Sangeres wil met eie vergifnispad ander inspireer

Cordelia. (Foto: Verskaf)

Cordelia. (Foto: Verskaf)

Die borrelende blondekopsangeres Cordelia straal altyd waar sy op tydskrifvoorblaaie en albumomslae pryk, maar agter die helder glimlag skuil ʼn hartseer verhaal wat sy eers skugter was om met haar aanhangers te deel.

Cordelia, wat bekend is vir treffers soos “Mal in jou kop” en “Volmaak”, se lewenspad was nie maklik om te kom tot waar sy vandag is nie. As aanneemkind het sy vir jare met gevoelens van verwerping gewroeg en moes sy tydens haar hoërskooljare van haar aanneempa afskeid neem toe hy deur ʼn dronkbestuurder doodgery is.

Nie net moes sy dié verlies verwerk nie, maar moes sy ook later die dood van haar ongebore dogtertjie en ʼn egskeiding verduur.

Cordelia het sowat vyf jaar gelede begin met motiveringspraatjies nadat sy besef het hoe haar lewensverhaal mense inspireer. “Ek het altyd gedink ek gaan net sing en dit is hoe ek my roeping vervul, maar mettertyd het ek besef my vergifnispad en die seer wat ek moes deurmaak, is my roeping.”

Sy vertel in ʼn openhartige onderhoud met Maroela Media dat sy altyd geglo het die Here gebruik volmaakte mense om suksesvol te wees, maar dat sy besef het dit is nie die waarheid nie.

“ʼn Mens twyfel soveel keer in jouself, omdat jy dink jy was al deur soveel dinge en jy het ook foute en verkeerde keuses gemaak. So is dit toe dat ek onlangs oor my aanneming as ses maande oue baba vertel het en daar het ek besef hoe groot die aanvraag van mense is wat wil raad hê en wat wil praat oor aanneming. Ek gesels maklik daaroor omdat ek self ʼn pad gestap het en op die ouderdom van 25 my biologiese ma opgespoor het.”

Deesdae doen sy ook berading vir aanneemkinders wat hul biologiese ouers wil opspoor. “Ek help hulle met ʼn vergifnispad. Ek werk tans met ʼn vrou wat baie kwade gevoelens gehad het teenoor haar biologiese ma toe sy by my aangekom het. Ek het haar gevra hoekom sy haar ma wil opspoor en sy  het gesê sy wil haar aanvat en vir haar sê sy is ʼn slegte ma, en ek het vir haar gesê dan gaan ek haar nie kan help nie. Ek help eerder mense om vrede te maak en innerlike vergifnis te vind, en sy het dit so aanvaar en haar hele houding het omgekeer.”

Sy vertel sy het een nag ʼn droom gehad waar sy krone op vroue en hul dogters se koppe plaas en dit het die saadjie in haar hart geplant om vroue in Suid-Afrika te bemagtig deur gebroke verhoudings tussen ma’s en hulle dogters te herstel.

Cordelia. (Foto: Verskaf)

Cordelia. (Foto: Verskaf)

“Ek het gebid daaroor, want dit het niks met my loopbaan te doen nie, dit is net my hart. Toe stig ek amptelik die Inspirerende Ma en Dogter van die jaar-projek, want ek wil vir Suid-Afrikaanse vroue jaar na jaar herinner hoe inspirerend hulle kan wees. Dit gaan nie oor status of oor voorkoms nie, maar ek is op soek na iemand wat ʼn verhaal het wat ander kan inspireer.

“Ek bied ook glansaande aan, waar ons vroue geleentheid gee om mooi aan te trek saam met hulle dogters en ek doen vertonings en bediening. Die geld wat ons daardeur insamel, sal dan die kontantprys vir die wenners wees.”

Op die ouderdom van ses het haar aanneemouers vir haar gesê sy is aangeneem. “Hulle het vir my gesê ek kom van Liewe Jesus af. Ek onthou ek kon nie by die skool wag om vir my maatjies te vertel ek het uit die hemel uit geval nie,” lag sy.

