Raak teleurstelling baas

teleurstelling-seun

Foto: Popsugar.com

Danielle Barfoot

Dit is vir ons as ouers moeilik om te sien hoe ons kinders teleurgestel word. Maar al voel ouers hulle kinders se seer aan eie lyf as dinge nie volgens plan verloop nie – jou kind is nie na ’n maatjie se partytjie genooi nie, is nie as prefek gekies nie, of het nie die toetspunt behaal wat hy verwag het nie – is teleurstelling ’n normale deel van grootword.

Teleurstelling, wat as ’n negatiewe emosie in antwoord op (sogenaamde) mislukking beskou word, is om die waarheid te sê eintlik ’n gesonde, positiewe emosie wat ’n noodsaaklike rol in die emosionele, intellektuele en sosiale ontwikkeling van kinders speel.

Net soos met alle ander kwessies, sal jou kind leer hoe om teleurstelling te hanteer deur te kyk hoe jy op mislukking – in jou eie lewe én in syne – reageer en dan jou voorbeeld volg. Beskou dus eerder elke teleurstelling as ’n geleentheid om jou kind toe te rus met die vaardighede om die lewe se voor- en teëspoed te hanteer.

Die eerste stap is natuurlik om te weet hoe om te reageer as hy mismoedig lyk, sy skouers hang en sy voete sleep.

  • Laat hom toe om sy teleurstelling uit te druk en erken sy gevoelens.
  • Bly kalm en behou perspektief.
  • Verseker hom van jou onvoorwaardelike liefde en ondersteuning.
  • Moenie ’n troosprys aanbied of die situasie probeer “regmaak” nie.

Dit is belangrik om nie te hard te probeer om net die mooi kant van die lewe vir jou kinders voor te hou nie. Kinders wat nooit die kans kry om die lewe se kleiner terugslae baas te raak nie, word nie toegerus om die groot teleurstellings te trotseer nie. Leer eerder jou kind om vas te byt en weer te probeer deur:

  • Nie te toegeeflik te wees nie – Jou kind sal niks daarvan oorkom as hy nie alles kry wat hy wil hê of het wat al sy vriende het nie.
  • Hom aan te moedig om te waag – Natuurlik wil jy jou kind veilig hou, maar as jy alle risiko’s uitskakel, ontneem jy hom die geleentheid om noodsaaklike vaardighede aan te leer en te ontdek waartoe hy in staat is.
  • Hom toe te laat om foute te maak – Dit mag dalk moeilik wees om te kyk hoe jou kind foute maak, maar moenie inmeng en jou kind “red” nie. Deur te verbrou sal hy leer dat mislukking nie die einde van die wêreld is nie, en dit sal hom help om in die toekoms beter besluite te neem.
  • Hom lief te hê en te aanvaar – As jou kind weet dat hy jou liefde en ondersteuning het, maak nie saak wat gebeur nie, sal hy die wêreld met selfvertroue kan aandurf.

Terugslae en teleurstellings is deel van grootword. Leer jou kind om deur te druk, want dan rus jy hom nie net toe met die vaardighede om die beproewings van sy kinderjare aan te durf nie, maar om ook as volwassene te ontluik en gedy.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.