Seksleerplan is ‘aanslag op moraliteit en waardes’

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

Maroela Media het vir Hettie Brittz, skrywer en kundige op die gebied van ouerleiding, gevra om haar mening te gee oor die departement van basiese onderwys se omvattende kurrikulum vir seksvoorligting in die vak lewensoriëntering:

Oor die afgelope paar weke het heelwat grepe uit die voorgestelde kurrikulum vir omvattende geslagsopvoeding in die media uitgelek. Foto’s uit lesse is op sosiale media te sien en ons hoef nie meer te raai of te gis nie. Die boodskap is sterk en duidelik: Dit is jou plesier, jou regte, jou liggaam, en jou ouers hoef nie eens hiervan te weet nie. Niemand mag vir jou sê jou seksuele gedrag is verkeerd nie en jy kan besluit wat vir jou goed en reg is.

Gesin as die basiese boublok van ʼn samelewing

Dit is vir my duidelik dat hierdie uitgebreide seksvoorligtingleerplan die gesin as ʼn instelling en die primêre sosiale kring wil breek. Dit plant ook die idee by kinders dat hulle die beste besluite kan neem sonder die insette van hul ouers en dat hulle verder ook nog die reg het om dit te doen.

Hierdie soort leerplanne poog verder om bykans alle seksuele gedrag te normaliseer sodat daar algehele verwarring heers oor wat reg en verkeerd, en gesond en ongesond is.

Wat beteken dit nou vir ouers?

Ek as ouer moet die nodige werk tuis doen, maar ongelukkig veel vroeër en vollediger as wat ek wou, sodat my kinders, teen die tyd dat die leerplan in hul graad behandel word, reeds die korrekte inligting het – inligting wat ons gesin se waardes weerspieël. Ek moet ook my kinders wat nog te jonk is om die kompleksiteit van teenstrydige sedes te verstaan, weerbaar maak teen die aanslag van ’n leerplan vol losse sedes.

Unesco se medewerkers aan hierdie kurrikulum se voorkeur (reeds in hulle 2009-verslag van aanbevelings) was dat alle skuld of skaamte ten opsigte van seksuele gedrag verwyder moet word. Kinders moet reeds tussen die ouderdomme vyf en agt oor masturbasie leer en bewus gemaak word van hul reg om te besluit of hulle seuntjies of dogtertjies wil wees.

Die eksplisiete inhoud is deur drukgroepe soos FamilyWatch teengestaan en ouderdomsriglyne is aangepas. Dit word ook genoem dat ouers se religieuse standpunte net so min deurslag mag gee in die bepaling van die geslagsvoorligtingkurrikulum as in die wiskundeleerplan. Dit word verder deur hierdie “wetenskaplikes” betreur dat die radikale agenda afgeskaal moes word om die kurrikulum deur die deur te kry. Daar is ongetwyfeld druk om nie hier te stop nie. Hierdie agenda sal al hoe meer in die leerplan ingewerk word, al is die eerste blootstelling aan hierdie soort inhoud nou eers in graad 4.

En dit beteken ouers sal vroeër hierdie sake moet aanroer.

Die minister van onderwys maak dit duidelik dat ouers slegs hul kinders uit hierdie klasse sal kan hou as hulle ’n goedgekeurde kurrikulum wat aan CAPS-vereistes voldoen, as alternatief voorstel. Dit moet egter uit eie sak gedoen word. Ongelukkig is daar ’n fynskrif in die CAPS-vereistes wat openlik Christelike inhoud as ontoereikend mag verwerp.

Ons kan dus nie ons kinders teen die skade van die leerplan beskerm nie. Ons kan eintlik net die gesprekke begin oor ons eie liggame, respek vir onsself en ander, die geestelike, emosionele en fisieke gevare (nie net swangerskap en geslagsiektes nie!) van seksuele aktiwiteite, oor geslagsidentiteitskwessies en die verhouding tussen jou biologiese geslag en geslagsidentiteit.