“Dit was so ʼn mooi manier om dit met my te deel, want ek kon as klein dogtertjie met daardie gedagte grootword. Baie mense wat kinders aanneem weet nie wanneer is die regte tyd om dit met die kinders te deel nie. Ek sê dit is beter om van die begin af die kind op die beste en mooiste manier bloot te stel daaraan. Moenie vir die kind net reguit sê: Jy is aangeneem, jy is nie my kind nie. Maak seker jy kies jou woorde en stemtoon reg en herinner die kind heeltyd daaraan dat hy of sy ʼn keuse is en dat hulle van God af kom.”

Cordelia vertel sy het ʼn broer en suster, wat ook aangeneem is. “My aanneemouers is fantastiese mense. Hulle het ons uit drie verskillende huise aangeneem. Ek en my boetie en sussie is baie lief vir mekaar.”

Sy bieg dat sy op die ouderdom van 13 op haar verjaarsdag wakker geword het met die verwerpingsgevoel in haar binneste. “Ek het vir my aanneempa gevra of my biologiese ma aan my dink op my verjaarsdag en dit het ʼn groot, sterk man in trane gehad. Hy het my so jammer gekry en hy was seker ook bang hy kan my verloor, maar ek dink hulle grootste vrees is dat hulle die kind nie kan beskerm nie. Ek het altyd gewonder of ek haar as baba seergemaak het en die fout by myself gesoek.”

Jare later, op 25, het sy haar biologiese ma ontmoet. Hoewel hulle nie vandag ʼn hegte verhouding het nie, het sy liefde en respek ontwikkel vir ʼn ma wat ʼn kind moes weggee. “Ek het die ander sy daarvan ingesien. Baie mense oordeel baie keer die biologiese ma en maak hulle sleg, maar ek vra altyd waar is die pa. Die feit dat ʼn ma ʼn kind moet weggee omdat sy nie vir die kind kan sorg nie, maak nie van haar ʼn slegte ma nie.

“Toe my seuntjie, Zavion (2), gebore is, het ek iets ongelooflik geestelik beleef. Toe ek hom hoor skree, het ek so gehuil omdat ek besef het wat my ma vir my gedoen het. As ek my seuntjie moes hê en daar was nie ondersteuning of geld nie, en jy weet jy is so lief vir hierdie kind maar jy kan nie vir hom sorg nie – dink net hoe seer moet dit wees. Daar is soveel mense, selfs aangenome kinders, wat klippe gooi en sê sy was te sleg gewees om na my te kyk. Dit is waar ek hulle keer en sê hulle het nie ʼn idee waarvan hulle praat nie.”

Tog weet sy self hoe dit voel om ʼn kind te verloor. In 2013 was sy sewe maande swanger met haar dogtertjie toe die dokters haar tydens ʼn roetine‑ondersoek meedeel dat die baba se hart nie meer klop nie. “Net so,” onthou sy.

Cordelia en haar seuntjie, Zavion. (Foto: Facebook)

Cordelia en haar seuntjie, Zavion. (Foto: Facebook)

“Dit is ʼn verlies wat jy vir niemand kan beskryf nie. Ek het vir die dokters gesê hulle maak ʼn fout, of hulle masjiene is buite werking. Ek wou vir ʼn tweede opinie gaan, maar dit sou nie help nie. Tot vandag toe weet niemand wat gebeur het nie.

“Ek was in daardie stadium ʼn onderwyseres en die dokters het gesê dit kan wees dat ek dalk met ʼn kind met Duitse masels in aanraking gekom het, maar dit was nie die finale antwoord nie. Ek het deur soveel emosies gegaan en vir God baie betwyfel, maar ek weet nou sy is by die Here.”

Haar geloof is vroeër in haar lewe ook tot die uiterste getoets toe haar pa in haar hoërskooljare deur ʼn dronk bestuurder in Alberton doodgery is. “Hy het in Alberton gewerk die aand en hy het oor die pad gestap na sy voertuig toe na sy vergadering. Die oortreder is op vrye voet vandag. Hy het R5 000 borgtog gekry, dit nadat hy eers weggejaag het en homself eers na ʼn rukkie gaan oorgee het.

