Raad vir eerstejaarstudente

Foto: Pixabay

Deur Anja van den Berg

Geluk met die voorreg om ‘n tersiêre instelling te kan bywoon! Jy is een van die min gelukkiges; daar is duisende wat graag wil wees waar jy is.

Die oorgang van hoërskool na universiteit is nie maklik nie. Daar kom baie verantwoordelikhede en veranderings by. Ongelukkig oorweldig die veranderings talle eerstejaarstudente.

Die helfte van tersiêre studente val gedurende hul eerste jaar uit en van diegene wat wel slaag, gradueer net minder as die helfte, sê die direkteur van die Akademiese Ontwikkelingsentrum aan die Universiteit van Johannesburg.

Dit kan wees omdat baie jong mense universiteit toe gaan sonder dat hulle deeglik voorberei of gereed is daarvoor. Wat jy in jou eerste jaar doen, sal ‘n uitwerking hê op die res van jou tersiêre loopbaan. Te veel verkeerde skuiwe kan maak dat jy nie die volgende jaar sal kan terugkeer nie. Maar moenie bekommerd wees nie; die eerste jaar is nie so skrikwekkend soos dit lyk nie, mits jy die regte balans tussen akademie en sosiale aktiwiteite kan vind. Doen dit só:

  1. Woon die oriëntasieweek by

Nie net die pretaktiwiteite soos die partytjies of lewendige optredes van jou gunstelingmusikante nie, maar ook die vervelige aktiwiteite wat volgens jou nie belangrik is nie. Jy sal gou uitvind dat dit wel belangrik is. Woon aktiwiteite by soos die biblioteekoriëntasiekursus. Daardie ou boeke wat lyk asof hulle al vir eeue daar staan, bevat soms die kosbaarste kennis wat vir jou die nodige duidelikheid sal gee om jou bepaalde kursus baas te raak. Leer die kampus ken. Hoe beter jy jou weg kan vind, hoe kleiner die kans dat jy sal verdwaal en laat vir jou klas sal wees.

  1. Onthou jou hoofdoel

Jy wil gradueer, reg? Raak georganiseer! Stel onmiddellik ‘n studieplan op sodra jy jou rooster kry. As jy presies weet waaraan jy jou tyd gaan spandeer, sal jy uitvind dat jy baie meer daarvan het. As jou tyd georganiseer en reg gebalanseer is, sal jou lewe ook gebalanseer wees sodat jy terselfdertyd aan sosiale aktiwiteite kan deelneem en jou vakke kan deurkom.

  1. Klasdraf

Hierdie punt kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie! Dis baie aanloklik om daardie agtuurklasse oor te slaan, want niemand gaan kyk of jy daar is nie. Om geskeduleerde klasse oor te slaan, sal egter jou grootste fout wees! Die bywoning van klasse versterk jou begrip van die materiaal. Jy kry direk gedetailleerde aantekeninge oor die lesings. Jy sal jou lektor en klasmaats ontmoet, vriende maak en studiegroepe vorm. Die ideaal is dat jy vooraf die hoofstukke in jou handboek wat die lektor gaan dek, moet lees.

  1. Kampushulpbronne

Jy voel dalk soos ‘n klein vissie in ‘n groot dam, geïsoleer en alleen. Sluit by ‘n vereniging of klub op jou kampus aan om vriende te maak. Daar is baie verskillende organisasies en jy sal beslis een kry waarvan jy hou. Teken in by die akademiese steundienste en maak gebruik van die studieleier wat vir elke kursus beskikbaar is. Maak gebruik van die beroepvoorligtingsdienste as jy uitvind dat dit wat jy studeer dalk nie vir jou bedoel is nie. Skryf in vir seminare oor persoonlikeontwikkelingsvaardighede soos tydbestuur en doelwitstelling as jy nie weet hoe om hierdie vaardighede aan te wend nie.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android- en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

Bronne
– East Coast Radio: https://www.ecr.co.za/lifestyle/family/university-students-share-tips-first-year-arrivals/
– Sowetan Live: https://www.sowetanlive.co.za/good-life/2014-02-07-tips-for-first-year-students/

Hierdie artikel is ook te sien op Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.