Soorte resepte:

Resep: Tuisgemaakte sherbet

Foto: 7de Laan vier fees

Foto: 7de Laan vier fees

Dit het alles begin by Floors die vark, daardie einste dierasie waaroor Moekie so erg was. Soos Oubaas altyd sê: Hy was vir Moekie meer vriend as vark. Dit het ek een jaar maar te goed besef toe ons op Rondomskrik gaan kuier het en Moekie my aangesê het om daagliks vir ta versnaperinge aan te dra en sy ore te krap. Dit alles terwyl ek “Al lê die berge nog so blou” neurie, want die liedjie was glo sy gunsteling. Aardetjie tog. Ek moes omtrent op my tande byt, maar soos dit ’n goeie skoondogter betaam, het ek liefies geglimlag en deurgedruk.

Maar toe Moekie my een oggend beveel om vir Floris ’n soetigheidjie voor te berei, kon ek my nie meer inhou nie. Bid jou dit aan. Hier moet ek, bobaaskok en al jare lank werksaam by een van die mees vooraanstaande deli’s in Johannesburg, vir ’n vark staan en iets aanmekaarslaan. Ai, gesiggies! Ek kon my nie keer nie. “Ag, sh … sherbet,” het ek geprewel en net betyds die woord effe gewysig. “Wat ’n uitstekende idee, Hilda!” het Moekie uitgeroep. “Tuisgemaakte sherbet. Floris gaan dol wees daaroor.”

Nou ja. Vandag is my sherbet ’n gunsteling onder menige vierbeen- én tweebeenkind. Alles te danke aan Floris. Ek moet erken: Hy was ten minste ’n vark met smaak.

Lewer 500 ml

Bestanddele:

  • 500 ml (2 k) versiersuiker
  • 10 ml (2 t) wynsteensuur
  • 10 ml (2 t) koeksoda
  • 10 ml (2 t) jelliepoeier (’n geur na jou smaak)

Metode:

  1. Meng alles deurmekaar. Proe en pas aan, indien nodig. Om dit suurder te maak, voeg nog wynsteensuur by, of versiersuiker om dit soeter te maak. Om dit fyner te maak, sif dit goed ná dit gemeng is.
  2. Skep in klein sakkies, druk ʼn klein strooitjie in elke sakkie en plak goed toe rondom die strooitjie. Jy kan die sakkie ook toemaak en die strooitjie buite-op vasplak.
  3. Deel dit uit aan die kinders by die partytjie.

 

Bron: 7de Laan vier fees
Uitgewer: Human en Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.