“Ek het daar vir lank die Here se hand gelos. Ek wou niks van die Here weet nie, jy kon nie na my toe kom met die Here nie. Ek het jou net so gekyk en gesê dis reg, ek wil niks meer hoor nie. Maar ek het besef die lewe is ʼn seer plek en ons is almal in sonde gebore, en toe ek vergifnis gekies het, het ek begin gesond word en weer my pad saam met God begin stap.”

Sy wil dit op ma’s en dogters se harte druk om mekaar te waardeer. “Daar is niks só erg wat nie vergewe kan word nie. Soms gebeur dit dat ʼn kind ʼn biologiese ouer wil opspoor en dan is die ouer reeds oorlede. Dit is baie slegter, want die kinders kry nie afsluiting nie en verval in depressie. Ek is yskoud as ek dit sê. Daarom wil ek dit op mense se harte druk dat dit ʼn baie groot stap is en jy kan nie verwagting skep nie. As jy ʼn groot verwagting skep gaan jy baie teleurgesteld wees.”

Enigiemand wat met Cordelia in verbinding wil tree oor die Inspirerende Ma en Dogter-projek, die glansaande of met haar wil gesels oor berading, kan haar kontak by 060 654 5208 of ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skoenlapper se af vlerk ·

Ek was nie aangeneem, maar wel seksueel gemolesteer deur my biologiese pa wat sy eie lewe geneem het 20jr terug. Ek en my ma het geen verhouding soos sy en my suster. Weens die feit dat ek self nou ‘n ma is van ‘n beeldskone dogter, voel dit of ek soos my ma is! Dit voel of ek my eie kind verloor. Sy en my skoonma het beter verhouding as ons. Na die artikel voel ek dat ek my 11jarige weer kan terug kry. Dankie vir dit wat jy doen. Jy is regtig ‘n inspirasie.

Marcia ·

My dogter Lisa en Cordelia was saam op skool.. sy is en sal altyd ñ pragtige mens bly.. baie sterkte vorentoe..

IK ·

So ook is twee verskillende kinders (nie boetie en sussie) aangeneem as babas deur my vader se niggie. Van kleinsaf is hul ingelig waar hulle vandaan kom reeds ook gerig op wat moontlik op skool kan gebeur en wat toe ook wel gebeur het nl.:’Wê-wê-wê-wê-wê, jy is NIE jou pa en ma se kind’!!!
Antwoord: ‘Jy is reg want my pa en ma het my gaan uitkies tussen ‘n klomp babas . . . , en jy? Jou pa en ma het nie ‘n keuse gehad want hul moes maar vat wat hulle gekry het’!!
Net daar is die spottery nek-om gedraai selfs nog voor dit kon begin het.

Berusting ·

Ja die seer in die lewe is daar maar dit hang af hoe jy dit hanteer en wat jy daarmee doen. Ek was 13jaar oud toe is my ma haar suster en my ouma in n ongeluk dood. Ek het presies gehandel soos jy Corelia, ek het HOM verwerp, maar die dag toe ek besef ek het HOM nodig het HY my gehoor en ek het HOM aangneem as my verlosser. Toe kom daar n tyd wat ek swanger was met n seun volle 9 maande, net voor geboorte het sy hartjie ophou klop, en so was dit. Maar vandag is ek dankbaar vir SY liefde vir my.

Stephan de S ·

Dankie Maroela vir die plasing van hierdie aangrypende verhaal en getuienis van heling en hoop. Watter verskil kan dit nie maak nie. Die droom waarvan sy vertel:hoe sy krone op vroue en dogters se koppe sit, is so n tipiese en egte beskrywing vd Vader se koesterende hart.
Wat bykomend vir my oulik is, is dat sy die Inspirerende Ma Dogter Projek n afrikaanse naam gegee het.
Cordelia mag jy nooit twyfel aan jou roeping nie.

GRIET ·

wonderlike drome Cordelia… maar word jý,net ÉÉÉRS SÉLF gesond en volkome GENEES, voor jy ánder wil ‘bedien’…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.