Die langtermyneffek van hierdie kurrikulum op die breër gemeenskap is dat seksuele behoeftes en die uitlewing daarvan nou verhef word tot mense se totale identiteit. My seun is op sy eerste dag in ’n kollege gevra op watter voornaamwoord hy aangespreek wil word (hy of sy). Sy klasmaat het aangedui dat hy as ’n koninklike identifiseer en in die derde persoon graag as “sy edele” bekend wil staan. Ek is bly iemand het die oefening met humor ontlont.

Dieselfde inhoude wat ons bekommer, het die hele wêreld aan die gons. Ek het na die kommentaar van ‘n vrou uit Suid-Amerika geluister, wat sê: “Solank ons kinders nie vars water het nie, en nie beskik oor basiese riglyne ten opsigte van higiëne nie, of sukkel om daagliks te oorleef, wil iemand intussen vir hulle inligting gee oor al die verskillende vorms van seks.”

Myns insiens gaan dit oor geld. Dieselfde befondser van hierdie kurrikulum in SA se skole, is ook die International Planned Parenthood Federation se vernaamste borg. Solank seks op almal se brein is, maak hulle geld. As daar ’n groter vraag na kondome is, bekom die statistiek vir hulle meer fondse, so ook die groeiende vraag na voorbehoedpille, aborsies, die voorkoming sowel as die behandeling van geslagsiektes, die vraag na berading en behandeling vir geslagsveranderings en elke ander “reg” wat aan kinders opgedring word.

Dit keer die wêreld op sy kop. Dit maak iets wat net maar deel is van normale volwassenheid – en glad nie deel moet vorm van kindwees nie – nou die kern van ‘n kind se opvoeding. Dit is kommerwekkend en onwys. So ontken ons ook die basiese behoeftes van elke mens om veilig te wees. Dit maak ons kinders onveilig, want die behoefte aan geborgenheid word sonder meer gelykgestel aan seksuele vervulling. Hierdie is ‘n erge verskraling van wat mense werklik vervul en gelukkig maak.

Die verheffing van seksualiteit tot die kern van menswees – met ander woorde seks is álles – is ’n skreiende leuen wat aan ons en ons kinders as die sleutelwaarheid voorgehou word, en as iets wat hulle nie moet toelaat dat die “patriargale” of “Calvinistiese” ouers van hulle moet ontneem nie .

Dit maak voorts ons gemeenskappe onveilig, want die hele idee dat ek my eie liggaam besit en daarmee mag maak wat ek wil en vir ander mense mag vra om my te plesier (ongeag die morele reëls van my gemeenskap), beteken dat ons sommer binnekort – en ons sien dit reeds – mense gaan vind wat diesulkes, wie se behoefte aan seksuele plesier enige perk mag oorskry, wil verdedig. Pedofiliese neigings, nekrofilie, bestialiteit en sadomasochistiese dade sal as net nóg ʼn seksuele voorkeur gesien en goedgepraat word. Die aantal mense wat dus vry mag rondbeweeg, ongeag of hulle in die proses “hul prooi” fisiek of emosioneel skend, sal gou toeneem en die slagoffers sal moeiliker kan bewys dat hulle benadeel word.

Al hierdie dinge begin by iets wat heeltemal onskuldig voorkom, naamlik om kinders seksueel in te lig aangesien baie ouers dit nie doen nie en om kinders wat met hul geslagsidentiteit sukkel, nie die prooi te maak van ’n gespot of geboelie nie. Die kurrikulum gaan ongelukkig te ver met daardie mooi ideale.

Dis gevaarlik om kinders te leer om hul gewete stil te maak (niemand mag jou skaam maak nie.) Dis ook gevaarlik om die idee te plant dat elke kind moontlik ’n geslagsidentiteit het wat van sy/haar biologie verskil.

