Seminare oor skooldissipline en dissipline by die huis

skoolkinders.jpg

Foto: Argief.

Skole wat Fedsas se sogenaamde “waardegedrewe benadering vir skole” geïmplementeer het, het reeds baie minder dissiplinêre probleme as voorheen, het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het dié unieke projek in 2013 bekend gestel.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, het gesê swak dissipline bly een van die grootste uitdagings in die Suid-Afrikaanse onderwyssektor. “Reëls bied nie die oplossing nie, aangesien dit ekstern afgedwing word. Waardes kom van binne en het daarom ʼn veel meer bepalende impak op leerders se gedrag,” het hy verduidelik.

Fedsas bied binnekort weer seminare aan oor dié waardegedrewe benadering vir onderwysers en ouers om hulle weer op te skerp.

Die middagsessie vir onderwysers, Leef jy of oorleef jy? bied die nodige inspirasie om ʼn verskil te maak. Die aandsessie vir ouers, Verstaan jou kind en jou kind se behoeftes, fokus spesifiek op dissipline by die huis en verhoudinge wat ʼn verskil maak. Die aanbieder is die bekende spreker en skrywer, Johan Smith.

Skole en ouers wat nie die oorspronklike seminare bygewoon het nie, kan na video’s daarvan op Fedsas se YouTube-kanaal kyk.

Skole kan hul Fedsas- provinsiale bestuurder kontak vir meer besonderhede oor seminare in die onderskeie provinsies. Kontakbesonderhede vir elke provinsie is beskikbaar op Fedsas se webwerf.

Twee seminare word vanaf Augustus tot Oktober vanjaar in elke provinsie aangebied. Die sessies is nie beperk tot Fedsas-lidskole nie – enige belangstellende kan dit bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Loeis ·

Maar het hulle minder probleme as toe die agterstewes nog gebrand het wanneer dit nodig was?!

Hermien ·

Mens hoef nie altyd pak te gee nie, daar is baie ander maniere van dissiplineer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.