelies is dat hulle die lelik in jou eie kind na vore bring, my kind tree ook so op, maar ongelukkig weet ek dit is omdat sy geboelie word en watter weerstand moet n meisiekind bied as sy geboelie word, dit is baie hartseer ek sit self in daardie posisie maar het nou n aansoek by die hof gaan indien, aangesien dit vir my voel of ek teen mure vasloop, hoe meer ek n hulpkreet uitroep hoe minder aandag word daaraan gegee

Inge ·

My kind word ook geboelie. Ek het dit al onder die aandag gebring van die juffrou en sy het gese sy sal optree, maar elke keer as ek my kind vra, dan se hy sy het nie tyd gehad nie. Die onderhoof se ook “dit is deel van groot word”. Dit is twak, as hierdie gaan aanhou gaan ek ‘n ander plan moet maak. My kind verdien dit nie.

Dellaq ·

Andrew, ek weet dis duur,maar dagvaar die skool. jou kind het seergekry in hulle “sorg” en vat nie verantwoordelikheid vir boelies nie….so laat hulle voel. Name en shame hierdie skole…laat ons weet waar die skole is want daar IS goeie skole wat nie boelies duld nie.

Liza101 ·

My enigste raad is om jou kind van kleins af te leer om hulle man te staan. My dogter het ‘n baie sagte hart en laat toe dat almal oor haar loop. Totdat sy vasgetrap het en daai boelie terug geklap het! Nog nooit weer het die boelie groep naby haar gekom nie, en ja sy was gestraf vir haar op trede maar daai klap het dit gestop! Leer jou kind om nie eerste te slaan nie maar om terug te slaan!

anoniem ·

Ek is moeg vir boelies in die skool, my kind word geboelie en is tans in matriek, dit is onder skool en polisie se aandag gebring nou is ek besig om n aansoek by die hof in te dien. Dit voel of ons oral teen mure vasloop, en ja my kind dreig ook met selfmoord en word emosineel so afgeknou en dit in haar matriekjaar………..so ek is gatvol vir boelies en wens iemand wil iets hieraan doen…

anoniem ·

Nodeloos om te sê, maar sy is n meisie en word so sleggesê en afgekraak deur seuns wat nie maniere het nie…….dit het vroeg in haar hoërskool loopbaan begin maar ek as ouer is nou gatvol en het besluit om verdere stappe te neem. As mens nie eers jou plaaslike polisie kan vertrou vir hulp nie moet jy ongelukkig maar reg in eie hande neem…….ek is gatvol en het nou die wiel aan die rol gesit, ons woon in n plattelandse dorp en daar word absoluut NIKS aan boelies in die skool gedoen nie, slegs waarskuwings……..waar gaan dit eindig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.