Gestel ’n kind is seksueel gemolesteer, is effens fyner as die ander seuns of effens taaier as die ander meisies, en word sommer al op agt of nege verseker dat dit doodreg is om soos ’n lid van die teenoorgestelde geslag te voel? Die kind gaan verward wees. ’n Paar jaar later word die kind vertel dat hormoonbehandeling vir geslagsverandering ’n basiese reg is. Inderwaarheid is daar verskeie studies wat aantoon dat kinders met transseksuele neigings in hul kindertyd slegs ’n 12%-1 tot 27%-2 kans het om ná adolessensie steeds daarmee te sukkel. Anders gestel: Heelwat kinders beleef ’n normale geslagsverwarringsperiode voor of tydens puberteit, en die oorgrote meerderheid van hierdie kinders ontgroei dit.

Dis ewe bekend dat enige blootstelling aan idees oor seks – in films, media, en selfs in lirieke van musiek – tot meer seksuele eksperimentering aanleiding gee.3

Waarom sluit die kurrikulum nie hierdie belangrike inligting in nie?

  1. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/18194003
  2. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/23702447
  3. https://www.psychologytoday.com/us/blog/real-healing/201208/overexposed-and-under-prepared-the-effects-early-exposure-sexual-content

Gesinne, huwelike en onthouding as ʼn voorkeurstrategie

Dit is nie elke deel van hierdie kurrikulum wat boos is nie en dit is nie elke werknemer van die onderwysdepartement wat boos is nie, maar die internasionale dryfkrag agter hierdie agenda stel nie belang in die gesin of in die huwelik as ‘n heilige instelling nie. Die rolspelers en befondsers het reeds in die media uitgelek. Hulle is uitgesproke on-Christelike organisasies, pro-aborsie en ten gunste van radikale LGBTQ+-agendas

Hierdie organisasies stel ook nie daarin belang om onthouding as ‘n voorkeurstrategie vir emosionele, seksuele en geestelike gesondheid voor te stel nie, want hulle ontken die gees van ‘n mens. Moraliteit is hier absoluut subjektief en gesien as iets wat die kultuur op iemand afdwing.

Weer eens, die boodskap in hierdie kurrikulum is baie immoreel, dog baie duidelik: Moenie dat iemand jou laat skuldig voel nie, moenie dat iemand vir jou sê jy is verkeerd of jy is besig om skade te doen nie, want jy mag enige iets doen waarmee jy gemaklik is.

Boodskappe soos hierdie is ‘n aanslag op die totale konsep van moraliteit en waardes, asook die idee dat daar iets is soos reg of verkeerd. Immergroen Ouerskap beklemtoon hoe norme gevorm word: ‘n norm is iets wat jy so baie gesien, gehoor of beleef het, dat jy dit as normaal aanvaar.

Dit is wat hierdie kurrikulum dan ook doen: dit breek norme en waardes in die samelewing af, want kinders gaan afwykende en skandelike dinge so gereeld sien, bespreek en selfs moet verdedig, dat dit normal gaan word. Dit is afstomping.

Hierdie leerplan hou ’n edel front van respek, gesondheidsbewustheid en wedersydse toestemming voor, maar heg in die kern eerder die hoogste waarde aan eie plesier. Dit verhef een van ons mees basiese biologiese drange tot die hoogste sport. Hoe kan orale en anale seks tussen tieners ooit saam met selfrespek, respek en gesondheid in een sin gesê word? Die skrywers van hierdie kurrikulum kry dit reg, want die enigste ding wat volgens hulle verkeerd is, is dit wat nie vir die individu lekker voel nie. Hierdie filosofie het ’n naam: hedonisme (die verafgoding van plesier).

Christelike geslagsopvoeding, wat ons as ouers met groter toewyding, en met behulp van Christelike opvoedingsinstansies as ons taak moet opneem, fokus daarenteen op integriteit, reinheid, karakter, selfbeheersing, uitgestelde bevrediging tot die regte tyd en plek, en gehoorsaamheid aan die riglyne wat ons briljante Skepper met rede vir ons voorhou. Ons verstaan dat seks ons gees, siel en liggaam behels, en dat ’n kondoom nie oor ’n mens se hart en siel getrek kan word om die pyn te keer wat saam met seksuele verval kom nie.

