‘Seksvoorligting hoort nié in skole nie’

Van die beplande inhoud vir seksvoorligting in skole. (Foto: skermgreep)

Geslagsvoorligting hoort glad nie in skole nie.

Ek weet dis ʼn radikale opinie, maar dis my oortuiging.

Seksvoorligting in later grade is ʼn goeie idee, maar net as alle ouers hul verantwoordelikheid nakom en die primêre geslagsopvoeders van hul kinders is. Ongelukkig weet ons dit is nie die geval nie. Skadelike geslagsopvoeding, soos aan die hand van die voorgestelde omvattende geslagsvoorligtingkurrikulum, kan egter nie goedgepraat word as oplossing vir ouers se versuim nie.

Ek vermoed as ouers weet die skool verskaf nié hierdie soort opvoeding nie, hulle sal besef die onus rus op hulle om dit wel te doen. En ek is beslis ’n voorstander van meer toerusting vir ouers, meer ouerlike verantwoordelikheid en meer mag in ouers se hande.

Hoe kan ouers hulself toerus?

Deesdae is dit eintlik so maklik om goeie toerusting via die Internet te vind. Honderde artikels op webwerwe soos dié van Focus on the Family kan ouers help met die hoe en wat en wanneer van geslagsopvoeding. Die moeilikste kwessies word ouderdomstoepaslik en feitelik korrek behandel. In my boek, Kweek kinders met heel harte, asook in verskeie plaaslike ouerskapboeke, is daar goeie raad oor hierdie saak.

As die geld wat bestee is, aan die ontwikkel en instel van hierdie kurrikulum eerder aangewend is om aan ouers die nodige toerusting op toeganklike platforms te organiseer, sou ons die ideale wêreld hê: toerusting gebaseer op hul waardestelsel, hul geloofsoortuigings en hul kind se emosionele en intellektuele gereedheid, sodat hulle al die feite van grootword en seks – ook die verkeerde, ongunstige en misplaaste sy daarvan – aan hul kind kan vertel, vertaal en verduidelik.

Gestel hierdie kurrikulum was eerder aanlyn beskikbaar. Dit sou beteken ouers kan self aanlyn na die kurrikulum kyk en besluit watter deel daarvan hulle met hul kinders gaan bespreek, watter van die voorgestelde oefeninge gedoen gaan word en watter rollespel en gesprekke hulle gaan voer. (Die huidige klasoefeninge wat ek gesien het, is kommerwekkend en gevaarlik!)

Die aanlyn kurrikulum sou die gesin bemagtig en die ouer die primêre ondersteuner maak van die kind se reis na seksuele volwassenheid. Wanneer kinders dan ʼn ernstige verhouding sou aanknoop en die besluit oorweeg om seksueel aktief te raak, sou dit minstens moontlik wees dat die ouers die kinders deur hierdie proses begelei. Dit waarborg ook ’n voortgesette gesprek buite skoolverband.

Kinders gaan kinders seksueel opvoed

Wat egter nou in die skoolstelsel gebeur, is dat dit na alle waarskynlikheid nie ʼn volwassene (naamlik die onderwyser) is wat die primêre bron gaan wees as die kind vrae het nie, maar eerder die kind se maats.

Kinders gaan kinders seksueel opvoed, en dít is nie ʼn goeie idee nie.

Ons sien van die voorbeelde van die lesse (wat in die media verskyn het) dat groot gedeeltes van hierdie lesse interaktief tussen die kinders sal plaasvind, sonder goeie riglyne oor wat reg en verkeerd is. Die ondertoon van die totale kurrikulum is as dit vir jou reg voel, is dit reg. Dis jou lyf en jou keuse. Die materiaal is gestroop van enige objektiewe morele waardes en laat die leerders toe om onderling hul reg en verkeerd self te bepaal. Dit is in hierdie opsig vergelykbaar met ’n wiskundekurrikulum waarin kinders sou kon koukus oor wat hul voorstelle vir ’n korrekte antwoord is sonder dat die korrekte antwoord as kontrole verskaf word. Dis onverantwoordelik.

Daar sal, onder meer, van kinders in die klaskamer verwag word om geslagsdele te kan identifiseer en mekaar te vra met watter seksuele ervaring hulle gemaklik voel. Kinders sal met mekaar moet praat oor hoe hulle mekaar sou benader as hulle ʼn seksuele verhouding wil begin of met mekaar bespreek hoe hulle nee sou sê as iemand ʼn seksuele verhouding wou aanknoop waarvoor hulle nog nie kans sien nie.

