SA vroue meer vatbaar vir voor- en nageboortedepressie

depressie

Foto: Mentalhealth.com

Julie is Geestesgesondheids-bewusmakingsmaand en vanjaar word daar klem gelê op die kommerwekkend hoë gevalle van voor- en nageboortedepressie onder vroue wêreldwyd.

Volgens die Wêreldgesondheids-organisasie (WGO) ervaar sowat 10% tot 13% vroue wêreldwyd voor- en nageboortedepressie, terwyl dié toestand sowat 20% vroue in ontwikkelende lande raak. In sterk kontras hierteenoor ly meer as 40% Suid-Afrikaanse vroue aan hierdie toestand.

Shouqat Mugjenker, geestesgesondheidsportefeuljebestuurder vir Pharma Dynamics, sê geen vrou is immuun teen voor- of nageboortedepressie nie, maar navorsing toon dat vroue wat in lae- tot middelklasinkomstelande woon veral vatbaar is.

“Die hoë las van nageboortedepressie in Suid-Afrika is moontlik ʼn resultaat van vroue se blootstelling aan ʼn rits risikofaktore wat armoede, huishoudelike geweld en vigs insluit.

“Depressie kan nuwe ma’s op verskillende maniere raak en ontstaan dikwels ʼn paar maande voor die geboorte of enige tyd in die eerste jaar ná die geboorte. Dit kan skielik ontwikkel of mettertyd.

“Die meeste vroue voel huilerig en angstig binne die eerste paar weke nadat hulle lewe geskenk het, wat heeltemal normaal is en algemeen bekend staan as ‘baby blues’. Wanneer hartseer gevoelens en ʼn lae gemoedstoestand vir langer as twee of drie weke voortduur, kan dit ʼn teken wees van nageboortedepressie.”

Volgens Mugjenker plaas nageboortedepressie sowel ma as baba in gevaar aangesien sommige ma’s na sigarette, dwelms of alkohol gryp om hulle te help om die depressie te hanteer. Dit lei dan tot die verwaarlosing van die pasgebore baba.

“Daarom is vroeë identifisering en behandeling noodsaaklik. Nageboortedepressie kan dit ook vir die ma moeilik maak om met die baba ʼn band te smee, wat babas meer stresreaktief maak en dit moeiliker maak om die baba te sus. Dit stel ʼn gevaarlike siklus in vir sowel mammas as babas.”

Mugjenker sê nageboortedepressie bly gereeld ongediagnoseer omdat simptome soos verlies aan belangstelling in die lewe, ʼn tekort aan energie, verhoogde irritasievlakke, aanhoudende hartseer, skuldgevoelens en wanhoop dikwels oorgesien word.

“Nuwe ma’s moet groot veranderinge hanteer wat wissel van fluktuerende hormone tot om geestelik en emosioneel aan te pas by die meedoënlose eise van ʼn baba. Baie simptome van depressie soos ʼn tekort aan slaap, verhoogde of verlaagde eetlus, probleme met konsentrasievermoë en moegheid wat verband hou met ʼn nuwe baba in die huis, maak dit moeiliker om depressie te diagnoseer.”

Verskeie studies lig die gaping uit wat steeds bestaan tussen die diagnosering van depressie in swanger vroue en nuwe ma’s in Suid-Afrika. ʼn Aantal metodes om depressie te diagnoseer is in Suid-Afrika getoets, maar die meeste van dié metodes is tydrowend en moeilik om te administreer in besige klinieke met onvoldoende hulpbronne.

“Indien jy enige sodanige simptome ervaar, moet jy jou plaaslike kliniek besoek of jou algemene praktisyn of sielkundige spreek wat in staat sal wees om die diagnose te bevestig en raad kan gee hoe om die toestand vorentoe te hanteer. Met die regte hulp en behandeling sal jy na jouself, ander familielede en jou baba kan omsien.”

Vir meer inligting oor voor- en nageboortedepressie, besoek Pharma Dynamics se Let’s Talk-webwerf of skakel die tolvrye nommer by 0800 205 026, waar daar daagliks van 08:00 tot 20:00 opgeleide beraders aan diens is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vannessa ·

Dis al medies bewys dat vroue wat keisersneë kry eerder as natuurlike geboorte gee meer nageboorte depressie kry. SA dokters gee te maklik keisersneë want dis gerieflik vir hulle en die Ma. Dit kom nie so algemeen in ander lande voor nie. SA vroue is “too posh to push”

Andrea ·

Ek glo die hoë misdaadsyfer dra ook by tot gevoelens van onveiligheid, stres en depressie. Mens het immers n nuwe baba om te beskerm. Ek kan onthou dat ek in my slaap geloop het met die baba en in my ingeboude kas met baba en al ingekruip het. My man het my daar wakker gemaak. Bekommernis oor veiligheid, mediese sorg en die algemene toekoms was aanhoudend in my gedagtes tydens my periode v nageboortelike depressie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.