Ek het tydens ’n kontroversiële verhoor oor pornografie langs een van die “kundiges” in hierdie veld gesit. Haar uitgangspunt was dat diegene wat met seksualiteit ongemaklik is daarvan genees kan word deur blootstelling aan ’n wyer verskeidenheid seksuele dade en pornografie. Haar goedkeuring van die kurrikulum stel my dus uiteraard nie gerus nie; dit stem my onrustig.

Ek is teleurgesteld in Christen-opvoedkundiges wat nie die herkoms van hierdie kurrikulum navors alvorens hulle die groen lig gee nie en ook nie die onderliggende aanval op die gesin, geldgierigheid en miskenning van God se ontwerp vir seksualiteit agter die fasade kan sien nie.

  • Lees ook Brittz se eerste artikel waar sy verduidelik waarom dit nie sal help as ouers net hul kinders dié klasse laat bank nie. Sy meen ook moet daar groter teenkanting teen dié spesifieke leerplan van die ouers en gemeenskappe se kant wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dolf ·

Hierdie artikel benader die kwessie vanuit ‘n ontwikkelde Christelike westerse hoekpunt. Maar onthou ons is in Afrika met haar unieke kinders. Hoe nou gemaak?

Potjie ·

Deur hierdie leerplan wettig te maak, word die lekker van kind wees, die spontane speel en sorgelose kans om as kind gesond op te groei, geheel en al ontneem. Kinders sien nie eers kleur verskil raak nie, hoe gaan hulle nie verward raak met hierdie skok onthullings oor seksualiteit nie. Hulle besef nie eers dat sulke dinge wel bestaan nie en onder sekere groepe gebeur nie. Wat n jammerte dat hulle onskuld verag word. Net ons Skepper kan hierdie euwel stop sit. Sy Wil geskied.

Hannes Deetlefs ·

Die rekasies ist heeltemal te laat. In die sestigerjare was dit die sangers en kunsmense (films) wat met groot applous van alle kante vir al hierdie dinge die deurslag gegee het. In Duitsland het hulle ops traat hardop en treitend geskreeu. “Wer zwimal mit der gleichen pennt, gehört schon zum Establishment!” of te wel. “Wie twee keer met dieselde persoon sksueel verkeer het, is al reeds deel van die ouderwetse gemeenskap”. Wel, hulle het gewen, loshande. Facebook het al meer as elf verkillende stadiums tussen “manlik” en vroulik”, in Europa is dit verbode om net vir “mans” of “vroue” te adverteer: Die firma soek ‘n man, ‘n vrou of ‘n “X” vir die werk. Wat meer is, die Homoseksuele en Balle Tussengroepe wil nou die kerke verkla – en sal dalk selfs daarin slaag – omdat hulle die Bybel versprei waaarin al die dinge verbode is of bestraf gaan word. Hul doel is om die Bybel tot verbode boek te verklaar, ‘n boek, wat nie meer geduld word nie. Ons het ver gekom, “Westminister Cathedral, you’re letting me down…”

Dalene ·

Die agenda van hierdie leerplan om kinders vroeg ryp en vroeg vrot te maak is definitief ook “westers”. Kuisheid is waardevol vir alle gemeenskappe en kulture.

AB ·

Sal graag wil sien hoe hulle my gaan dwing om my kind daardie siek lesse te laat bywoon! Hulle weet duidelik nie waartoe ‘n boer in staat is wanneer hulle met sy kinders begin lol nie!

Quinton vannie kaap ·

Wat is die eintlike doel van die powerful lobby groepe??? Is hulle vyand die kerk van jesus, of wat is die wortel van hulle agenda???