Hierdie is niks anders as grooming nie: dit is onverbloemde voorbereiding vir seks en skuif die grense in ʼn kind se kop. Wanneer ’n mens iets gedink of gesê het, het jou realiteit klaar verander. Dit veroorsaak dat kinders in ’n volgende situasie iets mag toelaat wat hulle in die verlede nie eens sou oorweeg het nie.

Na my mening is dit uiters riskant om die seksuele gesprekke tussen jong kinders te laat plaasvind in ʼn klaskamer wat die kind in ʼn pseudo-veilige omgewing en ingesteldheid plaas. Dit laat die kind dink: Dit is in my skoolboek en as dit nie veilig en reg was nie, sou my onderwyser dit nie toegelaat het nie, en daarom is dit normaal en reg. My ongemak beteken ek is verkeerd. Ongelukkig sal die volwassene in die klas van soms meer as 40 leerders, eenvoudig nie in staat wees om elke gesprek te monitor om skewe boodskappe te onderskep nie.

Sal hierdie opleiding kinders help beskerm?

Hierdie leerplan sal sekerlik in ʼn geringe mate daarin slaag om kinders te beskerm teen seksuele mishandeling, omdat kinders woordeskat sal hê om ’n grootmens te vertel dat iemand met hulle peuter, of om ’n molesteerder teen te gaan met woorde wat in die klas geoefen is, soos, “Ek hou nie daarvan nie. Dit is my lyf. Stop asseblief”.

Ek ken een van die medewerkers aan hierdie kurrikulum – sy is baie ervare in die opleiding van kinders om hulle toe te rus om onvanpaste toenadering deur ouer kinders of volwassenes te hanteer en hulself daarteen te beskerm. Sy voel tans tevrede dat die riglyne vir selfbeskermende gedrag wat in hierdie kurrikulum ingebou is, verantwoordelik en Christelik is – spesifiek met betrekking tot die weergawe waaraan sy gewerk het. Of dit wel so in die finale leerplan sal verskyn, sal ʼn mens nog moet sien.

Ek dink egter nie hierdie soort kurrikulum sal onbeplande swangerskappe laat verminder nie, want dit seksualiseer ’n massa kinders wat eers veel later oor seks sou begin dink het. Hierdie leerplan dien die agenda van pro-aborsiedrukgroepe en diegene wat uit aborsies geld maak. Hulle weet wat hulle doen, en dis nie tienerswangerskapvoorkoming nie!

Ons gaan nou kinders hê wat vroeër seksueel aktief raak, want daar word vir hulle gesê: “Dis jóú reg, jóú liggaam, jóú besluit. En as dit vir jou reg voel, mag jy dit doen en as jy en die ander persoon albei daartoe ingestem het, is daar beslis niks daarmee verkeerd nie.”

Juis om hierdie rede is ek oortuig daarvan dat tienerswangerskappe eerder sal styg. Aborsies sal egter meebring dat ons nooit die statistiek van die styging sal sien nie. Tieners word immers gelykertyd geleer dat aborsie sonder hul ouers se wete ook hul reg is.

Niks minder as grooming nie

As ‘n mens se definisie van seksuele mishandeling grooming insluit, dan is hierdie in der waarheid ’n grooming-handboek. Dit leer kinders ’n woordeskat om mekaar sag te maak en deur mekaar se grense te breek. Dit normaliseer eksperimentele, homoseksuele en selfbevredigende gedrag op so ’n vroeë ouderdom dat wanneer volwassenes of ouer kinders seksueel uitlokkende gedrag teenoor hierdie kwesbare jong kinders sou toon, hulle reeds gewoond daaraan sou wees… Hulle het immers ’n rolspel daaroor in die klaskamer gedoen – in so ’n mate dat hul waarskuwingsliggies nie eens sal aangaan nie!

Ek dink hierdie is my grootste bekommernis: die normalisering van seksuele gedrag deur rolspel, deur gesprekke, deur die illustrasies in hierdie handboeke, sodat dít wat veronderstel is om ‘n kind te skok of sekere optredes as taboe uit te lig, ’n kind nie meer gaan verbaas of versigtig maak nie; veel eerder baie kwesbaar.

Seks in die leerplan

Die enigste rol wat die skool (behoort te) speel, is om die biologie vir die kinders te leer. Elke seksuele besluit wat te doen het met menswaardigheid, selfrespek, selfbeheersing, die waarde en belangrikheid van die gesin en die integriteit van die huwelik – as die enigste konteks waarin volwasse seksualiteit ten volle uitgeleef behoort te word – is nié die skool se verantwoordelikheid nie. Dit is tog die gesin en geloofsgemeenskap se verantwoordelikheid om kinders te leer waar, hoe en wanneer hul seksualiteit as ’n kosbare geskenk uitgeleef behoort te word.

