Dit was ʼn groot slag vir die inwoners van Oudtshoorn toe die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vanjaar gekanselleer is weens die wêreldwye uitbreking van Covid-19.
Daarom het die span van die reWOLusie-breiprojek vanjaar besluit om steeds, ondanks die fees se kansellering, met die breiwerk waaraan hulle dwarsdeur die jaar gewerk het dié Karoodorpie van hoek tot kant te wolbom om die inwoners van die dorp se gemoed op te kikker.
Die sogenaamde kunsvorm van wolbom (yarn bombing) is ʼn soort graffiti of straatkuns wat uit wol gehekel of gebrei is. Dié kunsvorm het reeds jare gelede in die VSA posgevat.
Madeleine Miles, stigter van die reWOLusie-projek, vertel haar eie liefde vir hekel het die eerste saadjie geplant vir die projek wat in 2019 vir die eerste keer op die KKNK van stapel gestuur is.
“Ek is betrokke by die KKNK en het gedink dit is die perfekte manier om ons dorp se inwoners by die fees te betrek.”
Volgens Miles het sowat 400 Oudtshoorniete die breinaalde laat klik vir die breiwerk wat kleur verleen het aan bome, lamppale en geboue op dié dorp voordat dit verwyder is weens voorsorgmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.
“Daar is egter soveel mense met vriende en vriendinne wat help brei van wie ek nie eens weet nie, so daar is eintlik baie meer mense betrokke. Mense van Prieska, Bloemfontein, Witbank, Knysna en selfs Londen het ook gehelp brei,” sê sy.
Al die wolwerk word omskep in komberse wat aan die Nelson Mandela-stigting se 67 Blankets-projek geskenk word. Die komberse word daarna weer in die Oudtshoorn-gemeenskap uitgedeel.
“By ons is daar net een ding wat jy moet kan doen, hekel of brei. Ons gee regtig nie om waar jy woon of wie jy ken nie. Ons reël gereeld wologgende waar almal bymekaarkom,” vertel sy.
“Hier word grense tussen gemeenskappe oorskry en vriendskappe word gevorm tussen mense wat van heeltemal verskillende wêrelde kom, maar hulle besef dat ons almal dieselfde probleme het.”
Vir sommige inwoners het dié projek ʼn baken van hoop in tye van eensaamheid geword. “Vir baie het dit ʼn rede gegee om op te staan in die oggende. Mense voel weer deel van die gemeenskap deur saam met ander te werk en na ʼn gemeenskaplike doel te mik.”
“Daar is waarlik soveel mooi verhale oor wat hekel en brei vir mense as terapie beteken. Sommige hekel trooskomberse om die verlies van geliefdes te verwerk. Sommige probeer hul lewensverhale deur hulle werk uitbeeld, soos een vrou wat ʼn outistiese seun het. Ons het ʼn boek uitgebring met die pragtige verhale van sommige van die vroue, wat op die KKNK bekendgestel sou word. Ek het so baie by hierdie groep vroue geleer,” sê Miles.
Die koffietafelboek getiteld Oudtshoorn ReWOLusie, wat stories, gedigte, pragfoto’s en brei- en hekelpatrone bevat, is deur die Klein Karoo Skrywersforum geskryf. Slegs ʼn beperkte aantal boeke is gedruk met die borgskap van Absa.
Die reWOLusie-projek beoog om volgende jaar meer betrokke te raak by die vroue in plaasgemeenskappe en hulle te leer hekel en brei.
“Van hier af vorentoe brei en hekel ons net komberse met ons wolskenkings vir die 67 Blankets-projek. Daarna sal ons weer iets anders hekel of brei soos wat ons behoeftes raaksien in die gemeenskap. Solank ons wolskenkings kry, kan ons besig bly om ʼn verskil te probeer maak,” sê Miles.
Bestel ʼn eksemplaar van Oudtshoorn ReWOLusie per e-pos by Madeleine Miles, [email protected]. Om betrokke te raak by die projek, besoek die Facebook-blad of die KKNK se webwerf.