Marlene ·

Ek is so moeg vir die regering wat alle reg van die ouers wil oorneem oor die grootmaak van hul kinders. Dit het nou te ver gegaan dat hul die intiemste dinge ook nog wil wegvat. Eers godsdiens, dan lyfstraf op die korrekte manier, dissipline, hul veiligheid, en so baie dinge wat kindwees moeilik maak. Tyd vir ons as ouers opstaan, opruk en die regering op hul kniee kry. Ons self moet ook bid dat daar in mense se harte bekering sal plaasvind in die regering maar ons kan nie agteroorsit en kyk hoe ons ouers se regte weggeneem word en ons kinders vernietig word nie. God help Suid Afrika. Help ons kinders en ouers. Ouers dis nou in ons hande om op te staan

Gys ·

Ontspan mense. Hoe vinniger seuns leer dat daar eintlik lekkerder dinge as seks is, hoe beter. Om met bikes en vliegtuie te speel is baaaanja lekkerder. So laat hulle maar vroeg begin en dit uit hul sisteem kry. Dan kan hulle vroeg oorskakel na regte speelgoed.

Liberaal ·

Ouers moet net onthou, vandag se kinders het almal toegang tot die internet. Mens kan dit nie vir hulle wegsteek nie. Wie weet, miskien sal daar minder tienerswangerskappe wees of minder kinders sal sukkel met hul seksualiteit, want hulle sal beter verstaan. Dit sal nie in elke skool gebeur nie. Hierdie projek word in 1500 skole beproef om te kyk of dit slaag.

Ratkas ·

As ons nie die jeug inlig nie, gaan hulle net hierdie onderwerp GOOGLE en self uit vind wat verreikende gevolge kan he

Andre ·

Nog ‘n fiasko as nadraai van die NSA waarvoor 67% van die mense destyds so lekker voor gestem het.

R. Burger ·

Vroeg ryp vroeg vrot!! En glo my ek is n báie verligte middeljarige wat nie vergeet het hoe werk jou hormone as tienerjarige of jonger nie. Íemand moet n jongmens intoom hou, maar klink my met dié leerplan beplan hul juis om als aan te wakker!

Rissi ·

Oh please!!!!! All you people crying over the morals and standards of the kids being corrupted by the sex education plan……let me tell you….they know much more than you think about sex already….so get over yourselves and grow up!!!! If they want to have sex, they will, and educating them about it won’t make a damn difference!!!!!

Potjie ·

@Rissi…Nie almal het swak waardes nie. Daar is nog huishoudings waar daar respek voorkom. Elke ouer wat vir sy/haar kind net die beste wil gee en ñ gesonde kind wil grootmaak om ñ gesonde volwassene te wees, sal nie die kind vrye teuls gee om op die bose internet inligting te gaan opsoek oor seks sake nie. Ek glo jy verstaan wat ek sê in afrikaans.

Potjie ·

Elke stadium op sy tyd. Kinders moet nie ryp gedruk word nie.

Potjie ·

@Rissi…Nie almal het swak waardes nie. Daar is nog huishoudings waar daar respek voorkom. Elke ouer wat vir sy/haar kind net die beste wil gee en ñ gesonde kind wil grootmaak om ñ gesonde volwassene te wees, sal nie die kind vrye teuls gee om op die bose internet inligting te gaan opsoek oor seks sake nie. Ek glo jy verstaan wat ek sê in afrikaans.

Foxi ·

Ons huisgesin het morele waardes. My kinders is nie ‘FREE RANGE CHICKENS NIE!
Daar is n tyd vir alles.

GB ·

Liberaal en Rissi: Die feit dat kinders vandag toegang het tot alles en nog wat op die internet behoort nie te dien as ondersteuning vir hierdie tipe seksvoorligting op skool nie. Juis die teenoorgestelde. Omdat kinders aan soveel blootgestel word behoort hulle juis nog meer as ooit tevore sterk morele leiding te ontvang. Maar nou wil hierdie kurrikulum vir hulle leer dat moraliteit iets negatiefs en beperkend is. Dit gaan nie water op die vuur gooi nie, maar olie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.