Weer eens, die morele opvoeder is nié die staat nie en dit is nié die skool nie.

Is klas bank ʼn oplossing?

Volgens die verklaring van die onderwysdepartement mag ouers weier om hul kinders die klasse te laat bywoon, maar dit los glad nie ons probleem op nie, want die gesprekke oor dit wat in die klas geleer is, gaan in elke geval op die skoolterrein, sportveld en in sosiale kringe plaasvind.

Dit is nie eens ’n oplossing om ons kinders uit die skool te haal nie, want tensy jy jou kind aan die kombuistafel vasketting, gaan jou kind in elk geval met ander skoolkinders wat aan die kurrikulum blootgestel is, sosialiseer. Om jou kind se sosiale kring te probeer beperk tot die kinders wat hierdie kurrikulum vryspring, is nogtans ’n goeie begin.

Die oplossing is nie om net klas te bank nie. Die oplossing is om, soos baie ander lande se ouers, met mag en mening te velde te trek teen dié soort leerplanne en ’n groter boikotaksie van stapel te stuur. En om intussen ons taak as ouers na te kom:  volledige, sensitiewe en morele seksvoorligting.

As ál die ouers van ’n skool hierteen opstaan, het dit heeltemal ’n ander impak as wanneer ’n paar ouers sê hul kinders gaan nie hierdie klasse bywoon nie. Daarom is dit uiters belangrik dat ouers nou, vandag nog, met mekaar in gesprek tree en drukgroepe vorm of by bestaande drukgroepe aansluit.

Ons moet seker maak ons stem word gehoor. Dis nie nét Christene wat ’n probleem het met hierdie kurrikulum nie, dit is ouers uit elke geloofsoortuiging – selfs niegelowiges en ateïste – wat sê hierdie is nie logies of gesond nie en dit hou ook nie tred met dít wat ons weet oor kinders se gesonde ontwikkeling nie.

Blootstelling aan hierdie soort inligting is met reg sleg vir enige kind, ongeag die geloofsgemeenskap waarin die kind grootword.

  • Kerke in die Wes-Kaap hou op Saterdag 30 November ʼn optog vir gesinne. Daar sal met die optog gebid word vir God se seën en genade op Suid-Afrikaanse gesinne en families. Die optog begin om 10:00 en sal wegspring in Hanoverstraat oorkant die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie. Die optog sal gelei word deur verskeie pastore van die stad. Bring die hele gesin saam.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hettie Brittz

Hettie Brittz is ’n voormalige spraakterapeut en die outeur van twee ouerskapboeke en die Immergroen Ouerskapkursus. Sy bied landwyd en oorsee praatjies, kursusse en spanbousessies met ’n temperamentfokus aan. Besoek www.immergroenouerskap.co.za waar jy meer wenke oor ouerskap sal kry, asook nog inligting oor Hettie se boeke en kursusse.

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Michelle leR ·

Stem heeltemal saam met die skrywer, jy verwoord my denke baie deeglik. Die ouers moet hierteen opstaan en nie net terugsit nie, dit is tyd om druk op skole/kurrikulum uit te oefen.

Onnie ·

Ek is self in die onderwys! Ons kinders se grootste vyand is die onderwys departement! As jy jou kind se beste belange op die hart het, kry jou kind uit die sisteem uit!

Marlene ·

Ouers jul moet julle kinders voorberei op n baie jong ouderdom dat wat ookal oor hul lyfie gese word in die skole nie die onderwyser of enige ander persoon se verantwoordelikheid is nie. En gee hul op die regte tyd die regte inligting. Die skole moet saamstaan en ook die ouers om seksonderrig te verban in skole. Want elke kind is nie op dieselfde stadium reg vir wat dit nie. Hoe gaan n kind weet waar om die streep te trek as dit in skole vir hul oorgedra word. Dis net een manier hoe die regering die kinders wil mislei en het al klaar deur tugtiging dmv lyfstraf op die regte manier dit uit skole gehaal en uit huise. Hul probeer alle regte vd ouers ontneem. Dit moet stop. Die wetteloosheid is klaar te erg in die land en nou gaan dit te ver. Staan op mense. Staan op

JohanL ·

Onnie. en waarnatoe dan met jou kind? Ek stem heelhartig saam met jou dat die onderwys departement die groot probleem is.

