Raaiselkind: ‘Ek moet nou teruggaan na dáárdie huis toe’

raaiselkind Raaiselkind, die langverwagte rolprent wat op Annelie Botes se aangrypende verhaal van ʼn outistiese seun en sy gesin se soeke na antwoorde oor dié gedragsversteuring gegrond is, het verlede Vrydag in fliekteaters landwyd begin draai.

Raaiselkind vertel die ontnugterende verhaal van Ingrid Dorfling (Diaan Lawrenson) wat haar man, Dawid (Neels Clasen), en die res van haar gesin probeer staande hou terwyl sy antwoorde soek oor wat presies haar jongste, Alexander (Ian Roelofs), makeer.

Sy word van bakboord na stuurboord, van dokter na dokter, gestuur en keer telkens terug huis toe met ʼn ligter beursie en ʼn swaarder gemoed. Alexander word uiteindelik met outisme gediagnoseer en ʼn emosioneel uitgeputte Ingrid word ondersteun deur die liefdevolle huishulp Miriam (June van Merch) en haar buurman, Günter (Anrich Herbst).

Lianie le Roux, ʼn stigterslid van die niewinsgewende organisasie Daniël and Friends, het die spesiale vertoning van Raaiselkind in Kaapstad bygewoon.

Le Roux en haar vriendin, Kate Laurie, het die organisasie op die been gebring nadat Le Roux se seuntjie, Daniël, in 2013 dood is aan Leigh se sindroom. Kort daarna is Laurie se kind ook dood en die dokter wat die kinders behandel het, het die vroue aan mekaar voorgestel.

Daniël and Friends het van ʼn klein ondersteuningsgroep na ʼn uitgebreide organisasie gegroei wat homself beywer om ʼn platform te skep vir sterker ondersteuning aan ouers van kinders met spesiale behoeftes.

Volgens Le Roux is die omvang van die kompleksiteit van outisme baie akkuraat in die fliek vasgevang. “Ek en Kate het die fliek gaan kyk saam met ʼn paar ouers wat lid is van die organisasie. Die een mamma het twaalf jaar laas die geleentheid gekry om te gaan fliek. Sy het só gehuil gedurende die fliek, want die eerste drie en ʼn half jaar van haar seuntjie se lewe word só korrek uitgebeeld. Sy het agterna vir my gesê: “Ek moet nou teruggaan na dáárdie huis toe.”

Die dames van Daniël and Friends saam met Diaan Lawrenson by die vertoning van “Raaiselkind” in Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Le Roux sê die fliek het Ingrid se eensaamheid in haar reis om vas te stel wat haar seun makeer, en Dawid se frustrasie met die seun wat hy nie kan verstaan nie, uitstekend uitgebeeld. “Die pad van ʼn ouer met ʼn kind met spesiale behoeftes is ʼn alleenpad. Vriende en familie verstaan nie altyd waardeur jy gaan nie en jy verloor mense langs die pad. Baie mense sal dink ʼn outistiese kind is stout, want hulle kan nie begryp presies hoe oorgestimuleer so ʼn kind sensories is nie.”

Volgens Le Roux gun baie ma’s van kinders met spesiale behoeftes hulself dit nie om te ontspan deur byvoorbeeld iets te doen soos om te gaan fliek nie. “Mammas en pappas hanteer ʼn spesiale kind in die huis baie verskillend. Ma’s veg wanneer daar geveg of gevlug moet word en stort hulle hele wese in die welstand van die kind, waar pa’s – en dit is beslis nie alle pa’s nie – makliker met hulle eie lewe voortgaan. Baie pa’s van sulke kinders is ongelooflik, maar die passie tussen ma’s en pa’s verskil definitief.”

Marietha Malan, rubriekskrywer en onderwyseres by die Alma-skool in Pretoria, werk daagliks met erg verstandelik gestremde leerders. Volgens haar het baie van dié leerders ook outistiese trekke.

“Die fliek is baie goed vir bewusmaking van outisme en die uitwerking wat dit op gesinne en mense het. Daar is nog soveel wanopvattings en gebrek aan kennis oor outisme in die samelewing. Die fliek bereik ʼn teikenmark wat nie sommer voorheen toeganklik was nie, juis omdat dit nie ʼn akademiese program is nie, maar eerder ʼn soort kunswerk wat mense aangryp,” sê Malan.

Raaiselkind is tans in fliekteaters landwyd te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Valie ·

Ek was van 1964 tot 1974 saam met so n seun op skool. Ons het hom verstoot omdat niemand daardie tyd outisme verstaan het nie. Hy was die eensaamste mens en het selfmoord gepleeg. Sien om na die mense wat nie dieselfde as jyself is nie ook.

Bolla ·

Ek was ‘n raaiselkind en is vandag ‘n raaiselmens met my eie raaiselkinders. En ek kan 1000 sopstories vertel oor hoe wreed, onkundig en onnadenkend mense kan wees, maar ek gaan nie.
As ouers van ‘spesiale kinders’ dink hulle loop ‘n alleenpad en kry bitter swaar, vergeet hulle heel dikwels hoe hulle ‘spesiale kinders’ bespot, verwerp, verneder en “bewerk” word deur alle watte sielkundige is. Hoe hulle oor en oor die boodskap kry dat hulle nie goed genoeg is om liefgehê te word vir wie hulle is nie.

Flieks soos “Raaiselkind” doen bitter min om die lewe vir ons makliker te maak, want dit stel ons nog steeds voor as abnormaal en stukkend en dat dit nodig is om ons ‘reg en gesond te maak’.
Bewusmaking is nie die antwoord nie. Aanvaarding is.

Anna ·

Ek het ‘n “Raaiselkind”. Ek is ‘n “Raaiselkind”. As eerstejaar op universiteit het die seniors my “Natuurfrats” gedoop. Dit loop vandag nog saam met my.
‘n Film soos hierdie kan slegs mense se negatiwiteit oor outisme versterk. En ja, ek het dit nie gaan kyk nie, maar ja, ek het die boek gelees. 3 Keer.
Nêrens, nêrens, Nêrens lees ek dat outistiese volwassenes geraadpleeg is met die maak van die film nie. Dalk is dit so, maar ek kan dit amper nie glo nie.
Outisme gaan oor die PERSOON wat outisties is. Sy gesondheid, sy sensoriese wêreld.
Meeste outiste het ander diagnoses wat saam met die outisme loop (bv. verstandelik gestremdheid, epilepsie, obsessief kompulsiewe sindroom, en nog baie). Ongelukkig word gedrag dikwels aan outisme toegedig, sonder dat die ander diagnoses genoem word.
Ek wil regtig ‘n versoek rig dat mense moeite doen om outiste te leer ken, en nie staatmaak op bangmaakstories in die media en van ander persone wat hulle nie verstaan nie.
Dis verskriklik vir ‘n outistiese volwassene om te hoor hoe ouers van outistiese kinders ‘n nagmerrie-lewe het. Dit voel of JY ‘n nagmerrie is, of JY mense se lewens verwoes. Nie lekker nie.
Aanvaarding en Begrip is nodig, nie Bewusmaking van simptome nie (In Engels noem ons dit “misery mongering”)
Dankie dat julle gelees het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.