Maar CAPS word in ook sekere privaat laerskole gevolg, so daardie privaat laerskole sit met dieselfde probleem. En nie alle kinders het die luukse van die ander opsie nie, wat ‘n totaal ander kurrikulum by ‘n privaatskool is.

Ek dink dat veral op laerskoolvlak, rus daar ongelukkig ‘n onus op die skoolhoof om sy onderwyskorps opdrag te gee om die betrokke inhoud nie aan te bied nie. Ek weet daar is laerskole wat reeds sulke goed doen. Hulle gee nie LO handboeke uit nie so die kinders sien nie eers die inhoud nie en natuurlik word daardie sensitiewe inhoud glad nie eers aangebied nie. Ongelukkig ekstra werk vir onnies want nou moet die werk wat kinders wel moet sien, afgerol word.

Die onbevoegde onderwys departement sal dit nie eers agterkom nie. Maar dan moet die skoolhoof ‘n besluit neem en sy korps moet hom/haar ondersteun.

Cornelia ·

Stem heeltemal saam!! Dit hoort nie in die skool hoegenaamd onderrig word nie. Geen sins nie!!! Beskerm ons kinders teen dit!!!

CK ·

Vandat hierdie nuwe LO vak in werking getree het – het die land se tienerswangerskappe dramaties toe geneem, en dan wonder ons hoekom. Mens prikkel nie ‘n kind se natuurlike naskuurigheid met sulke volwasse onderwerpe nie. Dis is uiters onvanpas. Ek kry die ouers van laerskool kinders geweldig jammer. Dis vir my totaal en al bog dat dit nou vir hulle geleer moet word.

Henk ·

Ouers is uiters naief as hulle dink 10 jariges weet niks van seks af nie. AS hulle so gelukkig is om dalk nog nie te weet nie, gaan hul vriende hulle gou inlig. Veral die ryk oukies in privaatskole – selfone – hulle het toegang tot als boeta. Jy het nie beheer nie. Hulle vee hul history uit nog voordat jy kan kyk. Leer jou kind al van jongs af reg dan het jy mos niks om oor bekommerd te wees nie? As jy ñ oop verhouding met jou kind het en hy of sy jou enigiets kan vra en met jou oor enigiets kan gesels waarom pla hierdie jou so?

RP ·

Stem 100% saam met jou, Henk. Mense is naief as hulle dink kinders weet nie reeds die goed nie.

Mooilees ·

Henk en RP, hulle weet dalk kernfeite, maar hulle weet nog nie “dat hulle hulle eie geslag mag kies” en mag besluit om te vra vir seks sodra hulle gereed voel, net solank niemand gedwing word of kan siek word nie. Hulle weet nog nie hoe om gesprekke met mekaar te voer oor waar en hoe hulle graag aan mekaar wil vat nie. Ek dink mense is naief as hulle dink hierdie is geslagsopvoeding.

Arrie ·

Die regering is die vyand van die volk…dit word al hoe meer duidelik in SA. Ongelukkig stem die volk vir ‘n regering.

Besorgde Ouer ·

Die tipe onderrig hoort nie in skole nie. Dit hoort nie in die laerskole nie, en ook nie ons Hoërskole nie. Dis boos, en ek stem volkome saam, ek bid elke dag dat daar ‘n uitweg kan wees dat ek my kinders uit hierdie bose sisteem kan kry…. Dis omdat kinders van God net stilbly en dit tipe boosheid aanvaar…..as ons nie vir ons kinders gaan opstaan en praat oor hierdie tipe onreinheid en sonde nie, wie gaan?

Paul ·

Doen so bietjie navorsing oor die “Coudenhove Kalergi Plan” …..en julle sal die antwoord kry!
Moderator – kom ons kyk hoe lank die skrywe staan!

Dis nou so ·

Suid afrika se nuwe besigheids opvoeding,kom kinders elke kind bring jou R….. per maand,matriek nie ‘n vereiste nie en jou ouers maak hulle dan groot of in meeste gevalle moet jy net aansoek doen vir die geld en niemand kyk ooit weer wat word van daardie kind nie. Opvoeding begin by die huis en onderwys departement moes net help kyk dat kinders aandag gee aan skoolwerk en goeie maniere toepas. ….Swak…..

Sanna ·

Kan daar nie ‘n diepte ondersoek gedoen word op die skrywers van hierdie boek nie? Mens kan nie die werk van pedofiele so vergemaklik sonder opsetlike voorbedagde rade nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.